DA dien hofstukke in oor skole

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Unsplash)

Die DA het Dinsdag hofstukke by die Noord‑Gautengse hooggeregshof ingedien om te vra vir ʼn bevel wat pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verlede week dat staatskole weer moet sluit, as onregmatig, ongrondwetlik en nie bindend nie te laat verklaar.

Ramaphosa het aangekondig dat skole weer vier weke lank sal sluit in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit. Die bepalings daaroor is egter steeds nie in die Staatskoerant aangekondig nie.

“Die DA is dus van mening dat die aankondiging geen wetlike uitwerking het nie en omdat daar dus geen verpligting op hulle is om dit te doen nie, skole tegnies nie moes sluit nie.

“Die waarheid is dat die president se woord nie wet is nie; net die wet is wet.”

Volgens die DA beskryf bepalings wat in die Staatskoerant aangekondig word spesifieke magte, regte en verpligtinge en dit spesifiseer ook watter regulasies of direktiewe dit herroep of wysig. In teenstelling daarmee is ʼn aankondiging, soos gedoen deur Ramaphosa, nie daarop gemik om enige regte, verpligtinge of magte te omskryf nie. Die DA sê só ʼn aankondiging is gewoonlik ʼn politieke dokument wat ʼn sekere standpunt probeer regverdig of openbare mening probeer beïnvloed.

Die besluit om skole weer te sluit is uit talle oorde voor die deur van vakbonde gelê en is skerp gekritiseer. Die DA-leier, John Steenhuisen, het vroeër gesê Ramaphosa het die “knie voor die almagtige onderwysvakbonde gebuig”, terwyl Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê het kinders is vir radikale onderwysvakbonde se eise geoffer.

Talle studies het gewys dat kinders veilig kan terugkeer skool toe.

Die DA het Woensdag gesê Suid-Afrika is ʼn grondwetlike demokrasie en nie ʼn outoritêre staat nie. Die uitvoerende gesag mag dus nie deur dekreet regeer sonder dat behoorlike statutêre magte – deur ʼn aankondiging in die Staatskoerant – uitgeoefen word nie.

“Indien die hof bevind dat pres. Ramaphosa se aankondiging om skole te sluit sy eie of ʼn kabinetsbesluit was en dat dié besluit bindend is, het die DA gevra vir ʼn bevel dat die president se aankondiging onregmatig is en ter syde gestel moet word. Dit is omdat nie die president óf die kabinet die wetlike magte het om skole te sluit nie,” voer die DA aan.

Volgens die party kan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, ook nie aanvoer dat sy die besluit geneem het om skole te sluit nie, omdat die mediaverklaring waarin sy die stap verwelkom dit duidelik stel dat dit ʼn kabinetsbesluit was.

“Die DA hou vol dat die sluiting van skole ʼn oorhaastige en polities‑gedrewe besluit was. Dit was nie ʼn besluit wat in die beste belang van die akademiese vordering van leerders was nie.

“Die sluiting is verreweg die ondoeltreffendste strategie om die verspreiding van Covid-19 te voorkom en gaan vir jare ʼn verwoestende uitwerking hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

En die verbod op drank verkope is binne 1 uur na sy aankondiging gepubliseer???
Duidelik los die departement en presidensie die besluit vir beheerligaame en skole, en dan as iets verkeerd gaan kan hulle hul hande in onskuld was?
OF moet die vakbonde, soos hulle nou in KZN doen, die besluit met geweld afdwing?

4ntj13 ·

Noord-Gautengse Hooggeregshof? Ek dog alle werk daar staan stil!

marius ·

Doodreg . Die man se woord is nie wet nie . Sy vroulike heerser se woord is wel .

Yolandie ·

Bid jou aan dat vakbonde dreig om waaragtig die sambok op kinders wil lê wat na Privaat Skole gaan wat nie deur die tydperk gesluit is nie….want daar word nou gediskrimineer teen die staat skole. Hier kom groot moeilikheid sien ek.

Nic ·

dit is net jammer dat vakbonde die land regeer en die president soos n kind na hulle pype moet dans
dis hoekom ons land in so n toestand is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.