DA dien klag in oor Guptas se SEB-sertifikate

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die DA het gesê die party sal Maandag ʼn klag indien by Zodwa Ntuli, die kommissaris vir breë swart ekonomiese bemagtiging (BSEB), oor vermoedelik onregmatige sertifikate vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB), wat deur Gupta-ondernemings gebruik is om kontrakte met Eskom te bekom.

Dean MacPherson, DA-LP, het gesê die DA sal ook ondersteunende bewyse hiervoor inhandig.

Volgens MacPherson kan die Gupta-entiteite se aksies moontlik ook strafregtelike oortredings wees en moet derhalwe dringend ondersoek word.

Maroela Media het vroeër berig die DA het verlede week gesê die party het inligting ontvang wat daarop dui dat drie maatskappye wat aan die omstrede Gupta-familie behoort hul maatskappye se SEB-sertifikate onregmatig bekom het.

Die DA het die SEB-sertifikate van Tegeta Exploration, Optimum Coal Mining en Trillian Consulting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) bekom.

Gordon Mackay, DA-woordvoerder, het vroeër gesê Tegeta moes nie vir ʼn BSEB-sertifikaat gekwalifiseer het nie omdat dit die drumpel vir mikro-ondernemingstatus meer as dubbel oorskry met maatskappybates wat R11 miljard werd is.

Trillian kan volgens Mackay ook nie as ʼn mikro-onderneming geag word nie weens sy inkomstestroom wat byna ʼn halfmiljoen rand insluit wat Trillian van Eskom ontvang het, slegs enkele dae nadat die BSEB-sertifikaat uitgereik is.

Verder het die maatskappy volgens Mackay geen swart eienaarskap-komponent nie en het hiervoor slegs op die aandeelhouding van die Gupta-vennoot Salim Essa gesteun.

Mackay sê in Optimum en Tegeta se geval is die swart eienaarskap-syfers wat op die sertifikate weerspieël word “amper beslis verkeerd”. Daar is volgens hom geen bewyse dat Tegeta swart vroue-eienaarskap van 5% het nie.

Dié drie maatskappye het omvattend voordeel getrek uit saketransaksies met Eskom. “In Trillian se geval het dié saketransaksies sonder ʼn behoorlike kontrak plaasgevind,” het Mackay gesê.

Getuienis wat voor ʼn parlementêre ondersoek na Eskom gelewer is, het die kollig geplaas op grootskaalse onregmatige invloed wat oor die raad van die land se nasionale kragvoorsiener uitgeoefen is. Dit het daartoe gelei dat die bestuur kontrakte met maatskappye in die Guptas se sakeryk onderteken het. Dié sakeryk het in die afgelope paar weke begin verbrokkel nadat wetstoepassingsowerhede ʼn klopjag op die familie se huis uitgevoer het in dieselfde tyd dat voormalige pres. Jacob Zuma gedwing is om uit sy pos te bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alida ·

Hierdie ondersoeke moes al LANKAL gedoen gewees het. Waar kry ons nou die Guptas?

Alida ·

Is daar al vasgestel of hulle straler nog in SA is? Indien nie is hulle weg!!!

Johan Viljoen ·

Tipies die DA. Hoekom hoor ons nie van die plaasmoorde en hulle veroordeling daarvan nie. Nee, dit sal hulle potensiele stemme laat verloor.

Carl ·

@Johan Viljoen. Stem saam met jou. Die DA, le gereeld klagtes maar geen haan kraai daarna nie, eintlik is dit al waarvoor hulle goed is want na `n plaasmoord is hulle maar stil en kom glad nie op vir boere nie. Die DA het hulle klaar van hulle “witsteun” vervreem en kan maar gereed maak om na die komende verkiesing in die agter banke te gaan sit. Die EFF (offs) gaan die amptelike oposisie word.

zoom zoom ·

Die DA is net soos die anc en eff en blf. Hulle voel ‘n vy vir moord op enige blanke wat nog van ‘n WIT BOER. Het MM of Zille al besoek gedoen aan familie van plaas aanvalle. Nee het nie die guts om dit te doen . Wil net in die hof boer . Nie weer stem ek vir die da.

Alida ·

Stem vir wie jy wil. Elke saak word individueel aangespreek. Hierdie het niks met misdaad te doen nie. Mnr Cele sal die misdadigers se gal werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.