DA dien klagtes van korrupsie in teen ACDP

‘n Foto van die voedselbiljette met die ACDP se logo op. Foto verskaf deur die DA.

Die DA het klagtes van korrupsie teen die ACDP ingedien nadat voedselbiljette met die ACDP se logo daarop glo aan kiesers versprei is tydens vandag se belangwekkende tussenverkiesing in die Kaapse woonbuurt Bonteheuwel.

’n DA-stadsraadslid, JP Smith, het die klagte ingedien nadat die biljette glo saam met ACDP-plakkers aan kiesers uitgedeel is by die stempunt by die Modderdam Hoërskool in Bonteheuwel. Dit is een van sewe stempunte in die wyk.

Die OVK ondersoek die klagte. Die DA vra dat die ACDP uit die verkiesing gediskwalifiseer word weens omkopery van kiesers. Die ACDP kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Tydens die tussenverkiesing was dit uit die hoeveelheid plakkate en die hoeveelheid partywerkers duidelik dat die ACDP, om watter rede ook al, veel meer geld in hierdie verkiesing kon steek as gewoonlik in Kaapse tussenverkiesings.

Teen vanmiddag het dit voorgekom asof Theresa Thompson (DA) die wyk redelik gemaklik sou kon inpalm, maar met ’n veel kleiner aandeel in die stemme as die 81% wat die DA in 2016 behaal het. Dit is en bly egter moeilik om die presiese affiliasie van bruin kiesers in Kaapstad te peil.

Stemmery was fluks in die armer, dig bevolkte dele van die wyk (Bonteheuwel en Kalksteenfontein) waar daar baie werkloses is, en stadiger in die welvarende dele van die wyk (Charlesville, Montana en Montevideo) waar mense werk het en dus gewoonlik eers in die middag na vyf hul kruisies trek.

DA-bronne het aan Maroela Media gesê hulle sal tevrede wees met enigiets bo 60% van die stemme.

Die ANC en die EFF se veldtogte het gelyk asof dit platval in hierdie wyk – nommer 31 in die Kaapstadse metro.

Die uitslag van die tussenverkiesing word teen omtrent 22:00 verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Philip ·

Ek stem saam. JP Smith moet bedank want hy is betrokke by baie omstrede punte

Devill ·

Mense wat werkloos is en geen bydrae tot Suid Afrika of die ekonomie maak nie behoort nie te stem nie.

Phil ·

Ek se ontneem eerder mense wat in die tronk sit die reg om te stem.

Pro Porsie ·

Devill gaan dalk ‘n bietjie te ver en dit sal nooit gebeur nie, maar dink ‘n bietjie hieroor:
Net 13% van die bevolking betaal inkomstebelasting.
1% van die bevolking (die 480 000 wat meer as R750 000 per jaar verdien) betaal 61% van die totale inkomstebelasting.
Hoe regverdig is dit dat die 87% wat NIKS bydra behalwe deur bv BTW en die brandstofheffing 87% van die sê het oor hoe die belastinginkomste bestee word?
Dalk moet stemme proporsioneel tel tot hoeveel jy bydra. As jy niks betaal nie kry jy 1 stem. Die wat wel betaal kry ekstra stemme proporsioneel tot wat hulle betaal.

skande vir die DA ·

shame as die DA dit nou korrupsie noem dan maak dit mos nou alles reg wat die anc verkeerd doen!!!!
siestog vir hulle maar vir hulle sal ek nie eers kyk nie, hulle maak net vir hul self n skaam te lose party wat aandag soek…..

hulle kan hulself nie eers ordentlik verdedig nie.
net Praat Praat Praat en niks anders

Rugdraai op bondgenoot ·

Die DA maak aanmekaar foute. Nou draai hulle hulle rug op een van hulle twee bondgenote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.