DA dien kommentaar in teen US-taalbeleid

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Die DA sê hy het Sondag meer as 6 500 kommentare teen die nuwe konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch ingedien.

Leon Schreiber, ʼn DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, sê altesaam 6 586 kommentare is ingedien as deel van die petisie wat die DA drie weke gelede van stapel gestuur het in reaksie op berigte dat studente verbied is om selfs in private ruimtes op kampus Afrikaans te praat, asook die US-senaat se besluit om geen nuwe leermateriaal in Afrikaans beskikbaar te stel nie.

Schreiber sê die US se nuwe konsepbeleid sal Afrikaanse studente selfs verder uitsluit as die 2016-beleid, ingevolge waarvan die “onlangse vergrype gepleeg is”.

Hy sê volgens prof. Wim de Villiers, rektor van die US, word 17,8% van klasse steeds in parallelmedium aangebied.

“Die oorblywende 82,2% van klasse is dus óf eksklusief Engelsmedium, óf meestal in Engels en gebruik Afrikaans as ʼn byna nuttelose ‘opsommende’ versiering,” sê Schreiber.

Volgens hom steun die kommentare wat die DA ingedien het almal die party se voorgestelde wysigings aan die nuwe konsepbeleid, wat, onder andere, daarop aandring dat Afrikaans as ’n inheemse taal erken word, dat Afrikaans en Engels as gelyke onderrigtale bevestig word, dat geen student in enige situasie ontneem word van hul grondwetlike reg om in die taal van hul eie keuse te kommunikeer nie, dat die universiteit tegnologiese oplossings vir tolking en vertaling omarm, dat alle voorgraadse lesings in volwaardige parallelmedium aangebied word (dit wil sê afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels), en dat enige afwykings van die parallelmedium-beleid deur die volle senaat goedgekeur moet word.

Schreiber sê deur die DA se voorgestelde wysigings in werking te stel, kan die US-bestuur ophou om verskillende groepe studente teen mekaar af te speel in sy soeke daarna om uitvoering te gee aan die ANC se anti-Afrikaanse ideologie.

“Die DA se wysigings sal verseker dat nie ’n enkele Afrikaanssprekende óf Engelssprekende student op enige wyse uitgesluit word nie.”

Hy voeg by Afrikaans is die grootste taal in die Wes- en Noord-Kaap en om studente uit te sluit op grond van taal is ’n regstreekse ondermyning van ’n fundamentele mensereg waaroor die DA nie sal stilbly nie.

Die DA het reeds klagte by die Menseregtekommissie aanhangig gemaak oor die verbod op Afrikaans.

“Indien die US weereens die noodkrete vanuit die Afrikaanse gemeenskap minag deur die duisende kommentare téén die taalbeleid blindelings te ignoreer, sal die DA alle moontlike oplossings – insluitend massa-aksie, regsaksie en ander vorme van mobilisering – gebruik om seker te maak dat die uitsluiting van Afrikaanse studente tot ʼn einde kom.”

Die DA se volledige kommentaar is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rein ·

Ek kry diegene bitter jammer wat fisiese en materiële insette ter bevordering van Afrikaans aan US gemaak het.

quartus ·

Die beste oplossing sal wees om eenvoudig nie meer ons kindertjies na US te stuur nie. Daar is ander afrikaansmedium universiteite in SA

akkedismis ·

Hoe los ons ontkenning van AFRIKAANS se belangrikheid vir WESKAAPSE AFR. FAMILIE op. 1 Raak ontslae van Klein BELANGRIKE W. de Villiers ! 2. ALLE ALLUMINI moet OPHOU SKENKINGS aan die SU te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.