DA dien sespuntplan in om Afrikaans by US te red

Die Universiteit Stellenbosh. (Argieffoto: US)

Die huidige konsepbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) is fundamenteel oneerlik en irrasioneel, omdat dit probeer om die Afrikaanse gemeenskap te paai terwyl dit die status van Afrikaans in klaskamers, koshuise en op kampus selfs verder aftakel.

Só het die DA gesê nadat hy verlede week kommentaar op die tweede konsepweergawe van die US se taalbeleid ingedien het. Die party het ʼn sespuntplan as deel van die kommentaar ingedien om Afrikaans op Stellenbosch te red.

Volgens Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, eis die DA se sespuntplan dat:

  • die beleid uitdruklik vermeld dat Afrikaans gelyke aansien aan die US geniet;
  • parallelmediumlesings met toegewyde Afrikaanse klasse die voorkeuropsie vir voorgraadse lesings moet wees;
  • tolkdienste in ’n gelyke mate aan Afrikaanse en Engelse studente beskikbaar gemaak moet word;
  • Afrikaans en Engels op gelyke voet geplaas moet word in dubbelmediumlesings;
  • geen persoon onder enige omstandighede verbied mag word om sy of haar eie taal te gebruik nie; en
  • die US moet onderneem om strategiese fondsinsameling te doen om die Afrikaanse aanbod doelgerig te verhoog.

“Weens volgehoue druk deur die DA en in ’n oneerlike poging om Afrikaanse studente om die bos te lei, erken die taalbeleid nou dat ‘Afrikaans ’n internasionaal gerekende taal is wat oor verskeie dissiplines heen ’n aansienlike akademiese repertoire ontwikkel het.’ Die US gee ook nou voor dat hulle ‘die voortgesette gebruik van Afrikaans as ’n wetenskaplike taal deur die hele universiteit’ ondersteun,” sê Schreiber.

“Die oneerlikheid van hierdie stellings word egter ontbloot deur die feit dat die operasionele aspekte van die nuwe taalbeleid selfs minder ruimte bied vir Afrikaans as wat die geval was met die 2016 taalbeleid, waaronder studente selfs verbied is om Afrikaans te praat in hul eie koshuiskamers. Afrikaanse parallelmediumklasse word steeds nie geprioritiseer nie, Afrikaanse studente sal steeds slegs geregtig wees op ‘opsommings’ tydens andersins eentalige Engelse lesings, en die US sal op diskriminerende wyse steeds nie tolkdienste in dieselfde mate aan Afrikaanse as aan Engelse studente verskaf nie.”

Schreiber sê die konsepbeleid soos wat dit tans daar uit sien is, is dus irrasioneel omdat dit een ding sê maar ’n ander ding doen. “Die DA – tesame met duisende van ons ondersteuners wat petisies onderteken het en ook direk kommentaar ingedien het – eis dat die beleid aangepas word om aan Afrikaans gelyke status te gee in alle aspekte van die universiteitslewe.”

“Sedert US-rektor Wim de Villiers se vernietigende aanslag op Afrikaans meer as vyf jaar gelede begin het, het die Afrikaanse gemeenskap nog altyd net gevra vir billikheid en regverdigheid. Die DA se sespunt-reddingsplan is in alle opsigte redelikerwys uitvoerbaar en sal op ’n billike wyse verseker dat beide Afrikaanse en Engelse studente op gelyke voet ingesluit word by alle aspekte van die universiteitslewe,” sê Schreiber.

“Die DA se plan bied aan De Villiers een laaste geleentheid om van koers te verander en te keer dat Afrikaans heeltemal uitgewis word op Stellenbosch. Sou hy steeds weier om die aanslag op Afrikaans stop te sit, kan hy gerus wees dat die DA met selfs groter oorgawe gaan veg vir geregtigheid vir die miljoene Afrikaanssprekendes wat toegang tot hoër onderwys ontneem word deur die US se oneerlike optrede.”

Die tweede konsepweergawe van sy taalbeleid is reeds uit verskeie oorde opnuut gekap. Maroela Media het vroeër berig die Afrikaanse Taalraad (ATR) sê daar is grondliggende leemtes in die beleid en dit is in wese “rigtingloos”. Dít, meen kenners, skep juis ruimte vir die ondermyning van Afrikaans.

Die burgerregteorganisasie het gesê die konseptaalbeleid “bied weinig vir toekoms van Afrikaans”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hardekwas ·

Die da moet eerder n sespuntplan saamstel om hulself te red.

JohanR ·

Hardekwas – die DA probeer darem! As jy nie in die Wes-Kaap bly nie is ek seker jy sal gou trek as die Wes-Kaap onafhanklik word? Dink net ‘n stuk van Suid Afrika vry van die ANC!

Nici ·

Dis baie nice maar dit gaan nie werk nie. US moes nooit enige iets anders as Afrikaans gewees het in die lig van die feit dat die Wes Kaap reeds twee Engelse universiteite het. Wat okal hul doen, Afikaners sal altyd 2de klas burgers wees by US behalwe as hul teruggaan na slegs Afrikaans. Hulle sal dit nooit doen tensy die Wes Kaap onafhanklik word nie. As dit sou gebeur, gaan die DA regeer en hul transgender agenda op ouers afdwing. Privaat, Afrikaans en Christelik is al opsie wat sal werk.

gatgogga ·

Ek dink die DA sal nie kan regmaak wat FW verbrou het nie.

Blikkies ·

As Wim eendag oud en afgeleef is sal sy nalatenskap slegs onthou word as die siel wat sy moedertaal veraai het en geen ander positiewe hoogtes in sy loopbaan nie. Hy sal geen erkenning vir sy dade kry nie.

annie ·

Dit is nie net die rektor nie, maar ook die Engelse voorsitter van die raad, voorheen lid van die Grondwethof, wat tot inkeer moet kom… Die keuse van laasgenoemde het reeds golwe gemaak en die probleempie is onder die mat gevee. Wie het aanvanklik prof Wim aanbeveel as rektor en waarom juis hy? Sekerlik het hy vir ‘n onderhoud opgedaag en moes toe ‘n paar vrae antwoord?

Hennie J ·

Vir my vreemd dat die da nou ontpop as n Afrikaanse taalbul, seker n poging om hulle moesie-beeld af te skud. Vir my nog vreemder en teleurstellend dat die VF+, afriforum ens. nie tot hierdie stryd toegetree het nie.

gatgogga ·

Hennie, die DA het homself gereinig van die ampsdraers wat die party teen Afrikaanssprekendes wou draai. Kyk tog wat het in die DA in die laaste jaar gebeur, sedert John Steenhuisen oorgevat het. Die DA probeer regmaak wat FW verbrou het.
Ons het onsself uitverkoop deur vas te klou aan die ou Nasionale Party, sonder om te probeer dink wat met ons gaan gebeur. Nou is ons skynbaar weer net so hardkoppig besig om nie vir die DA ‘n kans te wil gee nie. Apartheid is vir altyd verby – ‘n middeweg moet gevind word, as ons wittes dink ons kan in Afrika oorleef.
Hier in die Wes-kaap, moet ons die DA ondersteun asseblief – anders kry ons ook ANC regerings soos die res van die land wat nie kan vrede maak met die werklikheid nie.
Ek glo wel dat ons eie onafhanklike staat die antwoord sou wees, maar daar is net nie die entoesiasme wat nodig is nie, en ons sal in elk geval nooit saamstaan nie.

Hannes ·

Raak ontslae van De Villiers en die raadsvoorsitter – soos in, verban hulle van enige opvoedkundige instellings.

Sanet ·

Hannes stem 100% saam met jou, die enigste oplossing in hierdie geval is om onstslae te raak van de Villiers en sy trawante by Stellenbosch.

Delarey ·

Uitstekende kommentare maar veral joune Nici.

Dieselfde proses gaan nou begin uitspeel by Hoërskool DF Malan.

Die arme goedgelowige bestuursliggaam (BL) gebruik ‘n eenheid van transformasie van die Universiteit van Stellenbosch, maar hou vol hulle transformeer nie maar verander net die naam.

Dokumentasie is reeds deurspek van linkse ideologie, maar die BL se oë is bottoe. Terwyl besorgde oues die deur probeer toehou vir die wolf pluk die misleide BL en ouergemeenskap dit van binne oop.

Ondersteun asb. ons drukgroep by faceboek blad Trots DF Malan. Follow en teken ook die petisie.

Uiteindelik kry ons seker maar wat ons verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.