DA eis antwoorde oor Denel se mislukte Tsjad-ooreenkoms

Die DA sê hy gaan ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (bekend as die PAIA-wet) indien om toegang te kry tot die voorlopige ondersoekdokumente wat verband hou met ʼn Gupta-gekoppelde ooreenkoms wat die wapenvervaardiger Denel met Tsjad aangegaan het.

Die DA sê in ʼn verklaring luidens berigte het Denel versuim om R250 miljoen se weermagvoertuie aan die regering van Tsjad te verskaf, ten spyte daarvan dat hy amper twee jaar gelede al ʼn deposito van R100 miljoen daarvoor geneem het. Tsjad het intussen die kontrak gekanselleer en eis sy deposito terug van die maatskappy wat reeds in ʼn benarde finansiële posisie is.

Die DA voer aan die transaksie is besig om Suid-Afrika se verhouding met Tsjad te versuur.

“Dit is in die beste belang van die Suid-Afrikaanse publiek dat die bevindings oor beleërde staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) bekend gemaak word. Dit gaan verseker dat enige van die verdoemende bevindings wat verskeie senior amptenare en politici uitwys, nie onder die mat gevee word nie,” het Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, Maandag in ʼn verklaring gesê.

Volgens Mazzone is Denel net een van verskeie SBO’s wat op hul knieë gedwing is weens jarelange ANC-wanbestuur en korrupsie. “ʼn Reusebedrag van die publiek se geld is op SBO’s gemors, en tog kry belastingbetalers baie min hiervoor terug.”

Die DA sê deur die PAIA-aansoek wil hy dit duidelik aan sukkelende staatsinstellings maak dat hy geen toegewings oor deursigtigheid en verantwoordbaarheid gaan maak nie en dat korrupte kaders en amptenare geen beskerming mag geniet nie.

“Die DA gaan ook parlementêre vrae aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, stel om uit te vind of daar ander, soortgelyke kontrakte is wat Denel ook nie kan eerbiedig nie.”

Mazzone het gesê die voortgesette misbruik van SBO’s vir politieke vooruitgang moet stopgesit word en dat diegene wat aan enige oortredings skuldig bevind word, ten volle verantwoordelik gehou en vervolg moet word.

City Press het die naweek berig Tsjad het 40 weermag-Casspirs by Denel gekoop, maar die maatskappy kon dit nie lewer nie omdat amptenare gekibbel het oor aan wie die winsgewende intellektuele eiendomsregte vir die bou van die voertuie behoort. Dit is volgens die koerant gratis aan die omstrede Gupta-familie gegee.

Die wapenvervaardiger sukkel die afgelope paar maande om bloot net sy werkers te betaal.

Volgens City Press het Denel gesê sy voorlopige bevindings dui daarop dat die kontrak met Tsjad onwettig aangegaan is. Tugstappe staar gevolglik sommige werkers in die gesig, terwyl ʼn strafregtelike aanklag ook aanhangig gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

humor ·

Sjoe maar die D A is erg aktief en duidelik op hoogte van politieke, landsake. Wonder of onse VF + nog aan parlementeresittings deelneem.

Gert ·

Anders as die VF+, ondersteun die DA BEE, en dis wat al die probleme in Denel veroorsaak het. Hoe ondersteun iemand ‘n sekere beleid, en kla dan oor die gevolge?

Daniel ·

Die Da is deesdae besiger as Afriforum, alhoewel nie so suksesvol nie.

Louw van Niekerk ·

“Intellektuele eiendomsregte” vir ‘n Casspir? Nou verstaan ek nie. Casspir is ‘n vermenging van SAP en CSIR wat in die 80’s saam die voetuig ontwerp het.

chrisjan ·

Ek wonder hoekom is die DA so stil waar dit kom by die eertydse Minister wat al ons olie reserwes teen ‘n verlies verkoop het.Waarom roer hulle nie daai saak aan nie??

Daniel ·

Daar is baie dinge waaroor die die DA liewer wil swyg, soos bv DA en ANC se besluit dat die AA wetgewing baie strenger moet wees. Dit is die rede vir hul stem verliese in die verkiesing.

Dries du Toit ·

Net sodra ons dink ons het als gehoor kom daar net meer walglike dinge op die lappe

sweis ·

Die DA soek altyd antwoorde waneer vra hulle vrae oor hoekom witmense nog steeds teen gediskrimineer word dmv wetgewing?

Petrus ·

Na 25 jaar moes witmense al plan gemaak het om die wetgewing en diskriminasie te hanteer. Slegte nuus, oor 25 jaar gaan daar nog steeds wetgewing wees.

CHAPPIES ·

Ag,kry tog ñ eie lewe en steek hand in eie boesem,as om heeltyd te wil sannik, oor die DA !!

Kobus ·

Denel het waarskynlik van ander patentregte ook ontslae geraak. Natuurlik het iemand by Denel nou ‘n vet bankbalans. Hoop alles kom nou na vore.

Dis Nou ·

Iemand gaan aan die pen ry? Wanneer is dit die Guptas se beurte?

Dries ·

Zuma en sy trawante sal seker maak die guptas kom niks oor nie hulle weet te veel van die ANC net soos watson

LoodKurkprop ·

.
.
Betaal asseblief die R100 000 000 .00 terug met rente vir elke jaar…hou op om mense te bevark…julle is nie n klomp hottentotsgotte nie…
.
.

Ditsem ·

Eish the problem is one and the answer is none! Wag wag stel nog n kommisie saam wat nog miljoene belasting betalers se geld kos om nog regerings amptenare se sakke vol geld te maak.

Sarel ·

Snaaks dat vrae altyd lank na die tyd gevra word nadat skuldiges nie meer dasr is nie. So hoekom?Buitelandse mark sal nou gesluit word vir Denel want verpligtinge word nie nagekom nie.

Jimmy ·

Nou weet ons waarom Denel in die moeilikheid is. Denel se reputasie is zero en behoort gesluit te word. ANC kaders het die plek vernietig.

Kerneels ·

Maar net nog ‘n mislukte SOB. Ek onthou ‘n Rapportberig vroeer in die jaar van oud-Denel ingeneurs wat uit gewyk het midde-ooste toe en nou flink besigheid daar doen – met hulle eie ontwerpe waarvoor Denel hulle nie wou vergoed het nie…

Tiaan ·

Werksetiek het in Suid Afrika tot so ‘n mate afgeneem dat verpligtinge nie nagekom word nie aangesien geen verantwoording meer volhou word nie, veral wanneer die regering en amptenare betrek word. Die DA en VF+ kan onmoontlik al die vure doodslaan maar een opposisie is beter as geen opposisie.

Swannie ·

Die DA kan nie eens uitvind of die huis waarin Moesie Malmanie (sic) bly aan hom behoort en of dit `n huurhuis is nie en nou wil hulle hul neuse in Denel se sake druk ?

Gerda ·

Ag tog…. “tugstappe”!!!
Wat n mors van tyd. Solank as wat daar nie hofsake geopen word en n paar oranje pakke uitgedeel word nie, lag hierdie skelms vir almal in hierdie land. Die anc plunder voort en almal word gewaarsku, verskuif of ambassadeurs.
Kry tog tande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.