DA eis antwoorde oor SA se ‘geheime olie-ooreenkoms’ met Suid-Soedan

(Argieffoto)

Die DA sê ondanks ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia), asook verskeie e-posse en parlementêre vrae, het Suid-Afrikaners steeds nie duidelikheid oor wat presies vervat word in die sogenaamde Exploration and Production Sharing Agreement met Suid-Soedan nie. Die minister van energie, Jeff Radebe, het die omstrede ooreenkoms ʼn skamele twee dae voor die algemene verkiesing vroeër vanjaar onderteken.

“Wat ons wél weet, is die volgende: Min. Radebe het op 6 Mei vanjaar na Suid-Soedan gevlieg om die ooreenkoms te onderteken en het die komende verkiesing as rede vir die dringendheid aangevoer. Die inwerkingstellingsagent uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt is die Strategiese Brandstoffonds – ʼn staatsbeheerde entiteit met ʼn twyfelagtige geskiedenis wat betref finansiële bestuur en die beheer van strategiese bates, en meer spesifiek, Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes,” het Kevin Mileham, die DA se woordvoerder van minerale hulpbronne en energie, Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

“Die sogenaamde fasiliteerder was ʼn Suid-Soedannese maatskappy genaamd Centurion Law Group, wat deur ene Njock Ajuk Eyong, ook bekend as NJ Ayuk én Njoy Ayuk Eyong, bestuur word. Hy is na bewering ʼn veroordeelde bedrieër in die VSA. Hulle is glo naastenby US$20 miljoen (R305 miljoen) vir hul dienste betaal.”

Mileham het gesê Blok 2, die gebied wat by die ooreenkoms betrek word, is tydens die Soedannese burgeroorlog deur Total laat vaar en hy het sedertdien nog geen poging aangewend om dit terug te kry nie. Daar was tot dusver ook geen klinkklare bewyse van die reserwes in Blok 2 nie en miljoene rande sal nog aan prospekteerwerk en die ontwikkeling van oliereserwes – indien daar enige is – bestee moet word.

Volgens Mileham kan die prospekteerwerk en ontwikkeling van die blok nagenoeg US$1 miljard (sowat R15 miljard) beloop. “Dit is boonop nie ʼn korttermynprojek nie en dit gaan nog minstens 10 jaar duur voordat Suid-Afrikaners ʼn opbrengs op hulle belegging sien, indien hulle óóit een sien.”

Die oorlede adjunkminister van energie, Bavelile Hlongwa, het die departement voor haar dood tot deursigtigheid aan die parlement verbind, het Mileham gesê. “Ongelukkig het die departement nou eerder verduistering en waninligting gekies.

“Die DA eis dat min. Gwede Mantashe die land in sy vertroue neem en die ooreenkoms met Suid-Soedan bekend maak. Ons moet weet waartoe ons verbind is en hoekom dié belegging ʼn beter ooreenkoms is as om te belê in prospektering, eksplorasie en die ontwikkeling van ons plaaslike olie- en gashulpbronne.”

Maroela Media het vroeër berig Mantashe het gesê Suid-Soedan is ʼn noemenswaardige olieprodusent met geraamde reserwes van 3,5 miljard vaatjies ruolie. Dit het ook drie biljoen (“trillion”) kubieke voet natuurlike gas in sy geraamde reserwes. Die land se reserwes is die derde grootste op die Afrika-vasteland, naas Nigerië en Angola.

Suid-Soedan word deur ander lande omring en maak staat op ʼn pypleiding deur Soedan om sy olie na die mark te neem. Die gesamentlike beleggingsprojek tussen Suid-Afrika en Suid-Soedan soek dus na ʼn ekstra uitvoerroete wat olievoorraad na markte, ook Suid-Afrika, kan neem.

Die projek is verlede jaar van stapel gestuur ná ʼn uitnodiging van Suid-Soedan om deel te neem aan sy olie- en gasbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Wat het geword van die sg Suid-Afrikaanse olieveld waarvan hulle enkele jare gelede so ‘n ophef van gemaak het? Daar was mos so iets in die nuus?

skurweberg ·

Alles wat deur die regering gedoen word, word nou met agterdog beheen. Wat se fiasko!!! en sal baie, baie lank neem om reggestel te word, indien ooit. Hulle het hulle eie nes bevuil.

George ·

Met die olie geld kan musi sy huur betaal by sy huis en sy kar hahahahahaha

Arno Scheepers ·

Geen wonder jeff radebe is pelle met die ou nie. Birds of a feather flock together.

aj ·

Wat wil die ANC oor 20 iaar met olie afkomstig uit Suid Soedan, maak? Teen daardie tyd loop voertuie op elektrisiteit?

Net nog ‘n ‘fake’ projek wat as rookskerm dien om die staatskas te plunder … soos die Vrede melkprojek, die onpas diesel lokomotiewe en vele ander!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.