DA eis Motsoeneng se kop

Hlaudi Motsoeneng tydens die mediakonferensie in Johannesburg (19 April 2017). Foto: ANA

Hlaudi Motsoeneng se perskonferensie is gronde dat die SAUK hom dadelik kan afdank, aangesien hy die openbare uitsaaier se gedragskode oortree het, het die DA Woensdag gesê.

Dit volg nadat Motsoeneng, bygestaan deur sy ondersteuners, Woensdag in sy persoonlike kapasiteit ʼn maratonperskonferensie in Johannesburg gehou het waar hy onderneem om die dissiplinêre verhoor teen hom te “beveg” en te “wen”.

Motsoeneng is by die openbare uitsaaier vervang ná ʼn verdoemende parlementêre ad hoc-komiteeverslag wat bevind het dat die vorige raad die SAUK wanbestuur het, wat tot die verlies van honderde miljoene rand gelei het. Die verslag is gevolg deur ʼn reeks hofsake, insluitend ʼn beslissing in 2015 deur die hooggeregshof dat Motsoeneng se aanstelling as uitvoerende bedryfsbeampte onwettig was.

Die SAUK het homself intussen van Motsoeneng se uitsprake tydens die mediakonferensie gedistansieer.

Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, het in ʼn verklaring gesê die tussentydse raad moet nou sonder versuim Motsoeneng se indiensmening kanselleer en die SAUK bevry van die man wat verantwoordelik is van die “diepliggende institusionele verrotting” by die openbare uitsaaier.

“Om ʼn perskonferensie as ʼn werknemer van die SAUK te hou, sonder toestemming van die SAUK of sy bestuur, is ʼn doelbewuste poging om die SAUK te ondermyn en om negatiewe beriggewing uit te lok van die verskeie pogings wat aangewend word om die SAUK in die regte rigting te kry. Dit kan nie ongestraf bly nie,” het Van Damme gesê.

“Motsoeneng word steeds verbind tot die gedragskode en die verskeie reëls en regulasies terwyl hy wag vir sy dissiplinêre verhoor. Volgens die SAUK se dissiplinêre kode is wangedrag gronde vir onmiddellike afdanking indien ʼn werknemer van die openbare uitsaaier doelbewus negatiewe beriggewing van die SAUK in die media veroorsaak.”

Alhoewel die Wes-Kaapse hooggeregshof beslis het dat Motsoeneng nie ʼn amp by die SAUK mag beklee hangende die dissiplinêre stappe en/of die openbare beskermer se verslag tersyde gestel is nie, is hy nie afgedank nie.

Hy het Woensdag erken hy is steeds ʼn werknemer van die SAUK, alhoewel hy verbied word om die perseel te betree. Van Damme het gesê hy bly dus ʼn werknemer “sonder portefeuljte” en ontvang ʼn maandelikse salaris van R350 000 om by die huis te sit.

“Vorige rade het versuim om sterk teen Motsoeneng op te tree. Dit is tyd vir die SAUK se tussentydse raad om nou hul tande te wys en hul toewyding om die openbare uitsaaier reg te ruk, deur Motsoeneng af te dank,” het sy gesê.

Die SAUK het homself Woensdag van Motsoeneng se omstrede uitlatings, dat die tussentydse raad geen geloofwaardigheid het nie, gedistansieer. Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, het gesê die openbare uitsaaier gaan nie ʼn openbare gesprek met Motsoeneng aanknoop nie. “Die raad sal nie deur die media met hom kommunikeer nie en gaan dus nie reageer nie. Die raad sal direk met hom kommunikeer as ʼn werknemer. Die raad het ses maande om dinge by die SAUK reg te ruk, insluitend die finansies en dat diensverskaffers betaal moet word.”

Motsoeneng het tydens die perskonferensie ook sy volle ondersteuning toegesê aan Nkosazana Dlamini-Zuma, wat haar oog het op die presidensie. Hy het bygevoeg hy sou self die presidentskap kon wen as hy sou besluit om homself verkiesbaar te stel.

“Baie mense is lief vir my. Ek kan 20 miljoen mense mobiliseer. Die meerderheid van mense, waar ek ook al gaan, sê ek moet iewers lei. Aan diegene wat wil hê ek moet die president word, sê ek dat dit nie ʼn geheim is nie dat ek ʼn vrou [vir die presidensie] ondersteun. Ek sal my nie nou vir die presidensie verkiesbaar maak nie. Ek fokus nou op die SAUK en almal wat my hulp nodig het,” het Motsoeneng verklaar.

Lees alle vorige berigte oor Hlaudi Motsoeneng op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Michael ·

Soos malema hou die media hierdie snaakse man in die kollig anders het niemand meer aan hom gedink nie.

Roofdiere ·

In plaas daarvan om die land se belange met respek te hanteer en te bevorder, sit die mense (politiesie) soos roofdiere en kyk wie kan hulle volgende hof toe sleep

Chris ·

Mooi man. Ek sien die knaap het bietjie pluk in hom. Hy het ambisie en sien groot dinge vir homself. Ek het ‘n voorstel vir hom waar hy kan begin lei of oefening. Hy het eintlik drie keuses, Hy kan die skepe, beeste of bokke op iemand sê plaas uit die kraak lei om te gaan wei. Eerlike joppie vir die man. Regverdig ook sy kwalifikasies.

Blits ·

John, ek kan jou antwoord op di een maar maroela sal ongelukkig dit nie plaas nie omdat dit kras taal insluit, maar ek kan n alternatief gee.
malema, hlaudi en die zumas( die hoogste vergelyking)

HFC ·

Hierdie man se kop het beslis nie skroewe los nie maar ‘n hele paar skroewe verloor.

Skim ·

Wat net vir my vreemd is is dat die DA sy kop moet eis? Na alles wat hy aangevang het moet sy werkgewers hom afdank, hoe op aarde klou hierdie mense so vas .. kry miljoene, jaag aan, . kry nog miljoene en jy kry hulle net nie van hulle troontjies af nie. Hy gaan ‘n RYK MAN daar uitstap, met geen kwalifikasies en GEEN PRESTASIE by die SAUK nie. Sy arrogansie is verstommend, hy praat soos ‘n man wie se varkies nie almal op hok is nie.

Allan ·

So waar, jou is ‘n ou ramkat!

My filosofie is: “Arrogansie onderdruk intelligensie/IK”

Asjas ·

Oh pleeeeeze!! Net soos onse dubbel-kop President, die EFF nar (Malema) is hierdie man net so ‘untouchable’ soos die ander. Ja, arrogant is nie ‘n woord nie. Dikvellig. Alles apartheid se skuld.

zahn ·

Jammer mense, ek wil iets kwytraak, maar om verstaanbare redes sal MM dit nie publiseer nie.

My bydra ·

Hyt vergeet om te se:” euyes when I left there was money, there was eighthunderd million rand…and I took it with me when I left” dis wat hy moes gese het hyt n sinnetjie uitgelaat daarso. Ek se maar net.

cc ·

Met so ‘n gesig, wie gaan vir hom stem ?
Hy is heeltemaal die klits kwyt al kry hy hoeveel geld

Griki ·

Die SAUK sal heelwat meer geld hê om sy skuldeisers te betaal as Motsoening einde ten laaste in die pad gesteek word – R350000.00 p.m. om presies te wees.

Wonder net ·

Hulle speel vir tyd, hoe langer hy daar sit, hoe meer geld kry hy. Slim en geslepe!

Emma ·

Weer ń tipiese voorbeeld waar eerste wêreldstandaarde met dìé van derde wêreldstandaarde bots! Ons sal hul arrogansie nooit verstaan nie…maar as jy dit het , het jy vele aanhangers soos hierdie uitvaagsel weereens bewys het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.