DA eis om ministers se Nkandla-briewe te sien

Mmusi Maimane. Foto: Facebook

Mmusi Maimane. Foto: Facebook

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Vrydag gesê dié party dring daarop aan om die briewe te sien waarin pres. Jacob Zuma glo die ministers berispe wat by die Nkandla-opgraderingsprojek betrokke was.

Die presidensie het vroeër Vrydag gesê tugbriewe oor die opgraderings aan Nkandla, is gestuur aan Thulas Nxesi, minister van openbare werke, Geoff Doidge, Nxesi se voorganger en nou Suid-Afrika se hoë kommissaris in Sri Lanka, en Nathi Mthethwa, voormalige minister van polisie en huidige minister van kuns en kultuur.

“Ons is uit die veld geslaan dat Nathi Nhleko, minister van polisie wat die verontskuldigende verslag geskryf het om die openbare beskermer te ondermyn, nie ook op hierdie lys is nie. Ons eis ʼn dringende verduideliking van die president hoekom Nhleko nie ʼn brief ontvang het nie,” het Maimane in ʼn verklaring gesê.

Maimane het gesê die briewe, wat reeds aan die ministers gestuur is, moet aan die parlement voorgelê en openbaar gemaak word, sodat Suid-Afrikaners kan bepaal of die teregwysing opreg en gepas is vir die onwettige optrede van die ministers.

“Ons is net so skepties oor die president se besluit om ʼn interdepartementele komitee op die been te bring om die 2003 kabinetsbeleid te hersien,” het Maimane gesê. “Dit moet in die parlement gedoen word sodat die proses deursigtig kan wees en oop vir openbare ondersoek. Hierdie geheimhouding wat kenmerkend van Jacob Zuma se presidentskap geword het, moet tot ʼn einde kom.”

Maimane het gesê Zuma se verontagsaming van die Grondwet kan nie onder die mat ingevee word om hom vernedering of verlies aan ondersteuners te spaar nie. “Ons mense se geld is gesteel en ons verdien om te weet dat daar volledig en op gepaste wyse by die konstitusionele hof se uitspraak gehou is.”

Maimane het die verklaring uitgereik op die vooraand van die DA se manifes-bekendstelling wat Saterdag by die Rand-stadion in Johannesburg plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Emile ·

Hier kom straf uitskryfwerk of ambassadeursposte vir genoemde ministers.

Cherokee ·

Dit is presies hoe ek ook daaroor voel. Wat beteken berispe? Is dit reg vertaal? Is dit tereggewys? Berispe klink soos… hehe.. jy moet nie weer nie, hoor!

droefpoef ·

wie gaan die president berispe? die geld is in sy huis ingeploeg onder sy toesig en met sy seen. hy is mos n Zulu so dit behoort dan goodwill zweletini se plig the were. GEE DIE GELD TERUG.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.