DA eis Opod-ondersoek oor Phahlane

Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Foto: SAPD

Lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris. Foto: SAPD

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag gesê hy is in besit van ʼn volledige forensiese verslag wat deur CPN Forensic and Accounting Services opgestel het oor bewerings deur die polisievakbond Popcru van korrupsie in die polisie se forensiesedienste-eenheid.

Die forensiese dienste was in daardie stadium onder leiding van genl. Khomotso Phahlane, die huidige waarnemende nasionale polisiekommissaris.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het gesê die party is van voornemens om die volledige verslag aan die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) te oorhandig en die organisasie te versoek dat hul bestaande ondersoek Phahlane se hele loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal insluit.

“Ons dring daarop aan dat, wanneer hierdie verslag deur die portefeuljekomitee van polisie bespreek word, dat Phahlane geroep sal word om verantwoording te doen oor hierdie bewerings,” het Mbhele bygevoeg. “Die komitee moet ook bepaal of daar voldoen is aan die aanbevelings in die verslag.”

Mbhele het gesê dit is verdoemend dat president Jacob Zuma en die minister van polisie, Nathi Nhleko, nie bekwaam is om ʼn behoorlike aanstelling in die senior leierskap van die polisie te doen nie. “Hulle stel duisende Suid-Afrikaners teleur wat jaarliks slagoffers van misdaad word. Daarom is die DA meer as ooit vasbeslote om die verrotting in die SAPD uit te roei en seker te maak dat ons die beste span ooit het wat misdaad beveg.”

Volgens die verslag is daar ʼn bykomende betaling van bykans R500 000 aan Crimetech, dieselfde maatskappy wat die klankstelsel in Phahlane se luukse woning in Pretoria geïnstalleer het. Die verslag dui onder andere ook op onreëlmatige aanstellings; ʼn verjaarsdagpartytjie vir Phahlane in 2009 onder die voorwendsel dat dit ʼn polisiewerkswinkel was; en finansiële dokumente wat nie behoorlik op datum gehou is nie.

Die verslag het onder andere aanbeveel dat ʼn gedetailleerde oudit gedoen moet word en BTW-onreëlmatighede moet by die SAID aangemeld word. Moontlike samespanning tussen die maatskappye Kriminalistik en Crimetech Labs moet ook by die Nasionale Tesourie aangemeld word vir verdere ondersoek.

Brig. Sally de Beer, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê Phahlane het op 1 Desember ʼn perskonferensie gehou waar die uitslag van ʼn onafhanklike forensiese ondersoek deur CPN vrygestel en verwelkom is.

Phahlane het in daardie stadium gesê die bewerings is alles vervat in ʼn brief gedateer 25 Junie 2012 wat Popcru aan genl. Riah Phiyega gestuur het, wat in daardie stadium die nasionale polisiekommissaris was. Phahlane het op 10 September 2012 op die bewerings reageer en CPN is op 23 Maart 2013 aangestel om die bewerings te ondersoek.

Volgens Phahlane is die CPN-verslag op 23 April 2014 aan die SAPD beskikbaar gemaak. “Ek het egter eers op 13 April 2015 met genl. Phiyega vergader waar sy my in kennis gestel het van die uitslag van die verslag,” het Phahlane verduidelik. ʼn Afskrif van die verslag is op 30 April 2015 aan Popcru gestuur.

“Die uitslag van die bewerings is nooit deur Phiyega bekend gemaak nie,” het hy bygevoeg. Volgens hom was daar vir meeste van die bewerings geen bewyse van enige onreëlmatighede nie, of was die bewerings ongegrond. Lees die volledige mediaverklaring hier.

Volgens De Beer is die verslag kort ná Phahlane se perskonferensie in Desember aan die portefeuljekomitee van polisie gestuur. “Die DA is deel van dié komitee,” het sy gesê. “Die DA meen die verslag moet deel vorm van ʼn deurlopende Opod-ondersoek. Aangesien die verslag deur ʼn onafhanklike firma opgestel is, kan dit deur enige entiteit ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

PJ ·

Jammer wees as die man ok krimineel is hy het darem Plaasmoorde as prioriteits misdaad verklaar

Stefaans ·

Sedert George Fivaz nog geen bevoegde of nie korrupte kommissaris nie. Wow ANC!

J ·

Ja DA ondersoek asb al die korrupsie. Maar begin vinger trek met rassisme teen blankes. Want ons gaan lekker braai met die volgende stem dag in 2019. Blankes word vermoor en die hel uit ou mense geslaan. Maar julle het dadelik teen Penny opgetree.

Paul ·

Hy ry ‘n BMW i8. Daai kar kos amper R2 miljoen, en dit kan ook nie sy enigste kar wees nie.

Pik ·

Polisie kry groot geld deesdae as ek so na huise en motors kyk

John ·

Verbeel ek my of is daar ‘n verband tussen al die gebeure rondom banke en myne en groot menere… en die groot skeur daar in die weste… en die droogte… en die SAUK en … ons nuwe president… en Kubaanse sigare. Geldwaens word deesdae nie eers meer geroof nie. Die banke se trommels word sommer daar op die plek opgelaai, sonder dat enige oog dit bemerk.

Piet Pompies ·

Ek het gisteraand na die onderhoud met die edele geluister, die oortredings het blykbaar plaasgevind toe hy hoof van die Florensiese afdeling was. Die man ken nie eers die korrekte benaming van chemiese produkte wat hy moes aankoop en verwys bloot na “powder” en “flued”.
Hy het omkoop bates gevra soos motors en duur klank stelsels in ruil vir kontrakte, volgens sy salaris is dit onmoontlik dat hy self al hierdie bates kon koop.
Stuur hom tronk toe, reguit tronk toe…

Koos1 ·

Piet, ek glo nie dit was sy werk gewees om die chemiese name te ken nie. Daar is deskundiges wat onder hom gewerk het wie se werk dit is om al die name te ken.
Watter CEO van ‘n organsasie van 200 000 man sterk weet presies was waar wanneer gedoen word? Dis hoekom daar bestuurders is.
Dan wil ek ook net weer sê voordat ek met klippe gegooi word: Hierdeur sê en nie hy is skuldig of onskuldig nie, dit is die hof se werk. Maar wat ek wel sê is dat daar ‘n opvolger vir Ria aangewys moet word, en met sulke beweringe teen hom sal dit kwalik hy wees. Het julle al daaraan gedink dat hy miskien teenstanders of oposisie vir die pos het? Miskien iemand binne in die SAPS wat hom as kanidaad wil uit hê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.