DA eis optrede oor reuse standbeeld van Zuma

Demokratiese Alliansie

Demokratiese Alliansie

Die DA sê die Noordwes provinsiale regering se tender, om ʼn enorme standbeeld van president Jacob Zuma op te rig, is ʼn absolute skande.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het gesê die standbeeld sal net ʼn huldeblyk aan korrupsie en werkloosheid wees.

“Daar is niks om te vier oor Zuma se presidentskap nie. Sy regime het nege miljoen mense sonder werk gelaat, korrupsie het hoogty gevier en hy het die Grondwet geminag,” het McGluwa gesê.

“Ons kan nie glo die ANC in Noordwes wil R6 miljoen van belastingbetalers se geld bestee om ʼn standbeeld te laat maak van ʼn man wat die land wil verdeel in plaas van verenig nie.”

McGluwa het ook gesê hierdie tender is weereens ʼn sprekende voorbeeld van Supra Mahumapelo [premier van Noordwes] en sy span wat Jacob Zuma en die ANC voor die mense van Noordwes plaas. “In die provinsie waar die werkloosheidskoers die hoogste van enige provinsie is (44,6%), is dit ondenkbaar dat Supra geld hierop wil bestee eerder as om werksgeleenthede te skep,” het McGluwa gesê.

Die DA meen die standbeeld sal niks doen om aan die provinsie se vraag na basiese dienste te voldoen nie. Die DA eis dat Mahumapelo onmiddellik die bou van die standbeeld staak en die fondse spandeer aan dienslewering en werkskepping.

“Die DA oorweeg verdere optrede teen die onregmatige besteding van openbare fondse,” het McGluwa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jennyfraser ·

Die meeste sens en waarheid wat ek nog in die 23 jaar gehoor het . N oopkop wakker Mnr McGluwa

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.