DA eis terugvoer van SAPD oor klagte

Natasha Mazzone. Foto: Facebook

Die DA het Bheki Cele, minister van polisie, versoek om dringend met hom te vergader om die vordering rakende klagte wat die party in verband met staatskaping ingedien het te bespreek.

“Suid-Afrikaners verdien om op die hoogte te bly [ten opsigte van die ondersoeke] en ook die deursigtigheid rakende die ondersoeke en die verwikkelinge,” het Natasha Mazzone, DA-LP, gesê. Volgens haar het die DA ʼn integrale rol gespeel in die bestryding van die “plaag van staatskaping wat endemies geword het in die mislukte ANC-regering”.

Volgens Mazzone is dié punt bereik deur ʼn sterk parlementêre oorsig, strafregtelike aanklagte, streng verslagdoening aan die openbare beskermer en druk om ʼn kommissie van ondersoek na Eskom op die been te bring.

Die DA wil terugvoer hê oor die vordering met die volgende sake wat die party aanhangig gemaak het:

Op 17 November 2016: Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, rakende die openbare beskermer se staatskapingverslag en Molefe se beweerde misbruik van mag in onderhandelinge met Gupta-maatskappye.

Op 8 November 2016: Eskom en Trillian. Die DA se beëdigde verklaring opper bekommernisse rakende strafregtelike of wetlike oortreding wat gepleeg is.

Op 27 Maart 2017: Mantshela Koko, voormalige hoof van Eskom, oor sy beweerde skadelike dade.

Op 20 Julie 2017: Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Eskom, vir sy bewerde betrokkenheid in staatskaping.

Op 19 September 2017: McKinsey en Trillian, vir hul beweerde rol in staatskaping.

Op 29 September 2017: Die sagtewaremaatskappy SAP vir beweerde betrokkenheid by korrupsie.

Op 30 September 2017: Just Coal vir beweerde betrokkenheid by korrupsie.

Op 8 Maart 2018: Bank of Baroda vir sy beweerde betrokkenheid by onwettige fondse wat aan die Guptas verbind word.

Op 17 April 2018: Denel vir ʼn beurs van R1 miljoen wat aan die seun van Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, gegee is.

“Ons het ook aanklagte aanhangig gemaak teen Transnet en Siyabonga Gama, voormalige hoof van Transnet. Die polisie het ʼn verantwoordelikheid om aanklagte teen diegene wat by staatskaping betrek word te ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Spark Plug ·

Wow..ek dink nog steeds Natasha is die oulikste politieke vrou

Snowball ·

A snowball’s hope in hell dat enige van die kriminele deur die polisie ondersoek en vervolg sal word! Die polisie het soveel byt soos ‘n opgestopte leeu! SA hou net kommissies van ondersoek en berade en dan bedank die skuldiges en dis die end van die prent!

Chris du preez ·

Ek hoop die polisie beskik nog oor die kundigheid om sulke sake te ondersoek

Dries ·

Ek hoop di polisie slyit al daardie dosiere in klyise toe…

Anoniem ·

Nou ja, Dries. Dit sal nie help nie want hulle kluise werk nie.

Pieterv ·

Een ding kan ‘n mens van die DA sê…..hulle hou darem die publiek op hoogte van die All None Compliant se pogings om dinge toe te smeer.

Willem Grobler ·

Die DA glo seker ook in die tandemuis want as hulle dink daar gaan iets van dié sake kom leef hulle in ‘n droomwêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.