DA en ANC stabiel in tussenverkiesings

Argieffoto

Die DA en die ANC het stabiel vertoon en elkeen hul wyke behou in twee tussenverkiesings wat gister in uiteenlopende dele van die land plaasgevind het.

Wyk 2 van die Koukamma-munisipaliteit sluit die Oos-Kaapse dorp Joubertina en omliggende plase in. Daar het die DA die wyk behou, maar teruggesak van 60% steun in die 2016-verkiesing tot 55% hierdie week.

Die nuwe DA-raadslid, Julian Jansen, het 1 121 stemme gekry, die ANC 873 en die EFF 15 stemme.

Die munisipaliteit grens aan die Wes-Kaap (die hoofdorp is Kareedouw) en die uitslag bevestig die neiging in ander bruin plattelandse wyke in die Oos- en Wes-Kaap dat die DA hul steun behou en dat die ANC nie groei nie, ten spyte daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa nou vir oudpres. Jacob Zuma as staatshoof vervang het.

Terselfdertyd toon dit dat die DA nie tans die tipe groei toon wat die party benodig om die ANC landwyd onder 50% te druk in aanstaande jaar se algemene verkiesing nie.

Die stempersentasie in hierdie tussenverkiesing was 59%, wat hoog is vir ʼn munisipale tussenverkiesing.

In die Mogalakwena-munisipaliteit, gesetel in Mokopane (vroeër bekend as Potgietersrus), het die ANC wyk 16 (die gebied tussen die dorp en die Doorndraai-natuurreservaat) met ʼn verkleinde meerderheid behou.

Die swaai teen die ANC was 2% te midde van ʼn redelik lae stempersentasie van 31% (enigiets bo 35% is goed vir ʼn munisipale tussenverkiesing).

Hoewel die DA-leier, Mmusi Maimane, self hierdie week gaan stemme werf het in die wyk, is Lesibana Maloba van die ANC met 508 stemme tot raadslid verkies, teen 355 vir die DA en 304 vir die EFF.

Dit beteken wel dat die ANC minder as 50% van die stemme getrek het en nie kon munt slaan uit die feit dat  Ramaphosa van Limpopo af kom nie.

Die EFF sou ook teleurgesteld wees dat hulle nie hul onlangse prestasies om wyke in Limpopo – tuiste van die EFF-leier, Julius Malema – by die ANC af te neem, kon volhou nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lerato ·

2019 mag n vierledige stryd sien. As die hof Zuma se saak uitgooi, is hy verseker terug in die politiek.
Dan is dit Zuma en BLF teen Ramaphosa en die EFF.
Die kleiner partye gelei deur die DA sal dan maar min sê hê

Koos ·

Wens verslaggewers wil hulle huiswerk doen. Rama-poser is ‘n Venda maar is in Soweto gebore waar hy laerskool bygewoon het en ook die grootste deel van sy hoërskoolloopbaan. Hy kom dus nie van Limpopo af nie, al het hy daar gematrikuleer. Dit sal net so dwaas wees om te sê Dr. Verwoerd kom van Brandfort of Bulawayo af omdat hy die laaste deel van sy skoolloopbaan daar deurgebring het. Mokopane is Pedi-wêreld, so Ramaphosa sal nie daar invloed hê nie, selfs al was hy van doer bo in Limpopo. Die Vendas word in ieder geval as buitelanders beskou deur baie ander “inheemse” Suid-Afrikaners en wanneer xenofobiese geweld losbars lê hulle gewoonlik laag in plekke soos Gauteng.

Nico K ·

Ek stem ook nie saam met die stelling dat dit bewys dat die DA hul steun behou het in die plattelandse dorpe in die Oos en Wes Kaap nie. Die DA se steun het dan met 5% gedaal en die ANC gegroei!

Gerrit ·

Al is ek die enigste persoon in my wyk wat VF+ stem dan doen ek so ek sal ten minste met n skoon gewete kan aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.