DA en Bekkersdal-gemeenskap lê klag teen ANC

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Die Demokratiese Alliansie (DA) en die Bekkersdal-gemeenskap het Dinsdag kriminele aanklagte teen die ANC aanhangig gemaak.

Mmusi Maimane, die DA se Gautengse premierskandidaat, het gesê die aanklag is teen die ANC en Nelson Mdayi, die vermeende Bekkersdal-skieter wat ook ANC-leier van die gebied is, aanhangig gemaak.

Maimane het met die inwonersvereniging van Bekkersdal vergader. “Die inwoners glo hulle word deur diewe en boewe gelei,” het Maimane gesê. “Korrupsie verwoes werkskepping en dienslewering in gemeenskappe wat dit die meeste benodig. In plaas daarvan dat die party aanspreeklikheid aanvaar vir hul aksies, verkies president Jacob Zuma se ANC om met koeëls te regeer.”

Volgens Maimane is twee klagtes ingedien. ʼn Saak is teen die ANC gemaak omdat ʼn vuurwapen na ʼn politieke byeenkoms geneem is, en dit is teenstrydig met die verkiesing se gedragskode. Mdayi is aangekla weens die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Die Bekkersdal-gemeenskap het die afgelope maande tientalle diensteleweringsbetogings gehou.

Afgevaardigdes van die ANC, waaronder Eric Xayiya, Ntombi Mekgwe, Brian Hlongwa en Mpho Nawa, het Donderdag Bekkersdal besoek as deel van die party se verkiesingsveldtog. Die afvaardiging is egter met klippe bestook en uit die gebied verjaag. Thabang Wesi, ʼn gemeenskapsleier, beweer dat die ANC-afvaardiging se “lyfwagte” gewapen was. Hy beweer dat hulle op ongewapende inwoners, waaronder skoolkinders, geskiet het.

Nkenke Kekana, woordvoerder van die ANC in Gauteng, het Maandag gesê die party gaan dissiplinêr optree teen Mdayi, aangesien hy die party in oneer gebring het. “Sy aksies het die ANC se integriteit en openbare beeld ondermyn,” het Kekane gesê. “Die ANC keur nie die gebruik van vuurwapens gedurende verkiesingsaktiwiteite goed nie, aangesien dit slegs ten doel kan hê om te intimideer of onnodiglik spanning te verhoog.” Die party se integriteitskomitee sal intussen ook die saak ondersoek. Kekana het die polisie versoek om te bepaal of Mdayi ʼn lisensie vir die vuurwapen het.

Lees ook:
Stappe teen gewapende ANC-lid
Gewapende “ANC-lid” glo staatsbeampte
ANC soek antwoorde oor gewapende man in foto
SAPD swyg oor Bekkersdal-voorval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.