DA gaan De Lille ondersoek, aankla

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester Foto: Tamaryn Africa/ANA

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, hou vir eers haar posisie, maar haar magte sal beperk word, nadat die Demokratiese Alliansie se federale uitvoerende komitee Sondag vergader en besluit het dat sy van wangedrag aangekla sal word.

“Die federale uitvoerende komitee het bepaal dat die burgemeester formeel aangekla sal word en deur die party se federale regskommissie ondersoek sal word,” het Mmusi Maimane, leier van die party, Sondag tydens ʼn perskonferensie ná die vergadering gesê.

Maimane het gesê De Lille sal aangekla word vir haar optrede wat die beeld van die party negatief geraak het; dat sy versuim het om haar pligte as burgemeester, “soos bepaal deur die federale raad”, uitgevoer het; dat sy die party se naam skade berokken het; en omdat sy “onredelik en nadelig vir die interne samewerking binne die party” opgetree het.

Die aanklagte spruit uit verskeie bewerings teen De Lille die afgelope paar maande. Dit sluit in dat sy glo “onbehoorlik en onwettig opgetree het” wat betref die heraanstelling van die stadsbestuurder van Kaapstad, deur dat sy “onregmatig lede van die keuringspaneel beïnvloed het”. Volgens die DA het De Lille ʼn teksboodskap aan ʼn lid van die paneel gestuur waarin sy sê: “Ek wil Achmat [Ebrahim] behou, so gee vir hom die meeste punte. Dankie.”

Na bewering het De Lille versuim om die raad voldoende op hoogte te bring van onreëlmatighede en finansiële verliese in die stad as gevolg van sy kontrak wat betref die MyCiTi-busdiens, en dat sy versuim het om regstellend in dié verband op te tree.

Sy word ook daarvan beskuldig dat sy “onbehoorlik en/of teisterend opgetree het in haar leierskap aan die koukus van die party in Stad Kaapstad, deur haar woorde en optrede, en dat sy koukuslede geïntimideer of verkleineer het as hulle nie met haar saamgestem het nie”.

Sy het na bewering ook geweier om met die adjunk-koukusleier, JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, saam te werk. Smith en De Lille was in ʼn openbare geskil betrokke waar sy hom daarvan beskuldig het dat hy haar naam deur die modder gesleep het toe bewerings aan die lig gekom het dat sy van die stad se geld gebruik het om haar huis op te gradeer.

Die DA se federale regskommissie is versoek om die vervolging van De Lille te bespoedig. “Ons het die federale regskommissie versoek om sy saak verkieslik binne 60 dae af te handel, natuurlik gebalanseer teen regverdige prosesse,” het James Selfe, federale uitvoerende voorsitter, gesê.

De Lille se magte sal intussen beperk word, insluitend die bestuur van Kaapstad se grootste krisis, ʼn droogte wat moontlik daartoe kan lei dat die stad teen April nie meer water het nie.

“Ons sal dus aanbeveel dat die koukus formeel ʼn resolusie voor die raad bring dat die burgemeester verwyder moet word uit enige rol om die stad en die droogte gedurende die ondersoek te bestuur,” het Maimane bygevoeg.

“Adjunk-burgemeester Ian Neilsen en raadslid Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water, informele nedersettings en afvaldienste, sal intussen die algehele politieke leierskap en beheer van die stad se reaksieplan oorneem.”

Verskeie ander magte in die burgemeester se kantoor sal ook gedesentraliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Hanna ·

Is die DA nou besig om te “transformeer”? Lyk my daar moet van al die ou kaders ontslae geraak word… Sterkte Patricia, ek hoop en glo jy is n eerbare mens!

Gatvol ·

Hanna dink jy vir een oomblik dat hulle haar sal aankla as sy nie oortree het nie?

Loeis ·

Ongeag die uitkoms klink dit of die Kaapse Party volgende jaar so paar DA setels mag afvat agv hiervan.

snoefie ·

ek stem saam met jou Johan. ek dink ook as mmusi eerlik wil wees sal hy erken sy grootste klagte teen tante Pat is dat sy nie swart is nie. as hy alles swaer wil hê, hoop ek hy kry yen minste mense soos herman Mashaba. n eerlik man

Callie ·

So word hulle uitgewerk tot net Maimane en sy kaders oor is. Dan kan hy dalk begin doen wat hy wil. 2019 verkiesing kon DA dalk goed gedoen het. Hulle is nou weer onder. SA politiek is alles smerig en korrup. Gin wonder Trump praat so van Afrika nie.

Gatvol ·

Callie ek stel voor dat jy eers seker maak van al die feite. Daar is te veel mense wat hulle magsposisies misbruik vir finasiele gewin. Ek stem heelhartig saam dat dissipline die antwoord is, en dat daar streng opgetree moet word teenoor die wat dit misbruik.

Niel ·

dan is dit tyd dat die mense begin stem vir VF+ en vir hulle kans gee.

PJC ·

Ek dink nie sy is so onskuldig as wat sy wil voorgee nie en dit was ń groot fout om swaarde te kruis met JP Smith as sy dalk ń geraamtetjie in die kas het. My opinie oor Maimane sal ek liewers vir myself hou anders word ek dalk permanent verbied om iets op hierdie forum kwyt te raak.

Griet ·

Ek stem saam met Callie en Hanna – Patricia word uitgewerk en daar is ander op die loer vir haar burgemeesterskap! Sy het nog net goedgedoen vir Wes-Kaap om dit as ‘n wêreldstad waar toeriste kom, te behou, ongeag van misdaad. Misdaad kom oral voor maar die Wes-Kaap word geteiken omdat dit DA is en daarom so baie in die nuus is. Misdadigers kom van ander provinsies en ek is seker hulle word “geplant” om skade aan te rig en die blaam vierkantig op die skouers van die DA te sit

Jacques venter ·

Jene
Mense gee die proses kans om af te loop. As sy onskuldig is behoort sy onskuldig verklaar te word. En as sy skuldig is sal die party die nodige stappe doen.

Jacques venter ·

Hallo Nel.
As jy sê die drie mense is voëls van eenerse vere, bedoel jy dat hulle sekere eienskappe gemeen het.
Vraag is wat is daardie eiendkappe?

Annamarie Olivier ·

Ek het baie respek vir haar verloor toe sy in ‘n hoek is en die raskaart gespeel het. Verhoor haar en laat al die dinge op die lappe kom dan praat ons weer.

Johanna Botha ·

Minste lyk dit of die DA optree ….vergelyk dit nou met die anc wat NIKS doen …almal op betaalde verlof of in n ander posisie ingestop

Jacques venter ·

Hallo Johanna Botha
Jy praat die waarheid. Dit is vir baie n bedreiging wat asseblief net die slegte wil sien en beklemtoon.

As jou oog donker is, sal jou hele lewe donker wees

Vermeende ·

Dit laat my nou terug dink toe die ANC ook nie n korrupte sel gehad het nie.
Die mense wat darem so siende blind is, julle weet daar is baie mense wat ook glo dat Zuma nie korup is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.