DA gaan klag lê oor ‘lasterlike’ burgerskap-berig

Phumzile van Damme

Phumzile van Damme

Die DA sê hy gaan ‘n klag by die persombudsman indien na aanleiding van die Sunday Times se berig oor ‘n DA-LP wat glo nie ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie.

Die Sunday Times berig dat DA-LP Phumzile van Damme in Swaziland gebore is en dat haar ouers ook Swazi’s is. Indien Van Damme nie ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie, kan sy nie ‘n LP wees nie.

Marius Redelinghuys, die DA se nasionale woordvoerder, sê die berig is opportunisties en lasterlik. “Die omstandighede rakende haar geboorte en die registrasie van gepaardgaande dokumente kan nie aan haar toegeskryf word nie en was heeltemal buite haar beheer. Om Van Damme as ‘n ‘leuenaar en bedrieër’ uit te maak is lasterlik.”

Redelinghuys sê Van Damme is ‘n Suid-Afrikaanse burger en dat sy die nodige dokumentasie soos ‘n geboortesertifikaat en geldige identiteitsdokument het om dit te staaf. Hy sê die dokumente is aan die koerant beskikbaar gemaak. “Sy was ook onder die indruk dat sy buite Nelspruit gebore is soos deur haar geboortesertifikaat weergegee word.”

Volgens Redelinghuys het Van Damme se persoonlike ondersoek na die aangeleentheid aan die lig gebring dat haar geboorte in die 1990’s by binnelandse sake in Pietermaritzburg geregistreer is. ‘n Beampte van binnelandse sake het glo aan Van Damme se ma gesê sy haar kan registreer gebaseer op die insig dat sy in Suid-Afrika gebore is.

“Die beampte het aan Van Damme se ma gesê dat die departement van binnelandse sake ‘n groot werklas het weens diegene wat weens apartheid in ballingskap was en na Suid-Afrika teruggekeer het en aangesien haar familie in die groep geval het, is sy as ‘n Suid-Afrikaner geregistreer.”

Redelinghuys se Van Damme se ouma het Suid-Afrika in die 1950’s weens apartheid verlaat en in Swaziland gaan bly. “Dit is jammer dat Van Damme se ma haarself nie ingelig het oor die reëls rakende die registrasie van burgerskap nie.”

Redelinghuys sê Van Damme is in geen stadium ingelig oor die omstandighede rakende haar geboorte of registrasie nie. “Dit is duidelik dat Van Damme ‘n slagoffer van omstandighede buite haar beheer was, ‘n onhoudbare situasie waarvan sy eers bewus geword het as gevolg van die Sunday Times se navraag.”

Redelinghuys sê Van Damme se status as ‘n Suid-Afrikaanse burger word beskerm deur artikel 20 van die grondwet. “Van Damme en die DA het ten alle tye in goeie geloof opgetree, en vir die Sunday Times om enigiets tot die teendeel as ‘n feit te beweer is gevaarlike terrein vir ‘n koerant om in te trap.”

Lees ook:
DA-LP jok glo oor burgerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.