DA gaan Paia gebruik om inligting oor Kubane te vra

Kubaanse gesondheidswerkers kom in April verlede jaar in Suid-Afrika aan. (Foto: GCIS)

Die DA gaan aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, oftewel die Paia-wet, indien in ʼn poging om omvattende besonderhede van die dienskontrakte tussen die Suid-Afrikaanse regering en sy Kubaanse eweknie te kry.

Natasha Mazzone, hoofsweep van die DA, sê die regering het die afgelope dekade of wat meer as R1,4 miljard bestee aan ooreenkomste om Kubaanse werkers en diensverskaffers in Suid-Afrika te gebruik. Die Kubane is onder meer by die departemente van onderwys, openbare werke, gesondheid, behuising, water en sanitasie asook verdediging ingespan.

Mazzone sê ten spyte van die enorme bedrae geld betrokke is daar weinig besonderhede bekend oor die indiensnemingskontrakte.

Die DA wil met die Paia-aansoeke onder meer probeer vasstel wat presies die betalings behels en soek ʼn ontleding van onder meer die salarisse en reis- en verblyfonkoste.

Die amptelike opposisie wil ook weet of die betalings regstreeks aan die Kubaanse werkers gedoen word en of die geld aan die Kubaanse regering oorbetaal word. Die DA wil voorts weet of die Kubaanse regering enige finansiële aansporing vir die ooreenkomste kry.

Die party vra ook inligting oor of ʼn vaardigheidsoudit in Suid-Afrika gedoen is om te bepaal watter belangrike vaardighede benodig is wat plaaslike beroepslui nie gehad het nie, en of ʼn impakassessering ná die ontplooiings gedoen word om vas te stel of daar ʼn behoefte is om die ooreenkomste voort te sit.

“Die DA glo nie die ooreenkomste is so heeltemal voor die hand liggend soos die regering wil hê mense moet glo nie,” sê Mazzone.

“Dit maak bloot geen sin nie dat die Suid-Afrikaanse regering miljarde rande sou opdok vir vaardighede en dienste uit Kuba, terwyl daar werklose en gekwalifiseerde werkers in die spesifieke velde in Suid-Afrika is wat desperaat werk soek.”

Die gebruik van Kubane om werk in Suid-Afrika te doen, is al vir ʼn geruime tyd ʼn omstrede kwessie.

Maroela Media het vroeër berig onderwyskenners beskou dit as ʼn klap in die gesig dat Kubaanse spesialiste kwansuis Suid-Afrikaanse onderwysers in wiskunde en wetenskap moet oplei. Die departement van onderwys het ʼn kontrak met Kuba – wat van 2017 tot volgende jaar strek – waarvolgens sowat 20 spesialiste uit dié land in Suid-Afrika kom werk.

Dié spesialiste kry ʼn jaarlikse salaris van net meer as R733 000 per jaar, wat beteken dat die regering sedert 2017 jaarliks tussen R10 miljoen en R14 miljoen aan die Kubane bestee het.

Steeds is Suid-Afrika se prestasie in wiskunde en wetenskap vir leerders in gr. 5 en gr. 9 van die vrotste ter wêreld.

Solidariteit voer ook ʼn regsgeding teen die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie om ʼn besluit om Kubaanse ingenieurs in Suid-Afrika te gebruik, ter syde te stel. Die organisasie voer aan die korrekte prosedure is nie tydens die aanstelling van die kundiges gevolg nie en dat minister Lindiwe Sisulu en haar departement ongrondwetlik optree.

Daar was ook groot ongelukkigheid oor die gebruik van 217 Kubaanse medici – glo teen ʼn bedrag van sowat R240 miljoen – deur die departement van gesondheid.

De kabinet het boonop vroeër vanjaar sy steun toegesê aan die benoeming van die Kubaanse Mediese Brigade vir die Nobelprys vir vrede vir sy plaaslike werk in die stryd teen die Covid-19-pandemie.

Dit is uit verskeie oorde bestempel as ʼn miskenning van die enorme bydrae wat Suid-Afrikaanse mediese werkers lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Wat gaan.dit help die gald is klaar bestee en gaan geen
Nie ‘n faktor in die verkiesing wees nie. So hoekom.errs na soverl jaar of het die DA en ander Psrtye nooit daarvan
Geweet nie.

Tiptol ·

En dit terwyl Suid-Afrikaanse mediese studente in Kuba van hul klere moet verkoop om kos te koop.

Pieter ·

Die kubane is net so slim soos hulle ANC broers dit is hoekom als uit mekaar val.

Gert ·

Julle mors julle tyd en geld. Kuba moet betaal word en die kadders doen dit reeds.

Willem ·

Anc het by kubane geleer korrup en skelm wees!Nou voer hulle die skelms in om hul vuilwerk te doen!!!!

annie ·

Onthou ons is nou in pay back time… Al die Kubaanse sigare, die wegsteek van biljoene, die bloudrukke vir landsverwoesting. En Castro se beeld-en-vlaggie in Bloeifontein en, en die gereelde mediese behandelings vir unieke vreemde onnoembare siektes wat net Kubaanse dokters kan ontsyfer. Verstaan tog, kommunisme bestaan feitlik nog net in Suid-Afrika. Ons voel so veilig hier met Ace en die rooivlagters en -pette se gasvryheid. Elke pasiënt van ‘n Kubaanse dokter leer glo eers Spaans voor enige hulp verleen word, want die glo kundiges is min gespin. Is dit waar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.