DA ‘gereed om nasionaal te regeer’

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: Twitter via ANA)

DA-leier Mmusi Maimane is onbestrede benoem om sy posisie as die DA se federale leier te behou in aanloop tot die party se federale kongres wat op 7 en 8 April by die Tshwane Events-sentrum sal plaasvind.

Anchen Dreyer, die DA- federale raad se hoofverkiesingsbeampte, het Sondag gesê James Selfe, die voorsitter van die DA se federale raad, is ook onbestrede benoem.

Daar is vier nominasies ontvang vir die posisie as adjunkvoorsitter van die DA- federale raad, naamlik Haniff Hoosen, Natasha Mazzone, Nkhumeni Ramulifho en Thomas Charles Ravenscroft Walters. Drie nominasies is ontvang vir die posisie as federale voorsitter, naamlik Annelie Lotriet, Solly Tshepiso Msimanga en Athol Trollip.

Rollence Molamu Mabula, Ndwakhulu Greaterman Mafanedza, Ivan Henry Meyer, Nkele Malapo, Refiloe Nt’sekhe, Dumisani Sibusiso Thwala, Desiree van der Walt en Mike Waters is onderskeidelik genomineer vir die drie posisies as adjunk- federale voorsitter.

Dion George en Alf Lees is onderskeidelik genomineer as voorsitter: federale finansies.

Dreyer het gesê die komende kongres sal die grootste nóg in die geskiedenis van die DA wees, met meer as 2 000 afgevaardigdes van oor die land wat dit sal bywoon. Volgens Dreyer sal die kongres dit weerspieël dat die DA “die mees diverse party in Suid-Afrika” is, asook hoe die party eksponensieel gegroei het sedert 2015 toe daar net meer as 1 200 afgevaardigdes was.

“Die kongres sal ten toon stel hoe die DA die enigste party is wat nog in elke verkiesing in demokratiese Suid-Afrika gegroei het, asook hoe die party wat 16 miljoen Suid-Afrikaners regeer wel beduidende vordering gemaak het om dienste aan Suid-Afrikaners te lewer sedert die vorige kongres in 2015. Die nominasieproses is die eerste stap om ʼn leierskap te verkies wat die party sal lei deur die veldtogtydperk in aanloop tot 2019 en daarna,” het sy gesê.

“Die DA is trots op die feit dat die provinsiale kongresse gehou is sonder dat daar enige geskille verklaar is. Al die prosesse soos voorgehou deur die federale grondwet is gevolg en ons sal voortgaan om die federale kongres ook so vlot te laat verloop.”

Dreyer het beklemtoon die DA maak gereed om ʼn nasionale regering te wees en het reeds in metro’s soos Tshwane, Johannesburg, Nelson Mandelabaai en Kaapstad bewys dat die party “ʼn regering kan bied wat korrupsievry is en almal bedien”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jerry ·

Dreyer se stelling dat die DA korrupsievry is, is n lagwekkende wanvoorstelling, dit terwyl Patricia de Lille vir korrupsie voor n dissiplinere verhoor moet verskyn!

honourable member ·

Wil nou nie iemand se bubble bars nie maar die DA sal nooit verkies word as regerende party. Noudat Cyril die president is gaan die mense in miljoene vir hom stem en moenie die EFF weggooi nie want daar word grond aan die “have nots” belowe. Hulle kan dalk tweede meeste stemme kry. Nee wat DA julle gaan n vet toets dop hoor.

Loeis ·

Sjoe, daar is ‘n paar probleme met die DA se verklaring.

Met die laaste nasionale verkiesing het DA 22.23% van die nasionale steun getrek en die ANC 62.15%. Van die DA wat nasionaal regeer is daar geen sprake nie. 2019 se uitslae sal sekerlik anders wees, veral na die skade wat Zuma die ANC aangedoen het, maar met die hele euforie rondom Ramaphosa wonder mens hoeveel steun die ANC werklik gaan afstaan, veral buite Kwazulu Natal.

Dit is ook feitelik verkeerd om te se dat die DA die enigste party is wat gegroei het: die EFF het byvoorbeeld in 2014 se verkiesing van 0% na 6.35%, en dus tot die derde grootste party in die land, gegroei, en het in 2016 se minuspale verkiesging heelwat setels ingepalm: genoeg om die DA in Pretoria, Port Elizabeth en Johannesburg in beheer te laat. Dit klink of die EFF nou daardie mat onder die DA wil uitruk, en hulle het die mag om dit te doen. Ook het van die kleiner partye in die laaste jare groei getoon. Anchen Dreyer moet regtig ophou om onwaarhede te verkondig.

Andre ·

Ek dink Mmusi is in vir `n slegte verrassing kom 2019, sy party gaan baie kleiner wees.

Laetitia ·

dit is juis nou dat die DA die vloer gaan vee met die ANC en EFF.

Casper Labuschagne ·

Alles goed en wel, maar is tientalle miljoene kiesers wat tot nou toe ANC gestem het, gereed om vir die DA regering te stem? Miskien moet die DA nuwe kundige adviseurs bekom, want ek vermoed hulle is so vasgevang in ‘n siklus van positiewe terugvoering dat hulle meer as net ‘n bietjie uit pas is met wat vêr anderkant die spogbuurte aangaan.

Werf nie-stemmers ·

Die DA en ordentlike partye moet hulle bes doen om nie-stemmers te oorreed om wel te gaan stem. Daar is BAIE wat ongelukkig is met ANC en dink hulle stemme tel nie, wat onwaar is, en daarom is die mense n goue pot vir stemme vir anti ANC partye soos die DA, Cope, VF plus ens.

Loeis ·

Op daardie noot: die grootste enkele bedreiging in die land op die oomblik is onteiening sonder vergoeding. Musi was nie eens in die parlement toe daar oor daardie mosie gestem is nie. VF+, daarteenoor, gooi alles in die stryd om daardie mosie te beveg, selfs op die internasionale front. Wat doen die DA?

Lolla ·

Ons sal soos een man VFPlus gaan stem! Nee dankie se die gansie, met jou wil ek nie dans nie! Die Boer en Afrikaans is hopeloos te lank afgeskeep en misbruik vir belasting gelde.

John ·

Ek het nog nie vir die DA gestem nie en sal dit nog minder doen in 2019. Die DA stel nie in Afrikaners se probleme belang nie, net in hul stemme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.