DA groei, ANC sak terug in tussenverkiesings

Argieffoto

Die DA het gegroei en die ANC het teruggesak in tussenverkiesings wat vandeesweek in drie provinsies plaasgevind het.

Wyk 7 van die Umgeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal grens aan die Midmardam langs die N3 tussen Howick en Pietermaritzburg, en omvat die dorpies Merrivale en Cedara met sy landboukollege.

Hier het Pam Passmore (DA) gewen met 1 930 stemme, teenoor 307 vir die ANC, 43 vir die ACDP en 34 vir die EFF. Dit verteenwoordig ʼn swaai van drie persentasiepunte na die DA sedert 2016.

In Mbizana wyk 26 (ʼn afgeleë landelike gebied genaamd Mbobeni in die noordooste van die Transkei) het McCord Tobo die wyk vir die ANC behou met 1 216 stemme, gevolg deur die EFF met 165, die UDM met 158, die Sosialistiese Party met 67 en die NFP met 46 stemme. Dit verteenwoordig ʼn swaai van ses persentasiepunte teen die ANC sedert 2016.

Die Khai-Ma-munisipaliteit in die Noord-Kaap se wyk 1 is ʼn uitgestrekte landelike gebied buite Pofadder. Dit is gewen deur Benedictus Jossop (ANC) met 680 stemme, gevolg deur ʼn onafhanklike kandidaat met 271 stemme, die DA met 110 stemme en die EFF met 13 stemme. Die uitslag verteenwoordig ʼn swaai van een persentasiepunt teen die ANC sedert 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

hendrik ·

Dan groei die ANC dan sak hulle terug. Wie bepaal die projeksies. Ek wens natuurlik dat hul h.. heeltemaal uitval.

Frik Lotz ·

Ek weet nie hoekom mense in elk geval nog DA stem nie want hul is maar nes die ANC. Verder voel hul vere vir Afrikaans en Afrikaners!

Gerhard ·

Ag nee regtig. Die DA het in een van daardie verkiesing die setel behou, in een derde gekom en een klaarblyklik nie deelgeneem nie. Hoe is dit genoeg om ‘n stelling te maak dat die DA groei en die ANC terug sak? Dit is bloot ‘n opportunistiese stelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.