DA het nog bewyse teen Zuma

Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko.

Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko.

Die Demokratiese Alliansie gaan glo verdere bewyse aan die speaker Max Sisulu verskaf om die party se versoek, om voort te gaan met vervolging teen pres. Jacob Zuma, te steun.

“Die nuwe bewyse dui aan dat pres. Zuma moontlik doelbewus die parlement mislei het en die Grondwet en wet oortree het,” het Lindiwe Mazibuko, DA-leier in die parlement, Dinsdag gesê. “Dit vereis ʼn volle parlementêre ondersoek, wat spesifiek gemandateer word deur my versoek om pres. Zuma te vervolg.”

Mazibuko het die parlement op 20 Maart versoek om ʼn ad hoc-komitee op te stel en met vervolgingstappe teen Zuma te begin. Haar versoek volg op Thuli Madonsela se verslag oor veiligheidsopgraderings by Zuma se privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Mazibuko het Maandag gesê alhoewel die party Madonsela se gesag respekteer, is daar ʼn aantal uitlatings wat Zuma aan die parlement gemaak het wat nie opgelos is of in die finale verslag aangespreek is nie.

Die eerste is glo Zuma se reaksie op Mazibuko se vraag oor sy Nkandla-woning in November 2012, toe hy gesê het hy betaal steeds ʼn verband af aan die eerste fase van sy huis.

Madonsela het in haar verslag aangedui dat sy ʼn brief aan Zuma gestuur het om duidelikheid te kry oor die verband en bewyse daarvan. “President Zuma het die geleentheid om op die bewering te reageer van die hand gewys en geweier om sy verbanddokumentasie aan haar te toon, ondanks haar pogings om die inligting in die hande te kry,” het Mazibuko gesê.

Sy sê Madonsela kon nie ʼn bevinding maak nie, weens die gebrek aan inligting en onsekerheid oor Zuma se onskuld.

Die DA glo die spesiale ad hoc-komitee sal die mag hê om ʼn dagvaarding te bekom vir die dokument en ʼn volle verduideliking van Zuma verwag.

Mazibuko wou op 20 Maart 2013 by Zuma weet of hy ingelig is oor die opgraderings aan sy huis. Hy het in sy reaksie aangedui hy is ten volle bewus van die verskille tussen sy persoonlike opknappingswerk aan sy huis, en dit wat deur die regering georganiseer is. Mazibuko sê Zuma se reaksie oor die staatsopgraderings het ʼn duidelike indruk geskep dat hy nie oor spesifieke projekbesonderhede ingelig is nie, en dat betrokke beamptes die kwessies hanteer en besluite daaroor gemaak het. Hy is slegs ingelig dat daar verbeterings aangebring moet word.

“Daar is egter baie duidelik bewyse in die Openbare Beskermer se verslag dat die president gedetailleerde besonderhede gehad het, en ten volle betrokke was,” het sy gesê. “Die betrokkenheid van mnr. Makhanya [argitek] en Zuma se verhouding en talle vergaderings met hom oor die opgraderings is bewyse wat teenstrydig is met sy stelling dat hy nie ‘geweet het wat deur wie gedoen en wat dit gekos het’ nie.”

Mazibuko sê Zuma moet nog sleutelvrae beantwoord wat Madonsela aan hom gestuur het, wat “verdere agterdog skep oor sy bedoelings”. Hierdie vrae sluit in of hy of die presidensie versoek het dat veiligheidsopgraderings by die huis aangebring moet word en of hy in enige stadium oor die koste van die voorgestelde opgraderings ingelig is en of ʼn kennisgewing, wat sy privaatwoning as ʼn nasionale sleutelpunt verklaar, ooit op hom bedien is.

Madonsela wou ook weet of die argitek se ontwerpe aan hom gewys is en of hy gekonsulteer is oor die verplasing van huishoudings rondom Nkandla en of hy ooit enige vrae gevra het oor die koste van die projek.

“Die DA hou vol dat daar genoeg prima facie-bewyse bestaan om ʼn volle ondersoek van stapel te stuur oor die antwoorde wat hy in November 2012 en Maart 2013 verskaf het,” het Mazibuko bygevoeg.

Sy voer ook aan Zuma het die Wet op die Openbare Beskermer oortree deur nie op Madonsela se vrae te reageer nie.

Die party het ook sy kommer uitgespreek dat Sisulu nog nie reageer het op ʼn versoek om ʼn dringende vergadering te belê nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.