DA hof toe omdat Okosa voete sleep

Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag gesê hy gaan ʼn dringende hofaansoek by die hooggeregshof indien om die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) te dwing om ag te slaan op hul klagte teen die SAUK.

Die DA het Saterdag die SAUK by Okosa verkla nadat die nasionale uitsaaier hul 2014-verkiesingsadvertensie, getiteld ANC Ayisafani, van die lug verwyder het, aangesien dit glo geweld aanhits. Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa, het Maandag bevestig die SAUK het Sondagaand op die klag reageer.

Maleka het Maandag ook bevestig dat die beslissing voor die einde van die dag gelewer sou word, ingevolge Okosa se beleid om binne 48 uur aan die klagte aandag te gee. Okosa het egter later bekend gemaak dat hy Donderdag eers ‘n openbare sitting oor die klagte gaan hou. Tydens dié sitting sal mondelinge voorleggings deur albei partye in die geskil aangehoor word. Die komitee, wat die klagte ondersoek het, het glo nie ʼn kworum bereik nie.

Die DA se leier, Helen Zille, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê Okosa voldoen nie aan sy pligte as uitsaai-owerheid nie. “Dit skep ʼn onvermydelike indruk dat Okosa doelbewus probeer om die hantering van ons klagte te vertraag en om die DA se verkiesingsvideo langer van die lug af te hou,” het Zille gesê. “ Dit is duidelik nadelig vir die DA se verkiesingsveldtog, en dien slegs om die ANC te bevoordeel.”

Mmusi Maimane, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, het verlede Vrydag in ʼn verklaring gesê dit is duidelik dat SAUK onder druk van die ANC geswig het om die advertensie te verwyder. “Ons weet dat die ANC bekommerd is oor die grootskaalse positiewe reaksie wat die advertensie uitlok,” het hy gesê.

Die omstrede advertensie is op 8 April op YouTube gelaai en is teen Dinsdagoggend reeds meer as 300 000 keer gekyk. ‘ANC Ayisafani’ beteken dat die ANC is nie meer is wat hy vroeër was nie. Die DA versoek kiesers om die party te help om korrupsie, e-tol en Nkandla te beveg. Die advertensie is steeds op YouTube beskikbaar. Klik hier om die advertensie te sien.

Lees ook:
Okosa beslis vandag oor DA-advertensie
SAUK-base bang om hul werk te verloor, sê DA
DA mag gewysigde advertensie indien
SAUK onttrek DA se TV-advertensie
DA kap ANC met nuwe advertensie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan van der Walt ·

Vertraagings taktiek!!
Het julle iets anders verwag?

Jasper ·

Die All Blacks is meesters in die kuns om rugbyreëls te omseil, maar ek dink hulle kan gerus by die cANCer kom kers opsteek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.