DA hof toe oor Covid-19-regulasies by skole  

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Elaine Krige)

Die DA is tans besig om hofstukke saam te stel vir ʼn dringende interdik wat die departement sal dwing om sy een meter afstandbeleid in skole te hersien.

Die party meen dit dwing skole om op ʼn rotasiebasis te funksioneer wat beteken dat elke skoolkind maar net 50% van die tyd kan skool toe gaan.

“Hierdie beleid is irrasioneel, onregverdigbaar en eenvoudig verregaande,” sê John Steenhuisen, leier van die DA.

Hy meen die beleid hou geen voordeel vir die vermindering van infeksies in nie en dat die regering geen rede het om dit verder af te dwing nie.

“Die doel van die afstandbeleid was om druk op die gesondheidstelsel te verminder deur die verspreiding van die virus te beperk. Tog was die gesondheidstelsel nie tydens die vierde vlaag van die virus (wat deur die Omikron-variat aangedryf is) onder druk nie.

“Anders as in baie ander lande is daar nou ʼn baie hoë vlak van natuurlike immuniteit (70% tot 90%) in Suid-Afrika weens die hoë koers van vorige infeksies.”

Boonop was hospitaalopnames en sterftes tydens die vierde vlaag aansienlik laer.

Ongeregverdig én onregverdig

Steenhuisen sê die regering kon tot op hede ook nog nie ʼn goeie verduideliking bied oor waarom skole nie ten volle kan oopmaak nie.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het op 11 Januarie bloot gesê dat die reëling by skole dieselfde bly – veral met betrekking tot die rotasierooster.

“Die feit van die saak is dat Covid-19 nog steeds met ons is, en ons moet voortgaan om saam te werk om dit te beveg. Ons ondersoek moontlikhede om skoolonderrig na normaal te laat terugkeer, maar ons moet dit verantwoordelik doen; en vir hierdie doel vertrou ons geheel en al op die advies van kundiges in openbare gesondheid, die ministeriële adviesraad, die Covid-19-bevelsraad en die kabinet,” het sy in ’n verklaring gesê.

Dít nadat die ministeriële adviesraad reeds in Julie verlede jaar aanbeveel het dat alle skole tot hul volle kapasiteit moet oopmaak – selfs in klaskamers waar kinders nie een meter uitmekaar kan wees nie, sê Steenhuisen.

Die party meen die regering ontneem skoolkinders van hul reg tot onderrig deur die voortgesette inwerkingstelling van hierdie reëling, wat geensins op ander terreine konsekwent toegepas word nie.

“Taxi’s mag op volle kapasiteit werk en die ANC- en EFF-saamtrekke het sonder sosiale afstand of die dra van maskers voortgegaan.”

Groot risiko’s vir leerders

Volgens die DA het die beleid ook ʼn enorme nadelige uitwerking op leerders – op ʼn geestelike, fisieke sowel as opvoedkundige vlak.

“Daar is bewyse dat skoolkinders 57-81% van hul leesvermoë verloor as gevolg van rotasieskoolonderrig. Die meeste skoolkinders het meer as 50% van hul skoolopleiding in 2020 en 2021 verloor. Boonop het honderde duisende heeltemal uitgesak weens indirekte gevolge van Covid-19-regulasies.

“In 2021 alleen het ongeveer 370 000 tot 700 000 leerders die skool verlaat, wat bygedra het tot die reeds ontluikende geledere van die jeug.”

Steenhuisen meen rotasieskoolonderrig lei ook tot verhoogde blootstelling aan geweld, mishandeling en wanvoeding – aangesien baie kinders net by die skool kos kry.  Boonop het kinders ook nie die keuse om te besluit of hulle heeltyds wil terugkeer skool toe nie.

“Onderwysers het genoeg tyd gehad om ingeënt te word as hulle so verkies. Skoolkinders kan nie offerlammers gemaak word om op te maak vir die regering se onvoldoende inentingsveldtog of vir volwassenes se versuim om ingeënt te word nie.”

Shabir Mahdi, professor in enstofkunde aan die Universiteit van Witwatersrand, het ook op 12 Januarie in ʼn plasing op Twitter gesê dat die opening van skole nie weens die selfsugtige belange van volwassenes uitgestel moet word nie.

Ongelykheid word bevorder

Die DA sê voorts dat rotasieskoolonderrig ongelykheid bevorder, aangesien dit ’n buitensporige impak op arm kinders het, wat die minste kan bekostig om skool mis te loop.  “Onderwys van swak gehalte is die tweede grootste faktor wat armoede en ongelykheid in Suid-Afrika aandryf,” sê Steenhuisen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dit is n oumens siekte en tog word die kinders die strengste gereguleer met al die nonsens….bietjie laat DA.

Samuel ·

Ek steun mnr. Steenhuisen honderd persent. Die regering sleep voete met die oopmaak van skole. Kinders smag om by hulle maats te wees. DBO se optrede is onverdedigbaar.

Marius ·

Die regering moet nou begin bykom en feite navors en ophou spekuleer en dan op raai raai riepsma besluite neem wat almal negatief beïnvloed.

Christine ·

Nie net skole nie, ons is almal moeg vir die tirannie wat geen einde ken nie. Tyd vir Dlamini-Zuma om in Nkandla te gaan aftree.

Vicky ·

Dis eenvoudig…verander alle skool banke in restaurant banke,dan kan die kinders mos hulle maskers afhaal elke keer as hulle gaan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.