DA hof toe oor Hlaudi-aanstelling

Hlaudi Motsoeneng. Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng. Foto: news.iafrica.com

Die DA het Maandag gesê hy sal regstappe doen teen die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng in ʼn ander senior posisie by die SAUK.

James Selfe, die voorsitter van die DA se federale komitee, het gesê nadat die party regsadvies ingewin het, het hulle besluit om die Wes-Kaapse hooggeregshof te nader en te versoek dat Motsoeneng se aanstelling as groepbestuurder vir korporatiewe sake ter syde gestel word.

“Ons versoek die hof ook om ʼn beslissing te maak dat mnr. Motsoeneng nie bevoeg is om enige posisie binne die SAUK te beklee nie, nog minder ʼn uitvoerende posisie gegewe die string negatiewe geregtelike bevindings teen sy kwalifikasies en sy gedrag dwarsdeur sy ampstermyn,” het Selfe gesê.

Die SAUK se aansoek om teen ʼn uitspraak wat verlede jaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer is, te appelleer, is verlede maand deur die appèlhof met koste van die hand gewys. Die hooggeregshof het verlede jaar bevind dit was irrasioneel van Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, om Motsoeneng permanent as bedryfshoof van die SAUK aan te stel, gegewe die negatiewe bevindings in ʼn ondersoek deur Thuli Madonsela, die openbare beskermer.

Ná die appèlhof se uitspraak, het die raad van die SAUK wyd kritiek uitgelok toe hulle aangekondig het dat Motsoeneng voortaan as die groepbestuurder vir korporatiewe sake sal dien, ʼn posisie wat spesiaal vir hom geskep is.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir kommunikasie het verlede week besluit ʼn ondersoek sal gedoen word na die raad se bevoegdheid om sy amp te beklee, nadat die raad sy besluit om Motsoeneng weer in ʼn senior posisie aan te stel, verdedig het.

Selfe het gesê die party sal die hof ook vra om ʼn bepaling te maak rakende die geldigheid van die raad. “Die DA het bedenkinge oor die geldigheid van die grondwet van die SAUK-raad en of sy optrede in ooreenstemming is met die voorskrifte van die Wet op Uitsaaiwese waaronder dit val,” het hy gesê.

“Daarom sal die DA die hof ook vra om ʼn beslissing te maak oor die gepastheid van die huidige raad en regsekerheid te verskaf oor hoe die raad ontbind kan word en ʼn nuwe aangestel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Dit was irrasioneel om Faith Muthambi aan te stel, so ook zuma. Dis irrasioneel dat die anc ons regeer..

Theuns ·

Ons mense, die Media en Politieke Kommentators verstaan nie die onsaglike skade wat Motsoneng aangerig het met die verkoop van die SAUK Argiewe nie? Ek het op die forum so paar weke gelede daarteen gewaarsku en dat ons Burgerreg Organisasies gevra moet word om ondersoek intestel en om te kyk of hulle nie op een of ander manier die argiewe in die hande te kry nie! Nou moet ons verneem dat die argiewe vir ‘n skamele 20 Miljoen Rand verkoop is terwyl die Argiewe Miljarde werd is! Almal weet dat Multi-Choce nie die Afrikaner goed gesind is nie maar nogtans die waarde van die Argiewe ingesien het en nou die Afrikaner verder gaan melk want sy voorkeur kykers het nie die geld nie! Die argiewe bestaan uit klank en beeld opnames van oor ‘n honderd jaar plus. Daar is ook belangrike toesprake van al Suid Afrika se Eerste Ministers, Presidente ens. Die gesprekke met oorlewendes (Die Kamp Kinders) en nasate van die Anglo Boere Oorlog en die Oorloe wat gevolg het. In my boek is die verkoop van die die Argiewe die grootste kriminele daad in die Geskiedenis wat nog deur ‘n Staatsamptenaar gepleeg is!!!!

Theuns ·

Ons Politieke Partye, ons Kommentators, ons Media en Burgerlike Organisasies verstaan nie hoe groot die skade is wat aangereg is deur Motsoneng met die verkoop van die Argiewe aan Multi-Choice nie. Dit is ‘n bekendes feit dat Multi-Choice nie die Afrikaner goedgesind is nie en virseker die Argieve gaan gebruik om die Afrikaner te melk sodat Multi-Choice die geld kan gebruik om sy voorkeur kykers te kan subsideer ! Die Argiewe is meer as ‘n 100 jaar oud en bevat klank en beeld material van onskatbare waarde soos toesprake van Eerste Ministers, Presidente en ander belangrike persone. Die nasate en oorlewendes se gesprekke van al die Oorloe ens. ‘N opname van wat verlore is moet gedoen word en Motsoneng moet aangekla word en tronk toe gestuur word. Die transaksie tussen die SAUK en Multi-Choice moet omgekeer word!!

Jean ·

Kyk ek het gedink Malema is arrogant en self-gesentreerd totdat ek hierdie nar gesien het, in my lewe het ek nog nooit so iets beleef nie. Die ergste is hy het steeds ondersteuning en IEMAND luister steeds na al die snert en liegstories wat hy kwytraak.

trucker ·

Miskien MOET die blou span werklik die hof ssm Nader en minder praat.

annatjie ·

Dankie Theuns vir jou inligting. Sjoe het dit nie geweet nie.

lettie ·

Hlaudi het so n astronomiese narsistiese streep, ek twyfel of iemand of n hof hom uit sy pos sal kan verwyder.

GES ·

Hierdie verkoop van die argiewe is baie ontstellende nuus. Dit is natuurlik ʼn manier om die Afrikanergeskiedenis uit te vee. Ek hoop nie dit is te laat nie.

gerrit ·

Wonder net hoe Hlaudi betaal word.Is dit met die magtiging van die minister?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.