DA hof toe oor sluiting van skole

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die DA gaan hom tot die hof wend oor die regering se onlangse besluit om openbare skole vir die volgende vier weke te sluit weens ’n toename in Covid-19-infeksies.

John Steenhuisen, die DA-leier, het Vrydagmiddag tydens ’n virtuele mediakonferensie gesê die opposisieparty het reeds met sy regsverteenwoordigers vergader met die oog daarop om ’n dringende hofaansoek te bring om die regering se besluit in ’n hof te betwis.

Volgens Steenhuisen is die besluit om skole weer te sluit ’n politieke en nié ’n wetenskaplike besluit nie. Die DA is ook van mening dat die besluit nié in die belang van die land se 14 miljoen skoolkinders nie.

“Ons sal nie toelaat dat leerders ’n politieke speelbal word nie,” het hy gesê.

Die DA voer verder aan dat die besluit om die skole vir vier weke te sluit, irrasioneel is gegrond op beskikbare bewyse wat toon dat skole nie ’n hoër risiko vir leerders en personeel inhou as ander plekke nie.

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Steenhuisen het daarop gewys dat Covid-19-gevalle wat by ’n skool aangemeld word, nie noodwendig beteken dat die onderwyser of leerder die virus by die skool opgedoen het nie.

Belinda Bozzoli, die DA se skaduminister oor hoër onderwys en opleiding, het op haar beurt na statistieke verwys wat toon dat die tien kinders in Suid-Afrika wat reeds gesterf het aan Covid-19, aan ernstige onderliggende toestande gely het.

Volgens die opposisieparty het die regering geswig voor onderwysvakbonde se oproep om die skole se sluit. Dié vakbonde word gedryf deur vrees en onkunde, meen Bozzoli.

“Die virus gaan ná vier weke steeds met ons wees. Wat gebeur dán?” wou Steenhuisen weet.

“Die virus gaan met ons wees vir die volgende paar jaar. Ons moet leer om saam met die virus te leef,” het Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder vir onderwys, op haar beurt gesê.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat die land se openbare skole op 27 Julie sal sluit en weer op 24 Augustus sal heropen.

Gr. 12-leerders en hul onderwysers sal egter op 3 Augustus weer terugkeer skool toe terwyl gr. 7-leerders en hul onderwysers op 10 Augustus sal terugkeer.

Die huidige akademiese jaar sal weens dié ontwrigting tot in 2021 verleng word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wilhelm ·

DA, veg eerder vir onafhanklikheid van die Weskaap asb. Dit is iets wat julle kan wen, en dis ‘n werklike pad uit hierdie gemors.

Ronel ·

Na al die partytjies wat die afgelope naweek in Kroonstad was waar kinders.saam positiewe.gevalle gekuier het en blykbaar gaan dit die naweek weer gebeur, is ek dankbaar die skole is toe vir n ruk. Ja die virus gaan nog lank hier wees maar hopelik gee hierdie kans dat getalle kan daal en mense breins kan groei en nie toelaat dat hul kinders partytjies hou nie. Ons almal wil ons verjaardae vier maar ter wille van my en my gesin se gesondheid waarvan my een seun asma het, hou ons ons kuiers vir later.

Hano ·

Ek stem nie gewoonlik saam met die DA en hul liberale beleid nie maar hier ondersteun ek hul 100%.

Chris ·

Julle veg n verlore stryd. Die vakbonde besluit en bestuur hierdie land. Die ANC val maar net in by hulle besluite. Verder is die howe ook kop in een mus met die regering

marius ·

Hardloop maar hof toe tot julle blou is . Daar sal geen uitvoering geskied nie .

Debbie ·

Mens kan nie ophou lewe nie. Ons almal is blootgestel aan die virus. Onderwysers is nie meer spesiaal as ons nie. As ons nie werk nie, kry ons nie salaris nie. Politici gebruik ons kinders vir ‘n politieke speelbal. Ek dink dit is bitter onregverdig dat onderwysers weier om skool te gee en nog van jou verwag om die volledige skoolfonds te betaal. En dan moet jy ekstra data ook aankoop. Ek dink onderwysers se salarisse moet met 75 persent gesny word. Jy sal baie gou sien hoe gou planne gemaak word om kinders terug te kry by die skool. Die onderwysers sal dit maak werk. Ek dink unies in Suid-Afrika het hopeloos te veel mag. Onderwysers moet ook versigtig wees. Hierdie hele situasie kan in hulle gesig ontplof. As mense hulle wip en hulle kinders by tuisskool instansies inskryf, gaan onderwysers sonder werk sit. Wie gaan dan vir hulle werk gee? Die vakbonde en politici? Dink hulle die vakbonde en politici gee werklik vir hulle om?

Mulva ·

As u net kan noem waar en watter onderwysers “WEIER” om skool te gee. Snaaks hoe al die “ingeligtes” nie ñ benul het wat werklik by skole aangaan nie, maar steeds hulself so heftig uitspreek. Terloops duisende kinders kom oor ons pad, en ons is inderdaad spesiaal. Ons word sleg gesë, verneder, sleg behandel en al wat ons wil doen is om te werk en probeer om HOOP aan kinders in die hopelose land te gee.

Objektief ·

Stem 100% saam. En wees verseker voor die 4 weke verby is gaan dar verskonings gesoek word om nog by die huis te bly. ” no work no pay”

Debbie ·

Ek sê nie alle onderwysers steun die besluit van die vakbonde nie, maar volgens die media steun die meerderheid onderwysers die besluit om by die huis te bly en betaal te word. Ons waardeer wat onderwysers doen, maar ons almal moet daagliks gaan werk en die risiko loop om met die virus in aanraking te kom. Dit help nie om in vrees te lewe nie. Die ekonomie moet voortgaan. Ek wil ook net noem – en ek sê dit is alle onderwysers nie, maar ek kry die idee onderwysers stel meer belang in hul vakansies as om ons kinders te help. Hoekom maak ons nie byvoorbeeld vakansies korter nie? Ek dink matrieks veral sal baie baat vind daarby. Ek sê dit is nie alle onderwysers nie, maar jou hoofstroom hoërskole stel net belang om kinders in die skole te hê wat akademies baie goed vaar. Kinders wat die onderwysers goed laat lyk. Hulle sal ‘n kind invat wat sukkel sodat die getalle reg is, maar sodra die kind te veel sukkel word sy ouers gevra om die kind uit die skool te haal.

stargazer ·

Maar tog het die DA ingestem vir 2 weke verlof vir die arme onderwysers wat so hard moet werk van die huis af. Kop in een mus en Wil nou politieke punte maak. Sies

Mariana ·

Wat beteken die verlenging van skooljaar tot 2021. Kinders moet nou skoolgaan nie by die huis sit sodat die regering sy speletjies kan speel. Hoop die DA slaag in hul poging om ons kinders te help. Die unies slaan die kitaar in die land en die spul dans, ten koste van ons kinders.

Blomme ·

As die mense regtig die kinders se belange op die hart dra sal hul daarteen waak om die kinders in diè onseker tye verder te verwar. Watter boodskappe word aan die kinders oorgedra? Meningsverskille… Hof toe! Hoekom probeer die DA nie eerder nou die kinders gemoedsrus gee deur te help om ń oplossing te vind oor hoe die skoolkurrikilum vir die res vd jaar daaruit kan sien wat kan help om steeds die beste uit ons kinders te kry. Mens raak regtig moeg vir die oor en weer bakleiery net om ń statement te maak. Die kinders is steeds die leidende partye in dit alles. Nou hoor die kinders skole gesluit in hul beswil.. Op dieselfde tyd hoor hulle weer uit andee oorde… skole moet oopmaak in hul beswil. Ai! Arme kinders en die politieke leiers score big time by ewe verwarde ouers!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.