DA-hoofsweep in uMngeni vermoor

Raadslid Nhlalayenza Ndlovu. (Foto: Facebook)

Die DA se hoofsweep in die uMngeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is Dinsdagaand koelbloedig in sy huis doodgeskiet.

Nie minder nie as tien skote is na bewering afgevuur voordat raadslid Nhlalayenza Ndlovu se moordenaars op die vlug geslaan het.

Francois Rodgers, DA-leier in KwaZulu-Natal, sê na sy wete het twee gewapende mans omstreeks 17:30 deur die voordeur gebars en Ndlovu by sy slaapkamer ingeboender waar tien skote op hom afgevuur is.

Rodgers sê Ndlovu se vrou, twee jong kinders en die gesin se kinderoppasser was ten tyde van die moord tuis, maar is ongedeerd.

Die motief vir die voorval is in die stadium nog onbekend.

Dit wil voorkom of die moord op Ndlovu moontlik met onwettige kragverbindings in die omgewing verband kan hou. “Maar ek wil natuurlik nie in die stadium bespiegel nie. ’n Saak is by die polisie aanhangig gemaak,” het Rodgers Woensdagoggend aan Maroela Media gesê.

Raadslid Nhlalayenza Ndlovu. (Foto: Facebook)

Rodgers het sy skok oor die moord uitgespreek en ’n beroep op die polisie gedoen om spoedig op te tree.

“Die inwoners van die uMngeni-munisipaliteit het ’n nederige dienskneg verloor wat altyd die behoeftes van diegene wat hy bedien bo sy eie gestel het. Hy sal baie gemis word.”

Zwakele Mncwango, provinsiale voorsitter van ActionSA in KwaZulu-Natal, het vanoggend in reaksie gesê die kommerwekkende toename in politieke moorde in KwaZulu-Natal is uiters kommerwekkend “met min ingryping van ons wetstoepassingsagentskappe”.

“Ons hoop dat die owerhede die nodige ondersoek sal doen en verseker dat diegene wat vir hierdie sinnelose daad verantwoordelik is, aangekeer word.

“Mag Nhlalayenza Ndlovu se nalatenskap van diens en toewyding aan sy familie en die mense van uMngeni ons bron van krag wees gedurende hierdie moeilike tyd.”

Maroela Media het vanoggend ’n navraag aan die KwaZulu-Natalse polisie gestuur en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Cyril, vertel ons weer dat daar nie iets soos politieke moorde is nie.

JohanR ·

ANC het betaal, EFF het die skieters gekies, en taxi’s het hulle aangery. DA julle moet nou beter begin beskerm hier voer die verkiesing. Die ANC en EFF het allehande truuks!

Andre ·

…die A en C sal die koalisie- planne op enige manier stuit; en onse Julius wag ook nog sy kans af om chaos te saai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.