DA-hoofsweep uit Sona-debat gegooi

LPs Woensdag tydens die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

LPs Woensdag tydens die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die debat oor pres. Jacob Zuma se staatsrede is Woensdag byna verdaag nadat die voorsitter van die vergadering, Raseriti Tau, die DA gevra het om die nasionale vergadering te verlaat.

Tau het hom vererg toe John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, gesê het hy praat “nonsens” toe hy beslis het ʼn aanmerking deur Mosiuoa Lekota, die leier van Cope, oor politiese faksies is onparlementêr.

Steenhuisen het vir Lekota opgekom en Tau daarvan beskuldig dat hy bevooroordeeld is jeens die opposisiepartye. “Jy praat nonsens,” het Steenhuisen gesê en geweier om die aanmerking terug te trek toe Tau hom beveel om dit te doen.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Steenhuisen verdedig wat nog twee keer sy aanmerking herhaal het. Tau het hom beveel om die vergadering te verlaat en Steenhuisen het gesê, “Gelukkig hoef ek nie na jou nonsens te luister nie”, voordat hy uitgestap het.

In reaksie op hierdie aanmerking het die DA-koukus opgestaan en vir Steenhuisen hande geklap. Tau het gereageer deur te sê hy het geen ander keuse as om die DA te vra om die vergadering te verlaat nie.

Stone Sizani, die ANC se hoofsweep, het voorgestel dat al die partye se hoofswepe vergader om die saak op te los.

Nqabayomzi Kwankwa, LP van die United Democratic Movement, het Tau gevra om redelik te wees en gesê Lekota het nie die waardigheid van ʼn LP aangetas nie aangesien hy nie na ʼn spesifieke individu verwys het nie.

Wilmot James van die DA het Tau daaraan herinner dat nóg die woord faksies nóg nonsens onparlementêr is.

Kwankwa het benadruk dat die publiek die debat op televisie volg en dat daar moontlik ʼn persepsie van bevooroordeling geskep kan word. “Ons wil nie hê mense moet dink dat ons reëls vir die DA en die EFF het nie,” het hy gesê.

Tau het volgehou dat hy beledig voel deur Steenhuisen se aanmerking en het toe ontken dat hy aan die DA gesê het om die vergadering te verlaat. “Ek het gesê die DA se gedrag sal my met geen keuse laat as om hulle te vra om die vergadering te verlaat nie,” het hy gesê.

Mike Walters van die DA het aan Tau gesê om die klankopname van die vergadering na te gaan om te hoor wat hy gesê het.

Die debat het kort na 17:00 tydelik verdaag.

Lees alle vorige berigte oor Staatsrede 2016 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

DPJ ·

As enige ANC lid te na gekom voel raak hulle agresief. Ek het na die uitsending gekyk en geluister en kan dit bewestig. Nou wil hy dit ontken soos Zuma oor sy huis.

Ronel ·

Ons hele parlement is een groot klug. Snaaks net sekere bevoorregtes het toegang tot “freedom of speach”. Tyd dat almal maar uitloop, al wie se opinie tel is die ANC sin. Die sirkus en klomp narre raak nou boring.

François ·

Ag Ronel, jy weet wat? Die ANC met al sy skoothondjies & parlementslede, Stastspresident inkruip, ly aan ‘n geweldige minderwaardigheids kompleks! Die arme bloedjies is baie onseker van hulself.

Oom Boer ·

Die cANCer met sy Parlement en hul optredes het al ‘n lagstuk geraak vir die buiteland en is ‘n goeie sirkus vermaak vir sy eie land se inwoners.

GES ·

Rommel status, ons is oppad ….. Alles het reeds so ‘n bespotting geword dat daar feitlik niks meer oor is wat ernstig opgeneem kan word nie.

Michael ·

Dit is wat gebeur as jou eerste burger en staatshoof nie laerskool voltooi het nie

Henri ·

Die meer akkurate vertaling van “Rubbish” is “gemors”, Maroela. Die man het nie gese “Nonsense” nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Henri

Dankie vir jou terugvoer.
Die woord “gemors” in Afrikaans beteken:
1 voortdurende handeling van mors, morsery vuilmakery
2 iets wat vuil is
3 geknoei, mislukking
4 verkwisting
5 iets van ‘n baie swak gehalte
6 onaangename lastige situasie

Die woord “nonsens, nonsies” beteken:
onsin, kaf (Nonsies praat. Dis alles nonsies daardie. Nonsens man, jy weet is nie die bedoeling nie. Jy moet nou loop, jy is besig om nonsens te praat. Totale nonsens.)

Die gebruik van die woord “nonsens” in hierdie konteks, is dus die enigste korrekte Afrikaans.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Gwen ·

Suné, aangesien jy hier ronddwaal kan jy my dalk antwoord. Waarom het ons nog nie die VF+ of enige ander opposisieparty se repliek op die staatsrede (buiten dié van die DA en EFF) gesien nie? Waarom gee Maroela voorkeur aan die DA wat ’n uitgesproke anti-Afrikaanse party is en die EFF wat ’n anti-Blanke party is?

Gwen ·

Dankie Suné. Waarom verskyn dit nie op die voorblad saam met die res van die nuus nie? Of is dit omdat dié van Maimane en Malema vertaal is van ANA af?

P.Buizer ·

“Madam Speaker, Madam Speaker. On a point of order…………..” Ek wenste dat die Parlement met onmiddellike ingang ‘n besluit wou neem dat geen enkele interrupsie toegelaat gaan word nie. Op strawwe dat iemand wat die driekeer doen, vir die res van die dag uit die vergadering geskors gaan word met verlies van betaling van besoldiging vir daardie dag.
Om iemand se toespraak te onderbreek is om die minste te sê, ongemanierd. So’n persoon het die reg gekry om te praat. Deur hom te interruppeer kan jy hom van sy gedagtegang afbring; jy trek die mense se aandag van hom af en rig dit op jouself en jy wys van jouself dat jy nie alleen nie verstaan wat demokrasie is nie, dit bewys ook ‘n groot gebrek in jou opvoeding. Jy verhinder dat die vergadering nie behoorlik aandag kan gee aan die bespreek van kwessies waarvoor die vergadering belê is nie en is ‘n vermorsing van baie tyd (sowel van die teenwoordige lede as hulle wat dit op T.V. volg) en geld.
Eintlik is dit ‘n reël wat moet geld vir enige debat of in geselskap, maar min mense is ooit geleer wat ‘n behoorlike beskawing en gedrag beteken nie.
Om so vergaderinge te ontwrig is ‘n absolute skande en behoort met wortel en tak uitgeroei te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.