DA hou voet by stuk oor De Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, kort voordat die uitspraak gelewer is. Foto: Chantall Presence/ANA

Patricia de Lille se vreugde oor haar oorwinning Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof kan moontlik van korte duur wees aangesien die DA reeds aangekondig het dat hy weereens ʼn mosie van wantroue teen die Kaapstadse burgemeester gaan instel.

Die hof het Woensdag in De Lille se guns beslis deur te bevind dat die DA sy eie grondwet en reëls oortree het toe hy De Lille van haar lidmaatskap onthef het. Die DA het staatgemaak op ʼn klousule in die party se grondwet wat dit stel dat enige lid wat in die openbaar sy of haar voorneme aankondig om die party te verlaat, se lidmaatskap vanselfsprekend beëindig word.

Die hof het egter dié besluit onwettig en onregmatig verklaar en dit ter syde gestel.

Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, het ná die uitspraak gesê die party sal die hofuitspraak bestudeer en verdere regsopsies, waaronder die moontlikheid van ʼn appèlaansoek, oorweeg.

Mazzone het beklemtoon dat die hof slegs na tegniese en prosedurele kwessies gekyk het en nie uitspraak gelewer het oor die meriete van die saak nie. “Die feit bly dat die Stad Kaapstad-koukus wat deur De Lille gelei is, gesê het lede het vertroue in haar leierskap verloor.

“Die koukus het dit gestel dat haar leierskapstyl verdelend en outokraties was en dit moeilik gemaak het vir raadslede om hul pligte na te kom, asook die mense van Kaapstad te bedien en dienslewering te handhaaf.”

Mazzone het gesê leierskap gaan daaroor “om die mense wat jy lei, saam met jou te neem”. Dit is daarom onmoontlik vir iemand om ʼn koukus te lei wanneer 75% van dié mense nie meer vertroue in hul leier het nie.

Daar is volgens haar steeds talle vrae oor beweerde oortredings deur De Lille wat die burgemeester nou nog nie beantwoord het nie. “Sy het eerder probeer om die publiek om elke hoek en draai te mislei en te verwar,” het sy gesê.

“Die DA verstaan hoe ʼn deurmekaar tyd dit vir die mense van Kaapstad is. Geen politieke party hou daarvan om ʼn baie openbare en morsige bakleiery met een sy burgemeesters te hê nie. Maar ons het geen ander keuse as om die hoogste standaard van leierskap van ons uitvoerende leiers te verwag nie. In teenstelling met ons mededingers, het ons die politieke wil om die moeilike goed te doen sodat ons getrou aan ons waardes bly. Ons sal nie van stryk gebring word nie.”

De Lille het ná afloop van die hofuitspraak aan African News Agency gesê sy voel die hofuitspraak het haar reg bewys. Dit is nie net ʼn oorwinning vir haar nie, maar ook vir die inwoners van Kaapstad.

“Nou kan ek teruggaan – meer as ooit vol energie om die armes, die benadeeldes en die weerloses in ons stad te dien,” het De Lille gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

johan brits ·

Dankie maar needankie ek sal nooit vir die DA stem nie.

TDW ·

Hannetjie, die antwoord is VF+
Ek het altyd vir DA gestem, maar Moesie het my heeltemal vervreem van hulle.

LB S ·

Sjeim, moenie vir DA stem nie en gee die ANC en Malema meer kans….

Dries ·

En ek was onder di indruk dat net di ANC in n warboel is…

MC ·

As antie Pat ook nie die DA in die nuus hou nie, sal ‘n mens hulle nie meer sien nie, want ek weet nie eers of Moesie nog in die land is nie, mens hoor en sien niks van hulle nie, gewoonlik baklei hulle orals en kom nerens , dis alles net ‘n sirkus.

Raad op!! ·

Hoekom nie net die saak nou daar laat nie?? Fokus liewer op die belangrike kwessies waarmee Suid Afrikaners elke dag konfronteer word. Dis hierdie tipe interne werksfetes en uitsprake deur lede wat die DA net skade aandoen en laat wit en bruin stemme verloor.

As ‘n jongboer van Ceres sal dit geen sin maak om vir ‘n ander party te stem as die DA nie, aangesien die ANC munisipaliteite soos ‘n seer duim uitstaan tussen die ander DA dorpe in die provinsie, maar ‘n verdeelde DA voorspel niks goed vir volgende jaar se verkiesing nie.

Sort julle nonsens uit en doen waarvoor julle betaal word (om die mense te dien) anders gaan julle lojale DA ondersteuners soos ek en menige ander in die boerdery gemeenskap ook een vir een begin verloor.

Daan Erasmus ·

Een swaeltjie maak ‘n somer nie. As die een swaeltjie weg is, is dit nie noodwendig winter nie. Die DA moet in belang van Suid Afrika se voortbestaan, beleid hê wat wyd aanklank vind. Help nie jy het ‘n beleid soos die HNP en jy kry 40 stemme nie. As jy almal tevrede stel is jy besig om droog te maak.

Pietman ·

My respek vir die DA verloor – ten minste 8 stemme verloor van wie ek weet.

Jongboer van Ceres ·

Sien my vorige post is nie goedgekeur nie…

Hoop die DA los nou maar hierdie saak net daar, en doen waarvoor hulle betaal word!! Dit help nie hulle jaag hulle bruin stemme deur hierdie saak en wit stemme deur ons leier se uitsprake die laaste tyd na groener wie velde nie. Suid Afrika het ‘n sterk opposisie nodig, en ongelukkig is net die DA naby groot genoeg om teen die ANC en EFF te staan.

As ‘n lojale DA ondersteuner meestal oor hul goeie dienslewering hier rondom ons in die Wes Kaap, hoop ek hulle kan nou hierdie verdeeltheid stop en die belangrike kwessies waarvoor ons hulle met ons stemme toe vertrou het sal begin aanspreek en die ANC van voor af begin gas gee.

Indien die DA nie binnekort hulle sake in orde kry nie gaan hulle ongelukkig nog baie lojale DA lede soos myself en baie ander in die boerdery gemeenskap wegbloei in die maande wat kom voor die verkiesing.

alwyn burger ·

Die DA is die enigste party wat SA verder die eeu kan inneem…….as hulle , hul onderlike kleinlikheid kan afskud. Begraaf die interne bitsigheid en slen die olifant in die kamer raak!!

ivy ·

Dit is baie goeie nuus dat de Lille haar saak gewen het.Sy het al baie goed gedoen vir die kaaenaars. Die mense kan haar gerus nou los.. Doen jou ding ,Pat.

volla ·

Sy’t gesê sy gaan loop as die hof haar reg bewys het en nou? Sy’s ‘n moeilikheidmaker, was nog altyd.

Koos ·

Het geen ooghare vir De Lille nie maar ook nie veel vir Mazzone nie. Hulle mag dalk verras wees oor hoe party DA-lede volgens etniese riglyne stem en die mosie in die hek duik, veral as die ANC en ander partye vir Patty steun. Sê dankie vir Zille wat Antie Pat oorgenooi het DA toe. Lekker man, lekker! Kleurkaart byt nou seer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.