DA in hof oor regulasies wat voedselhulp beheer

(Argieffoto ter illustrasie)

Die DA pak Vrydag die minister van maatskaplike ontwikkeling in die hof oor die omstrede voorgestelde regulasies wat die verspreiding van voedselhulp reguleer.

Die aansoek kom nadat Lindiwe Zulu se departement ʼn verbod op sopkombuise geplaas het en afsonderingsregulasies verskerp het wat die verspreiding van voedselhulp deur nie-regerings- en welsynsorganisasies belemmer. Die konsepregulasies is twee weke gelede afgekondig en word afgedwing hoewel dit nog nie gepromulgeer is nie.

Die DA sê talle van die organisasies is deur polisielede of ander amptenare beveel om die uitdeel van kos te staak. “Ons glo duisende mense ly weens die besluit honger of aan wanvoeding,” het die DA-lid James Lorimer gesê.

Die DA voer in hofstukke aan die regulasies is “vaag, irrasioneel en onbillik” en is opgestel op ʼn manier wat prosedureel onregverdig is. Die party voer ook aan dit beperk die reg op toegang tot kos soos vervat in die Grondwet.

Die DA vra dat die afdwing van die regulasies onregmatig verklaar word en dat die minister en die nasionale polisiehoof dit onder die aandag van hul lede moet bring. Die party vra ook die hof om Zulu te verbied om regulasies in hul huidige “onregmatige en ongrondwetlike formaat” uit te reik.

Indien die regulasies wél behoorlik deurgevoer word teen die tyd dat die saak aangehoor word, vra die DA die hof om die bepalings tersyde te stel.

Die DA voer aan die regulasies word afgedwing asof dit reeds wetgewing is, terwyl dit nog nie behoorlik uitgevaardig of afgekondig is nie en vra die hof om dié onregmatige optrede te stuit.

In sy hofstukke sê die DA as daar voortgegaan word om die regulasies onregmatig af te dwing, dit die kwesbaarste en behoeftigste mense in die samelewing van kos gaan ontneem. “Dit gaan die reg op toegang tot kos bedreig van duisende mense wat geen ander manier het om hulself te voed nie.

“Die gevaar van massahongersnood is ʼn werklikheid. Dit kom boonop op ʼn tydstip in ons land wanneer al hoe meer mense honger ly omdat hulle nie meer ʼn inkomste het nie en nie sonder hulp toegang tot kos het nie,” lui die aansoek.

Die DA sê in ʼn verklaring Zulu het tydens ʼn portefeuljevergadering ontken dat sy voedselverspreiding verhoed, maar haarself toe weerspreek deur die regulasies te verdedig omdat dit “koördinering verseker”.

(Argieffoto)

“Enigeen wat glo die departement van maatskaplike ontwikkeling, wat nie eens behoorlik Sassa-toelae kan betaal nie, kan binne twee weke ʼn landswye netwerk op die been bring om miljoene mense te voed, is onder ʼn wanindruk,” het Lorimer gesê.

Hy sê duisende formele en informele organisasies voed mense en is goed ingelig oor waar hulp die nodigste is en dat die regering die gapings moet vul.

“Ons weet Zulu huigel en spartel. Wat ons nie weet nie is of sy regtig glo dat haar departement so doeltreffend is dat dit miljoene kan voed – iets wat reeds deur die feite verkeerd bewys word – en of sy net so sinies is dat sy nie omgee dat mense omkom van die honger solank sy kos beheer vir die doel om stemme te werf nie.”

Maroela Media het vroeër onder meer berig oor Cradle of Hope, ʼn sentrum in Krugersdorp wat verbied is om varsgemaakte grondboontjiebroodjies aan behoeftiges uit te deel. Die sentrum wend hom nou ook tot die hof oor die regulasies oor die uitdeel van kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Sou die VF nie ook die regering oor een of ander regulasie hof toe vat nie? Hoe vorder hulle daarmee?

Fedup ·

Between zulu, the da and the unreliable court, those poor people will never see those food parcels.

PieterP ·

In 26 jaar kon die regering nie eens water en toilette by skole kry nie nou wil hulle die taak aanpak met hulle onbevoegdheid?

marius ·

Hierdie mense wil he dat mense so verhonger word dat hulle alles plunder . Dan gaan hulle almal afhanklik maak van die staat . Honger verarmde mense is die maklikste slawe op aarde wat geen weerstand kan bied nie . Dis die waarheid .

Elsa ·

Ek het ñ voorstel. Geen voedsel vir enige partementslid of gesinne vir 2 weke. Kom val in die tou vir n kospakkie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.