DA is onbillik, sê advokaat vir Kaapstad-burgemeester

Patricia de Lille in die hof (Foto: Cindy Waxa/ANA)

Die Demokratiese Alliansie is onbillik en probeer om Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille, sonder behoorlike regsprosedure ontsetel, het haar regspan Dinsdag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê.

Adv. Dali Mpofu, vir De Lille, het gesê die DA het ten doel om De Lille uit te skop sonder behoorlike regsprosedure, soos ʼn verhoor. “Dit is die politieke ekwivalent van ʼn doodstraf. Ons het almal ʼn reg tot ʼn verhoor as ons beskuldig word, en om dan afgedank te word indien nodig.”

De Lille staar later vandeesweek ʼn mosie van wantroue in die gesig en sy het die hooggeregshof genader om seker te maak dit geskied deur ʼn geheime stem.

Mpofu het gesê daar is diegene wat dapper genoeg sal wees om sonder ʼn geheime stem ten gunste van die burgemeester te stem en nie bekommerd sal wees om hulle werk te verloor nie, maar daar is ook diegene wat hulself nie as “selfmoordbomaanvallers” sien om ten gunste van De Lille te stem sonder ʼn geheime stem nie.

Volgens Mpofu, het De Lille gesê: “Ek wil nie ʼn interdik bekom teen die stemmery nie. As lede van die raad wil hê ek moet gaan, dan sal ek gaan. Ek vra net dat die lede nie Donderdag met ʼn geweer teen hulle kop moet stem sonder ʼn geheime stemmery nie.”

Die burgemeester wil ʼn DA-beleidsbesluit omkeer dat raadslede slegs ʼn geheime stemmery gegun word as dit oor doodstraf of aborsie handel. Sy verwerp ook die party se posisie dat die onlangse uitspraak in die konstitusionele hof, dat die speaker van die parlement die reg het om ʼn geheime stemmery tydens ʼn mosie van wantroue mag toelaat, nie op plaaslike raadsvlak van toepassing is nie.

De Lille het gesê die party se weerstand teen ʼn geheime stemmery is ʼn duidelike aanduiding dat dit ʼn volslae gevolgtrekking is dat sy as burgemeester ontsetel sal word.

Die hofaansoek kom ná die DA aanklagte van omkopery en korrupsie teen De Lille aanhangig gemaak het en haar van wangedrag beskuldig het. Die korrupsieaanklagte hou verband met ʼn beweerde poging deur De Lille om in 2012 ʼn bedrag van R5 miljoen in omkoopgeld te bekom van ʼn sakeman van Vanderbijlpark, Anthony Foul. Sy wou glo die geld kry in ruil vir haar ondersteuning vir Foul se maatskappy om brandblussers aan Kaapstad se informele nedersettings te verskaf.

De Lille ontken hierdie bewerings en sê die beskuldigings is net nóg ʼn poging om haar naam skade te berokken.

Die mosie van wantroue sal Donderdag om 10:00 by die raadskamers by die Burgersentrum aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Strydom ·

Dit sal jammer wees indien sy werklik skuldig is want sy was op haar tyd ‘n vegter en daarom glo ewk nie sy sal sommer orgee nie. Die ander vraag is of,wanneer jou eie Party teen jou te staan kom dit nie maar beter is om te gaan nie. Hoe gaan jy jou eer beskerm. Die DA is, wat my aan betref bekend om hulle eie mense die rug tedraai. Dink maar aan Zille en Kohler-Barnard.

Veritas ·

Die burgermeester van die mees effektief bestuurde metro, het ewe skielik in onguns verval. Ek ruik ‘n rot daar in die Kaap. Hier kom ‘n baantjie vir boeties storie, as jy my vra.

John ·

Hoekom klink De Lille nou so baie soos Zuma?
Waarom soek sy almal se ondersteuning en aanvaar nie maar dat sy haar deel gedoen en nou plek moet maak vir ‘n nuwe gesig op die voorblaaie nie of is sy nou ‘n immer-immer-queen?

Callie ·

Hoekom is stemmery nie net in geheim nie. Dan sal elkeen stem soos wat hy glo. As jy dit nie wil toelaat nie het jy dalk meer geraamtes in kas as die een wat jy wil uitkry

Weegskaal ·

Ag Adv Dali MPOFU is so diep ingekruip dis net nie waar nie. DOODSTRAF? Regtig? Gedog jy is ‘n goed gekwalifiseerde advokaat, maar helaas. Laat sy waai as sy moet waai, hoekom word sekere mense beskerm, ek gee nie om of jy DA of VF of ANC is nie, jy moet ondersoek word as daar aantygings van korrupsie teen jou is en jy moet waai as mense jou nie meer vertrou nie .. end of story!

Denise ·

Hoekom skielik al die aandag op haar wat van al die ander wat weg kom met biljoene wat net verdwyn het of soek is en dit net in die een party nee wat dit is een groot bedrogspul en die land is kapoet niks funksieer meer nie dit gaan nou net van BAD TO WORST !!!!!!!

Mamma ·

Dit is vir my interessant dat haar advokaat ‘n EFF-grootkop is. Ons moenie vergeet dat De Lille 20 jaar gelede gesê het dat alle wit mense in die see gejaag moet word nie. Toe dit haar pas, toe is sy die DA se geheime wapen en nou beur sy weer na die EFF. Miskien nie so ‘n wonderlike leier soos wat ons gedink het nie, maar watter politikus is?

Sheriff ·

Jou komentaar spreek boekdele… Dit is voor die handliggend dat De Lille om al die verkeerde redes die rug gekeer word. Ek ruin n rot…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.