DA kap Ramaphosa oor grondonteiening in debat

Mmusi Maimane, leier van die DA.

Die DA het Maandag in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede die nuwe president aangeprys, maar tegelyk ook skerp gekritiseer.

“Dit het Vrydagaand goed gevoel om ʼn Suid-Afrikaner te wees. Toe ek opkyk en pres. [Thabo] Mbeki sien toe onthou ek sy bekende woorde “ons is almal Afrikane”; toe ek opkyk na adjunkpres. FW de Klerk, toe onthou ek die gees van versoening wat steeds in ons are vloei in die jaar waarin ons Mandela se 100ste jaar vier,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, gesê.

Maimane het met verwysing na Ramaphosa se uitlatings oor grondonteiening sonder vergoeding gesê dit is ʼn moeilike keuse wat gemaak moet word en die hoop uitgespreek dat Ramaphosa in die bresse sal tree vir die integriteit van die grondwet.

“Vrydag het jy die woorde van die grondwet, wat jy help skryf het, benadruk. Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon. Dapper leierskap vereis dat jy die druk van jou party weerstaan om die wette soos dit vervat is in die grondwet te verontagsaam, insluitend eiendomsregte. Hierdie eiendomsregte hou die hele ekonomie staande – soos jy self weet danksy jou suksesvolle sakeloopbaan.

“Die onteiening van grond deur middel van die Wet op Naturelle-grond van 1913 was apartheid se oorspronklike sonde. Die gevolge daarvan word vandag steeds in die samelewing gevoel en moenie ʼn fout maak nie, dit moet aandag kry. Ons kan dié ongeregtigheid takel op ʼn manier wat die wet en die regte van huidige en toekomstige grondeienaars respekteer.

“Ons kan grondhervorming bespoedig deur korrupsie en oneffektiwiteit uit te roei. Ons moet opkomende swart boere met wettige grondeienaarskap vertrou en nie net as permanente huurders van die staat nie. Laat dié wat die grond bewerk die grond besit. Ons kan ʼn groeiende, diverse landbousektor hê waarvan wonderlike produkte die wêreld se rakke volstaan, maar ons kan dit absoluut nie hê as boere nie weet of en wanneer hul grond sonder vergoeding van hul weggeneem gaan word nie.

“Grondonteiening sonder vergoeding strook nie met ʼn groeiende, bloeiende ekonomie nie. Jy kan die een of die ander hê, maar nooit albei nie. Dit is waarom ons bure in Zimbabwe wat so ʼn rampspoedige en verwoestende beleid gevolg het dit nou omkeer en hul ekonomie moet herbou.”

“Mede Suid-Afrikaners, ons het vandag ʼn unieke geleentheid. Ons het ʼn korrupte president verwyder en ons werk is nou om die geknakte land wat hy agtergelaat het reg te ruk.”

Maimane het gesê hy glo regtig dat Ramaphosa die “nuwe dagbreek” wat hy belowe het vir Suid-Afrika wil hê en wil sien plaasvind. “Ek wil ook my en my party se ondersteuning vir dié doel bevestig.”

Maimane het melding gemaak van die onderrigstelsel waarin “militante belange van vakbonde voor die belange van ons kinders geplaas word”.

Hy het gesê daar moet erken word dat die skoolstelsel in ʼn krisis gedompel is. “Ons het daarin misluk om ons kinders voor te berei vir die toekoms wat hulle verdien. Leerders in ons armste skole kan nie meeding met leerders in die rykste skole nie. Dit versterk net die ongelykheid.”

Hy het verder vinger gewys na die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu) en sy “toksiese invloed”.

Hy het ook gesê dit moet makliker gemaak word vir jong mense om toegang tot werk te kry deur nepotisme, omkopery en korrupsie uit te roei. Maimane het ook voorgestel dat kleiner ondernemings vrygestel word van wetgewing oor die minimumloon.

Toe hy oor die gesondheidsektor gepraat het, het hy melding gemaak van die Life Esidimeni-tragedie en gesê dat hy die Here dank dat so iets nie met sy gestremde familielid gebeur het nie.

“Ek hoop dat ons saam kan werk om te verseker dat elke beampte en politikus wat betrokke was ten volle verantwoordbaar gehou word. Een van die redes vir so ʼn tragedie is die gaping tussen wat sommige beamptes verdien en wat hulle weet van wat in hul eie departemente aangaan.”

Maimane het ook Ramaphosa se toewyding om sy kabinet te verklein verwelkom. “Met 35 ministeriële departemente wat elkeen ook ʼn adjunk het, is ons regering een van die grootstes ter die wêreld. Dit is 100% moontlik om dit te verminder na 15 departemente. Dit sal ons sowat R4,7 miljard per jaar spaar.”

Maimane het ook ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om verskeie ministers af te dank. “Wys vir Suid-Afrika jy is ernstig om korrupsie in jou party te beveg en dank vir Bathabile Dlamini, Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane, Malusi Gigaba, Des van Rooyen, David Mahlobo, Lynne Brown en Bongani Bongo af.”

Maimane sê dis maklik om die land se probleme op een man te pak, maar staatskaping sou volgens hom nie gebeur het as dit nie vir die ANC se beleid was om kaders in staatsinstellings te ontplooi nie.

“Die grootste applous was Vrydagaand toe hy onderneem het om kaderontplooiing in die rade van staatsinstellings te beëindig en homself daaraan gewy het om bekwame, ervare persone aan te stel.”

Maimane het ook ʼn voorstel gehad vir Ramaphosa oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens. “Dit moet opgedeel en verkoop word soos dit al menigmale suksesvol reg oor die wêreld gedoen is. En ons moet die Eskom-monopolie rakende die opwek van krag beëindig en onafhanklike kragvoorsieners en hernubare energiebronne verwelkom.”

Maimane het afgesluit deur te sê Ramaphosa is nie net ʼn president van ʼn party nie. “Jy is ons president en ek is trots om jou so te noem. Ons sal jou ondersteun wanneer jy doen wat reg is, maar as jy foute maak, soos jy sekerlik sal, sal ons jou verantwoordbaar hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

L ·

Hoe weerspreuk die hipokraat homself nou. Klink so wonderlik wat hy se, terwyl Hoerskool Overvaal se optog stof nog onder sy skoensole sit?! Sal alleenlik na VF Plus opkyk, wat my nie sàl verraai, of in verleentheid plaas nie. As hulle praat, kan jy maar luister.

zoom zoom ·

DA se MM probeer so hart om braaf te wees. Hy is ‘n pion van homself en probeer so hart om die wittes en kleurling gemeenskap se stemme te kry maar intussen is die DA besig om uitmekaar te breek. Hoekom want elke een bo in die DA wil ‘n stuk van die koek hê .

Jona ·

Passop maar vir Mmusi, hy steek altyd kop uit net met sekere dele, onthou hoe vinnig hy sy rugdraai en hoe vinnig hy almal beskuldig, hoe hy weghardloop.

jack daniel ·

Oefen die knaap met die hoop om die volgende SONA te lewer.
Lawaaiende vuvuzela!

honourable member ·

Die ANC het hierdie groot staatsdiens geskep nou wil hulle dit weer verklein.

Werner ·

Vat nie veel om julle lot ore aan te sit nie ouMusi probeer net n paar stemme te kry

FM ·

Ek kry respek vir Maimane omdat hy vir ons grondeienaars in die bres tree. Hy het ten minste die guts om in die parlement op te staan vir ons. Party van julle sal natuurlik n beter oplossing hê, MAAR dit sal n onwerkbare onrealistiese een wees. Beweeg tog asb saam met die tyd mense. Ons lewe nie meer in Jaap se tyd nie.

CG ·

So hy tree in die bres vir grondeienaars? Wat het hy oor plaasmoorde gesê?

Piet ·

Jy bedoel seker ons is nie meer in Oom Jaap se tyd nie. Bietjie respek in jou toon sal waardeer word.

LB S ·

FM, vergeet maar, sommige mense kyk net een rigting, hulle is te bang om bietjie om hulle te kyk en te sien hulle is verkeerd, dat hulle steeds rassisties is en NIEMAND behalwe die VF+ kans sal gee nie. Het hulle bietjie GELUISTER wat Terror Lakota kwytgeraak het? Nee, want hulle wil vir geen swartman luister nie. Dit sal my nie verbaas as Cope en DA nog ‘n koalisie vorm nie, sal baie beter wees as met die EFFers wat niks in gemeen het met hulle nie!

Emma ·

Vat die staat se grond en aan die wat grond toegeken is maar nie kan boer nie, vat dit terug en gee vir mense wat bereid is om moue op te rol asb.

Louise ·

Klink vir my positief. As almal net wil hou by dit wat hul belowe sal dit goed gaan in ons land. Ten minste is ons president n geleerde man met regte kwalifikasies

Gawie ·

Well done Mmusi!!! Dis die gees. Lankal verby die punt waar ek omgee wie in beheer van die land is, dit gaan eerder daaroor dat die persone in beheer die regte en eerlike besluite neem en die regte dinge doen.

CG ·

En jy kan nie ‘n verband sien tussen wie die land regeer en of die land goed regwer word nie?

thana ·

Daar is ongelukkig dinge wat die DA ondersteun wat maak dat ek hulle glad nie vertrou nie. Moeni vir Ramaphosa beskuldig van dubbel standaarde as jy self agter deur staan om stemme te kry . Op oomblik stem ek eerder vir Ramaphosa as DA

Louis ·

Vryheidsfront Plus en Inkatha het ook spesiaal teen grondonteining gepraat. Gaan die twee partye ook elkeen ‘n spesiale berig kry?

Louis ·

DA is ook ten gunste van grondhervorming. Lees maar gerus hulle grondwet.

Cherokee ·

Én Louis, vele van hul ondersteuners, waarvan baie in hierdie forums, weet dit nie of ontken dit blatant.

William de Bruin ·

En daar verander Louis eensklaps die onderwerp… :D

bollie ·

Grondonteiening word gemagtig deur die Grondwet, was ook so in die vorige bedeling. VF+ steun dit ook, net nie grondonteiening sonder vergoeding nie. Grond wat op oneerlike wyse bekom is soos met die Wet van 1913 soos genoem deur Maimane moet herverdeel word. Sake moet reggestel word.

FM ·

Die wat teen grondhervorming is, lewe in n gekkeparadys.Wat is fout met onteiening MET markwaardevergoeding
na deeglike konsultasie? Ek is verbaas en bly oor Lekota en Buthelezi se siening. Respek vir hulle in die verband. Die groot gemors en lawaaimaker is seuntjie Malema. Ek wens iemand kan hom bykom.

Gerhard ·

Jy bedoel wat is fout daarmee dat jy jou eiendom teen jou wil aan ‘n ander moet verkoop? Wel die eerte ding om te besef is dat daar biljoene Rande se eiendom op die mark is om te koop op die oomblik. Daar is geen rede om enige persoon te dwing om sy gronde te verkoop nie. Die redes waarom so iets sal gebeur is almal korrup. Verder het die regering nie geld om dienste te lewer nie, wat nog van grond wettig koop.

Jannie ·

As ek so luister na almal se kommentaar verwag ek dat grondonteiening sonder vergoeding wel gaan plaasvind, die regering het nie geld om grond te koop nie en die druk van die ANC ondersteuners raak onuithoubaar vir hul leiers.

Stan ·

Ai, grondhervorming is onafwendbaar in Suid-Afrika. Magsbeheptheid tenspyte van ‘n risko van voedsel te kort. God help Suiderlike Afrika. Kan Suid-Afrikaners nie sien waarop dit afstuur nie!!! Politieksosio omstandighede in ‘n omgewing van aardsverwarming stuur op ‘n ramp af.

Wiehan ·

Soos ek die ding verstaan: Ramaposa sê hy gaan grond onteien sonder vergoeding van plase wat nie produktief gebruik word nie. Hy sê alle grond moet produktief gebruik word en voedsel sekerheid verseker. Nou, as dit so is dan moet hy ALLE onproduktiewe grond onteien en vir boere gee wat wil boer, maak nie daar of hy wit, swart, pink of pers is nie

Peet J ·

Die ANC regering se uitsluitlike doel is om landbougrond van boere te onteien wat bewerk is en ‘n opbrengs kan lewer. Die “struggle” voor 1994 het eintlik gegaan oor landbougrond en die ANC het ‘n belofte aan sy ondersteuners, inverband hiermee, gemaak. So “pak op, sit jou goedjies op jou kop” luister na Skipskop dit gaan nog ons wittes se voorland word.

honourable member ·

Kom ons kyk maar. Hierdie mense se oggend en aand praatjies is nie dieselfde nie.

honourable member ·

Hiers nou so bohaai oor die grond wat hulle wil vat maar ek sien of hoor geen planne vir die sinnelose moorde in hierdie land nie. Lyk nie of dit op enige agenda is nie. Of is dit maar omdat dit wittes is wat uitgemoor word. Ons lewens beteken niks meer nie.

Andre ·

MM moet maar eerder gaan sit, hy maak baie geraas maar doen niks vir die DA nie. Hy het hulle baie stemme gekos verlede jaar.

Heinrich ·

Ag nee wat Musi, nice try! Julle onderskryf presies dieselfde as wat die ANC onderskryf, en die Wet op Naturelle Grond van 1913 word maar net die Wet op Afrikaanse Grond van 2018, geen verskil in benadering nie. Dink bietjie buite die boks toe?

Oom Kaspaas ·

Ek is geneig om tot die gevolgtrekking te kom dat die oorgrote meerderheid Maroela Media besoekers negatiewe, wit Afrikaanse mense is. Eks baie lief daarvoor om kommentaar te lees en te lewer oor sekere onderwerpe, maar so by my koolkop, dit voel of ek moet gaan stort na sulke terugvoering. Ons oorlog is mos nie teen vlees en bloed nie, maar teen geestelike krage. So veg hierdie oorlog geestelik – daar’s reeds baie veranderinge wat my hoop laat opvlam. Eks oortuig daarvan dat hierdie land oppad is na totale herlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.