DA kies sy kandidaat vir konstitusionele hof

Argieffoto

Mmusi Maimane, leier van die DA, het regter Leona Theron genomineer om in die konstitusionele hof aangestel te word.

Dit kom nadat pres. Jacob Zuma gesê het hy gaan partyleiers in die Nasionale Vergadering raadpleeg oor wie as regter in die konstitusionele hof aangestel moet word.

Die pos is sedert Johann van der Westhuizen se aftrede op 31 Januarie 2016 vakant en die regterlike dienskommissie (RDK) het reeds onderhoude met kandidate gevoer om dié pos te vul. Die RDK het vier name – regters Jody Kollapen, Stevan Majiedt, Leona Theron en Malcolm Wallis – vir die president se oorweging voorgelê.

“Ek het vandag vir hom teruggeskryf en gemeld dat die DA regter Leona Theron ten volle steun as ons gekose kandidaat. Dit is vir ons van kardinale belang dat enige kandidaat op daardie bank totaal onafhanklik van besigheidsbelange en politieke belange moet wees,” het Maimane gesê.

“In die lig hiervan kies ons regter Theron – sy het ervaring, regskundigheid en het onafhanklike denke geopenbaar. Haar aanstelling tot dié bank sal ook geslagsdiversiteit meebring,” het Maimane gesê.

Regter Theron het die grade BA, LLB en LLM verwerf en is in 1990 as advokaat toegelaat. Theron is tans werksaam by die appèlhof. Sy het van Februarie tot Mei 2015 waargeneem in die konstitusionele hof. Sy het ook aan die Washington-universiteit in Amerika studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.