DA kondig vandag planne aan in stryd oor grondkwessie

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Terwyl al die aandag vandag op die parlement gefokus is waar die groot debat oor die omstrede grondkwessie vanmiddag sal plaasvind, sal die DA om 12:00 sy volgende stappe in die grondgeskil aankondig.

Die DA, wat die afgelope paar jaar baie suksesvol was met die bekamping van regeringsvergrype in die hof, is een van die partye wat die regering se planne vir onteiening sonder vergoeding ten sterkste teenstaan.

Die langverwagte debat sal om 14:00 in die Nasionale Vergadering begin.

Die opspraakwekkende verslag van die grondwetlike hersieningskomitee waarin aanbeveel word dat die Grondwet gewysig moet word om uitdruklik voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding sal in dié debat bespreek word. Alle verwagting is dat die vonke gaan spat.

Met die volgende algemene verkiesing net omtrent vyf tot ses maande weg, sal partye op alle dele van die politieke spektrum probeer om munt te slaan uit wat vir die meeste Suid-Afrikaners ʼn onseker en kommerwekkende situasie is.

Terwyl die kwaaiste retoriek sekerlik van die EFF en die UDM (wat as sterkste voorstaanders van onteiening sonder vergoeding ontluik het) sal kom, sal die fokus grootliks op twee ander plekke val.

Daardie fokus sal wees op die voorgenome optrede oor grond deur die twee groot honde van die Suid-Afrikaanse politiek, naamlik die ANC en die DA.

As die party met ʼn volstrekte parlementêre meerderheid is dit die ANC wat moet besluit wat hulle wil doen; nie net wat hulle wil sê nie. Die aanduidings is dat die ANC miskien retories taamlik sterk sal oorkom met aanvalle op hul opponente en spesifiek op die burgerregtegroep AfriForum, maar dat hul eie oplossing baie gematig kan wees.

Die DA se verdere planne in die grondgeskil sal binne ʼn paar uur bekend wees.

ʼn Verdere vraag is of die parlement vanmiddag slegs oor die grondwetlike hersieningskomitee se verslag debat sal voer, en of hulle oor die verslag sal stem. Gegewe die voortgesette regsinteraksie tussen die parlement en AfriForum oor die geldigheid van die gevolgde prosedure sou dit ʼn baie dapper of ʼn baie dom parlement wees wat oor die komitee se bevindings stem.

Indien die bevindings wel aanvaar word, sal die tydsame proses om die bevolking te raadpleeg oor wat die vorm en bewoording van ʼn moontlike grondwetlike wysiging kan behels, begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Nou ewe skielik wil hulle ook iets te sê he, too little too late. Sterkte in volgende jaar se verkiesing, ek sal verbaas wees as julle meer as 10% van die stemme kry.

Pop ·

Die staatskas is leeg geplunder. Alle staatsdiens instansies is ten gronde . Al wat nog werk is die boere. Dis al wat staande gebly het. So hulle gaan dit nou ook inpalm sodat daar net woestyn en hongersnood oorbly. En dan sal hulle tevrede wees.

alida ·

Kom ons hoop en bid dat hier tog ‘n sinvolle besluit geneem sal word hoewel ek twyfel moet ons maar wag en hoor wat hulle te sê het.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Volgens my wete stem die DA saam dat Grondhervorming moet plaasvind met die verskil dat daar vergoeding moet geskied. So? Hulle is ANC-light.

Judge Dredd ·

Nou wat wil jy dan he?

Dit werk al vir eeue so – Bv. as die spoorwee ‘n treinspoor wil bou dan kan hul nie noodwendig ‘n ompad van honderde kilometers om privaateiendom bou nie.
So as daar besluit word dat die spoorlyn deur jou eiendom gebou word dan is dit wat gaan gebeur – MAAR JY MOET REDELIKE/REGVERDIGE VERGOEDING KRY.

En dit is hoe dit werk.

zoom zoom ·

CR en Sy party het reeds besluit vir die gee van grond sonder vergoeding. ANC kan nie anderste want dan gaan dit die party stemme verloor.

Anoniem ·

Ek wil braak elke keer as ek die grondwet boekie sien, dis nie die papier werd waarop dit gedruk is nie, dus verwerp ek dit met minagting.

Nikita ·

Wonder of hulle nie dalk art 25 so gaan verander, dat n boer nie meer as 12 000 hektaar grond mag besit en die res moet afstaan nie. Een vd LP’s vd ANC het dit vroeer die jaar voorgestel v n wysiging. As hulle nou wraggies al ons mense se eiendom sonder vergoeding wil vat..gaan SA virseker sink met al die mense..nes Titanic!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.