DA-kongres moet antwoorde bied aan DA-kiesers

(Argieffoto: Brenda Masilela/ANA)

Die DA se langverwagte federale kongres vind uiteindelik Saterdag en Sondag plaas, en DA-ondersteuners sal hoop op ʼn paar sterk aanduidings van waarheen die party strategies op pad is.

Die hele kongres vind virtueel plaas, met veral vier belangrike take wat deur die sowat 2 000 afgevaardigdes van DA-takke reg oor Suid-Afrika en oorsee afgehandel moet word.

Eerstens moet ʼn nuwe federale (landwye) leierskap vir die party verkies word. Tweedens is daar toesprake deur leiersfigure ter terugrapportering van die termyn wat verby is, en ter agendastelling vir die toekoms. Derdens is daar beleidsmosies van DA-takke, en vierdens is daar meer as 40 voorgestelde veranderings aan die DA se interne grondwet.

Wat die leierskapsverkiesings betref is daar veral twee wat groot belangstelling uitlok, naamlik die wedloop om die partyleier en die verkiesing van die voorsitter van die DA se federale dagbestuur.

Twee kandidate ding mee om partyleier te word en elke afgevaardigde sal sy of haar voorkeurstem kan uitbring. Die kandidate is John Steenhuisen, wat tans die instaanleier is, en Mbali Ntuli, lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer. Die verwagting is dat Steenhuisen baie gemaklik sal wen.

Die uitslag word Sondag verwag, met die nuwe leier wat DA-ondersteuners sal moet inspireer ná ʼn tam tyd vir die party, en sterk rigting sal moet gee op strategiese gebied, soos met wie die DA sal probeer saamwerk om die ANC te ontsetel in stadsrade waar geen party in volgende jaar se verkiesing ʼn volstrekte meerderheid behaal nie.

Die vraag sou wees of die DA bereid is om soms met die ANC in koalisie te gaan (tans verbied die party se reëls dit) en wat die DA se verhouding met die EFF sal wees op stadsraadsvlak. Tans regeer die DA twee stadsrade – Thabazimbi en Modimolle (Nylstroom) reeds sedert 2016 met die steun van die EFF, hoewel hulle nie in ʼn koalisie is nie.

(Foto: DA)

Die DA-regering wat Vrydag in Pretoria se Tshwane-metro verkies is, is ʼn minderheidsregering sonder die steun van die ANC of die EFF.

Twee kandidate sê mekaar die stryd aan om tot voorsitter van die DA se federale dagbestuur verkies te word. Dié verkiesing word direk na afloop van die kongres afgehandel, en slegs lede van die DA se federale raad (sowat 140 mense) het stemreg daarvoor. Die twee kandidate is Helen Zille, wat die posisie tans beklee, en Mike Moriarty, Gautengse voorsitter van die DA. Hoewel Zille na verwagting sal wen, sal haar meerderheid waarskynlik veel kleiner as Steenhuisen sʼn wees.

Verskeie van die beleidsmosies is van belang as hulle aanvaar sou word – sommige oor die invloed op inwoners van die Wes-Kaap en stadsrade waar die DA regeer, en ander oor waar dit die DA posisioneer wat spesifieke bedrywe, belangegroepe en morele punte betref.

Van belang vir inwoners van die Wes-Kaap en DA-beheerde munisipaliteite is miskien veral die voorstel van die DA se tak in Pinetown-Wes dat munisipale huur in DA-beheerde munisipaliteite voortaan nooit met meer as die inflasiekoers sal mag styg nie.

Van verdere belang vir diegene wat op provinsiale of munisipale vlak deur die DA regeer word, is voorstelle dat DA-regerings deurgaans private eienaarskap moet uitbrei (Ballito-tak), moedertaalonderrig moet bevorder (Stellenbosch-tak), spesifieke fiskale dissiplinevoorskrifte sal moet volg (George-tak) en dat die DA kaderontplooiing verwerp (Stellenbosch-tak).

Die DA-tak in Kaapstad-Sentraal vra dat DA-regerings so spoedig en omvattend as moontlik ooreenkomste sluit met onafhanklike elektrisiteitsvoorsieners sodat DA-gebiede so onafhanklik as moontlik van Eskom sal wees.

Wat nasionale beleid betref, vra die Hammanskraal-tak dat die DA ʼn voorstaander word dat voedselkoepons eerder as kontantbedrae uitgereik word wat sommige maatskaplike hulptoelaes betref.

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die Umlazi-tak vra dat minimumvoeding verskaf word in alle staatskleuterskole. Die tak in Durban-Sentraal vra dat plaasaanvalle tot haatmisdaad verklaar word, en stel ʼn gedetailleerde landelike veiligheidsplan voor wat DA-politici saam met die publiek kan implementeer in die afwesigheid van sterk staatsbeleid.

Die tak in Pinetown-Wes stel voor dat dit DA-beleid word dat alle programme wat probeer om gay mense deur allerlei dwangmaatreëls en “rehabilitasieprogramme” te kry dat hulle nie meer gay is nie, onwettig verklaar word.

Die DA se Seepunt-tak stel voor dat vuurwerk voortaan slegs verkoop mag word op datums waar dit vir godsdienstige en kultuurgeleenthede benodig word, en dat daar uiters streng maatreëls vir die beperkte gebruik daarvan by sulke geleenthede geld.

Dan is daar ʼn verstommende getal voorgestelde beleidsmosies met betrekking tot diere, natuurbewaring en die vervoer van plaasdiere.

Dit sluit in verskeie beleidsvoorstelle wat met die bewaring van leeus te doen het, ʼn voorstel uit Rustenburg dat die gebruik van diere in sirkusse onwettig verklaar word, en ʼn voorstel uit die Vrystaat dat dieretuine onwettig verklaar moet word in Suid-Afrika.

Daar is ook omstrede voorstelle dat die skiet van sekere diere (insluitend seekoeie) strenger beperk of verbied moet word, oor hoe stadsrade bobbejane moet hanteer en ook oor die vervoer van diere.

Hierdie voorstelle sou, indien dit aanvaar word, baie gewilder wees by groen aktiviste as by diegene wat dit in die praktyk moet toepas, soos boere met plaasdiere, wildboere en landelike inwoners wat aan aanvalle deur wilde diere blootgestel is.

Wat die grondwetwysigings betref is die belangrikste een vir die algemene publiek dat geen DA-leier voortaan meer as twee opeenvolgende termyne in ʼn spesifieke leiersposisie mag dien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

DA, maak nie saak wat julle besluit nie, wees net bewus: ‘n trotse boer, stem VF+. Julle wit libtarts sal kwyn net soos die ANC!

Johan

Sal nie weer DA stem nie.