DA: ‘Korrupsie is terug in die Baai’

Die UDM se Mongameli Bobani is Donderdagaand as die nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro verkies (27 Augustus 2018). Skermskoot: ANA-video

Die DA het Maandagaand in ʼn sterk bewoorde verklaring uitgevaar teen die verkiesing van die UDM se Mongameli Bobani as die nuwe uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro en gesê die ANC en EFF het saamgespan om “plundering van openbare fondse” terug te bring na die Baai.

Nqaba Bhanga, die DA se provinsiale leier in die Oos-Kaap, meen die mosie wat deur die EFF, ANC en UDM ondersteun is om Athol Trollip uit sy amp as uitvoerende burgemeester te verwyder, is direk teenstrydig met die wil van die metro se inwoners.

“Die ANC het in 2016 Nelson Mandelabaai verloor nadat die mense van die Baai hulle uiteindelik ná twee dekades van openlike korrupsie afgedank het. Sedertdien het die DA-geleide regering die gety gedraai teen korrupsie en verseker dat die publiek se geld bestee word tot voordeel van die mense van Nelson Mandelabaai,” het Bhanga gesê.

Bhanga meen die stryd in die metro lê tussen die DA wat werk wil skep en dienste aan mense wil lewer en die ANC, UDM en EFF “wat staatshulpbronne vir hulself en hul vriende wil plunder”.

Hy het voortgegaan om ʼn lys te maak van al die suksesse van die DA-geleide regering bereik het sedert die party in 2016 by die ANC oorgeneem het.

“Elke dag wat die DA aan bewind is, is ʼn bedreiging vir die korrupte en verdelende politiek van die ANC, UDM en EFF. Hulle weet dat inwoners ʼn ware verskil onder die DA-geleide regerings sien, dat korrupsie uitgeroei word, dat dienste gelewer word en dat daar geleenthede vir almal geskep word.”

Victor Manyati kort nadat die speaker uitgestem is. Foto: Raahil Sain/ANA

‘Die wittebrood begin nou’

Bobani het geen tyd verspil om ná sy verkiesing as burgemeester sy nuwe burgemeesterskomitee te kies nie. Hy het inwoners van die Baai gerusgestel dat “die wittebrood nou begin”.

“Dit is nou die voorheen benadeelde mense se tyd. Ons wil mense bemagtig. Ons gaan nie in ons kantore sit nie, ons gaan hulle soek en na hulle toe gaan. Ons wil weet wat die probleme is en ons wil die probleme regstel,” het Bobani gesê.

Maroela Media het vroeër berig Trollip is uit die kussings gelig en Bobani het sy plek ingeneem sonder dat ʼn enkele DA-lid aan die stemproses deelgeneem het.

Jonathan Lawack is vroeër Maandag uit sy amp as speaker verwyder tydens ʼn stemproses waar 60 raadslede ten gunste van Lawack se verwydering gestem het, teenoor 59 stemme teen die mosie. Victor Manyati, ʼn DA-raadslid wat geweier het om saam met sy DA-kollegas te stem en buite stemming gebly het, is summier van sy lidmaatskap van die party onthef.

Johan Mettler, die munisipale bestuurder wat gevolglik as voorsittende beampte van die vergadering opgetree het, het daarna ʼn vakature verklaar nadat hy ʼn brief van die DA ontvang het dat Manyati se lidmaatskap opgeskort is.

Nadat die vakature verklaar is, het die DA en sy koalisievennote, die Congress of the People (Cope) en die African Christian Democratic Party (ACDP), uit die vertrek gestap. Opposisiepartye het egter volgehou dat die vergadering moet voortgaan en dat die mosies wat ter tafel gelê is gedebatteer moet word.

Mettler het aan die oorblywende raadslede van die ANC, UDM, EFF, African Independent Congress (AIC), en United Front (UF) gesê daar is nie ʼn kworum om voort te gaan met die mosies nie en hy het ook die vertrek verlaat.

ʼn Ruk later het Mettler ʼn skielike ommeswaai gemaak en ʼn teksboodskap aan ANC-raadslid Rory Riordan gestuur en gesê hy sal sy verklaring van ʼn vakature terugtrek en die raadsvergadering kan oor sewe dae voortgesit word.

Intussen het Fikile Xasa, ʼn lid van die uitvoerende raad, ʼn senior beampte gestuur om as voorsittende beampte by die vergadering op te tree en die verkiesing van ʼn nuwe speaker waar te neem. Die ANC se Buyelwa Mafaya is as speaker verkies.

Die res van die mosies is daarna aangehoor en eenparig deur die 61 raadslede op die vergadering ingestem.

Die AIC se Thsonono Buyeye is as nuwe adjunkburgemeester verkies, terwyl die ANC se Bicks Ndoni as die nuwe hoofsweep van die raad verkies is.

Bobani se nuwe burgemeesterskomitee lyk só:

Andile Lungisa (ANC): Infrastruktuur en ingenieurswese
Andile Mfunda (ANC): Menslike nedersettings
Queenie Pink (ANC): Ekonomiese ontwikkeling
Mkhuseli Mtsila (UF): Begroting en tesourie
Thumi Renyele (ANC): Kiesafdelingdienste
Yolisa Pali (ANC): Gesondheid
Rosie Frollick (ANC): Paaie en vervoer
Litho Suka (ANC): Veiligheid en sekuriteit
Makhi Feni (ANC): Korporatiewe dienste
Lehlonono Mfana (ANC): Sport, kuns en kultuur
Yoliswa Yako (EFF): Voorsitter van die komitee vir munisipale openbare rekeninge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

R ·

Vir wat het julle uitgeloop? Doen julle werk. Julle tree op soos ‘n spul kinders – almal van julle. Ten koste van die belasting betaler.

jakes ·

Ons sal sien hoe lank die nuwe BM en sy kronies hou? Nog n metro wat verder geplunder gaan word, die rykes nog ryker en die armes nog armer.

Theresa B ·

Die onbevoegdheid drup sommer so………………………………

Ja ne ·

Wittebrood het nou begin? Wel julle behoort wat gebeur op n wittebrood ne. Maar die DA is ook pateties. Hkm sou hulle wou uitstap? Alweer skiet hul hulself in die voet.

Gerhard ·

Soveel vir die wonderlike DA. Wat het die DAkaners nou te se? Gaan hulle nog SA red?

Ja jong ·

JANEE nou gaan dit eers lekker gaan. die DA WOU NIE LUISTER nie .. hulle het hulle kiesers vervreem en aangegaan tot die EFF hulle gedrop het en by die ANC hulle gewig gaan ingooi het .. Dit is vir my ‘n baie SAD dag, maar jy kan net een party daarvoor blameer en dis die DA self. Die WITTEBROOD is inderdaad nou aan vir die ANC en EFF , hulle gaan alle goed wat die DA gemaak het ongedaan maak .MENSE MOENIE KLA NIE, julle het vir hulle gestem. DIE ANC wil dit nie ‘n sukses maak nie, hulle wil ‘n stuk van die KOEK he, so gaan hulle alle munisipaliteite oorneem want die DA HET NIE ORE NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.