DA laat rooi ligte flikker oor nuwe begroting

Argieffoto (Foto; AlexanderStein, Pixabay)

Aan die vooraand van die nuwe begroting wat Tito Mboweni, die minister van finansies, Woensdagmiddag by die parlement gaan indien, het die DA gewaarsku die land se finansiële posisie is veel swakker as wat mense besef.

Die DA is die enigste party in Suid-Afrika wat elke jaar ‘n alternatiewe nasionale begroting opstel, en in ‘n aanduiding van die land se verswakkende finansiële en fiskale posisie is die klem vanjaar nie op waar die ANC-regering geld kan bespaar nie, maar waar die land teen die beste voorwaardes geld kan leen.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse demokrasie dat die land se posisie so verswak het dat ‘n begroting binne drie maande uitgedien geraak het. Die land se afgradering tot rommelstatus, die impak van Covid-19 en veral die ekonomiese impak van die afsonderingsperiode het die nuwe begroting genoodsaak.

Die DA-LP Geordin Hill-Lewis, wat die alternatiewe begroting saam met die DA-LP dr. Dion George en die party se beleidshoof, Gwen Ngwenya, opgestel het, sê hul berekening toon dat die regering R285 miljard aan belastinginkomste kwyt is weens die afsonderingsperiode se vernietigende impak op die ekonomie.

Dit laat volgens die DA die staat in die onbenydenswaardige posisie dat Suid-Afrika R285 miljard kort net om Mboweni se besuinigingsbegroting van Februarie te laat klop – en dit sluit die geraamde R160 miljard wat bespaar sou word deur die bevriesing van staatsdienssalarisse in.

Daardie salarisbevriesing (dus, geen verhoging vanjaar nie) word tans uitgedaag deur al wat vakbond is, met die EFF wat die vlamme lustig aanblaas en staatsdiensvakbonde wat dreig om die land op sy knieë te dwing (met die implikasie dat stakings en sloerstakings kan volg) as die regering die bevriesing sou deurvoer.

Boonop het Fikile Mbalula, die minister van vervoer, ‘n dure onderneming aan taxi-eienaars gemaak dat hulle (anders as ander kleinsake-sektore wat erger geraak is) vir verlies aan inkomste vergoed sal word. Hiervoor het die regering ‘n volle R1,135 miljard aangebied (wat glo neerkom op omtrent R20 000 per taxi-eienaar) maar dit is nou volgens die taxi-eienaars nie goed genoeg nie. In hul aanspraak word die taxi-eienaars gesteun deur die EFF.

Voorts het Suid-Afrika ‘n lening van $1 miljard (R17, 27 miljard) van die Brics-groep se Nuwe Ontwikkelingsbank, teen voorwaardes wat nog nie bekend gemaak is nie, terwyl spesiale koronavirus-verwante leningspakkette van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank ook ter sprake sal kom.

Hill-Lewis het gesê die DA sal gewoonlik nie ‘n lening met gevolglike verhoogde staatskuld verwelkom nie, maar as dit teen voordelige voorwaardes bekom kan word, is dit binne die huidige benarde toestande onvermydelik. Die party dring egter dringend daarop aan dat die Suid-Afrikaanse publiek ingelig word oor die voorwaardes waaraan die lening onderworpe is.

Die DA se berekening is dat staatskuld – indien dinge nie verander nie – teen 2028 nie minder nie as 113% van die bruto binnelandse produk sal wees, wat uiteraard by verre die grootste begrotingsuitgawe sal wees.

Hill-Lewis het benadruk dat Mboweni en pres. Cyril Ramaphosa heeltemal verkeerd is in hul pogings om hierdie situasie as ‘n noodwendigheid te probeer skilder. “Niks hiervan is noodwendig nie. Jare van ANC-wanbestuur gevolg deur ‘n verlenging van die afsonderingsperiode wat die ekonomie vernietigend beïnvloed het, is die direkte oorsaak van die situasie,” het Hill-Lewis uitgewys.

“Al waarvoor die DA nou kan hoop, is die stabilisering van staatskuld. Daarvoor moet daar ‘n spesifieke terugbetalingsplan wees vir die skuld wat aangegaan word, en daardie skuld moet absoluut slegs aangewend word vir beleggings wat die ekonomie sal laat groei.”

Daarom vra die DA dat die regering sterk sal staan oor die 0%-salarisverhogings in die staatsdiens, en geen verdere reddingsboeie sal uitgooi na staatsbeheerde ondernemings soos die SAL nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Gaan vir slim kop doek sy maak baie geld uit sigarette uit sy kan vir die ANC geld gee

Nie Verbaas ·

Niks sal help nie. ANC kaders sal enige finansiele hulp ook wanbestuur en plunder.

Jack ·

Stabilisering van staatskuld is nie al wat nodig is nie. Die ANC/SAKP/Cosatu tri-apartite alliansie se sosialistiese beleide wat ons in die gemors gedompel het moet geskrap word en daar moet na vrye mark ekonomie teruggekeer word. Dit beteken dat die alliansie nie meer aan bewind moet wees nie. Solan dit nie gebeur nie sal ons al hoe dieper in die gemors insink.

Herpiet ·

Daar is nie meer geld nie. Maar toemaar, kom ond druk maar net geld.
Dan ewenaar on Zim se inflasiekoers tjoef tjaf

Fedup ·

The corrupt anc and all that hold their creepy, greedy hands, dug such a big grave that the whole country can fit in it.
No one on this earth will ever be able to fix or save this bad mess of a country.

Kokerboom ·

Vraag is net : Hoe kan die Minister van Vervoer selektief sulke absurde voorstelle en toegewings maak? Verstaan die die man nie die haglike stand van die ekonomie? Hoe kan die President dit kondoneer?

Pampoenboer ·

Hoop die brics bank le beslag op SA as lening nie betaal word nie. Enigiets is beter as ANC regering

Pieter ·

In hierdie swaar ekonomiese tye kry dié wat werk het geen salarisverhoging nie, insluitend staatsamptenare. Maar politieke ampsdraers op plaaslike tot nasionele vlak, magistrate en regters ontvang, terwyl hulle grotendeels verantwoordelik is vir hierdie ekonomiese situasie.

Jaco ·

Die DA wat nou so kla, is dieselfde DA wat ‘n paar jaar gelede ten gunste was van regstellende aksie en BEE…

Isabella ·

DA is so akuraat …JARE LANGE WANBESTUUR van DIE ANC …kry bevoegte persone in poste en land sal floreer…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.