DA lê klag teen Wes-Randse burgemeester

Argieffoto: SAPD

Die DA het ʼn strafregtelike klag teen Maphefo Mogale Letsie, burgemeester van die Merafong City- plaaslike munisipaliteit (Carletonville) aan die Wes-Rand, aanhangig gemaak.

Ina Cilliers, ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, het Sondag in ’n verklaring gesê die party het Letsie van diefstal en korrupsie aangekla nadat inwoners van Merafong geld in goeder trou betaal het vir elektrisiteit wat deur Eskom voorsien is. Dié geld is egter nooit deur die munisipaliteit aan Eskom oorbetaal is nie.

“Die saaknommer is 349/8/2020 en ons het bevestiging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Carletonville gekry dat die saak ondersoek word,” het Cilliers gesê.

Luidens die verklaring is die inwoners van Merafong as gevolg van die beweerde oortreding onderwerp aan ʼn vermindering in die verskaffing van elektrisiteit aan die munisipaliteit deur Eskom. Dít terwyl hulle die munisipaliteit betaal het vir die verskaffing van elektrisiteit.

Die kragvoorsiener het vroeër vanjaar aangedui dat die munisipaliteit se kragrekening met R272 214 596 agterstallig is nadat die munisipaliteit nie sy skuld aan Eskom vereffen het nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat Merafong nie vir elektrisiteit betaal nie terwyl die munisipaliteit geld van inwoners invorder vir die verskaffing van elektrisiteit,” het Cilliers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Onthou net ANC beleid, salarisse aan kaders eerste en dan ongelukkig niks vir die res.

Jaco ·

Dit gebeur nie net daar nie. Maar amper elke dorp. Maak nog klagtes oop.

Kokerboom ·

Dit maak sin dat Eskom self die dienste lewer maar met die situasie tans daar is dit ook nie werkbaar. Dit moet egter ondersoek word sodra daar hopelik eendag weer behoorlike bestuur en beheer by Eskom is

Adeline ·

Logika – as Eksdom nie betaal word nie sit die dorp se krag af PUNT. Daar sal wel vinnig reaksie plaasvind van die eerlike munisipale krag verbruikers wat betaal en dan sal die ONEERLIKE KORRUPTE Munisipaliteit amptenare vinnig verwyder word – verseker – ons as wettige landsburgers kan standpunt in neem en saamstaan – wonner nou hoeveel slap-gatte wat dapper sleutelbord soldate is – sal optree?

Jacobus ·

Die situasie is niks anders as krimineel. Ja, as Eskom die diens lewer móét hulle betaal word. Die eerlike belastingbetalers gaan altyd ingedoen word.
Soos in die sentrale regering, as iemand nie oranje oorpakke kry nie dan leef die geloof voort dat ANC leiers bo die reg is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.