DA lê klagte ná fopnuus oor raadslede

Die foto van die raadslede wat op sosiale media geplaas is. (Foto: Facebook)

Die DA het Vrydag ʼn strafregtelike klag teen Carmichael Philander by die polisie aanhangig gemaak nadat Philander na bewering fopnuus rakende DA-raadslede op sosiale media versprei het.

Refiloe Nt’sekhe, die DA se skadu-LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het in ʼn verklaring gesê Philander het op sosiale media drie raadslede daarvan beskuldig dat hulle kospakkies steel wat onder behoeftiges uitgedeel word gedurende die algehele landwye afsondering.

Philander het Woensdagaand ʼn foto van die raadslede op Facebook geplaas waar gesien kan word hoe die raadslede kospakkies pak met die DA se logo onderaan die foto. “Die DA is in die nuus om al die verkeerde redes. DA-raadslede word betrek by die diefstal van kospakkies,” lui Philander se inskrywing saam met die foto.

ʼn Klag teen Philander is gevolglik by die Park-polisiestasie in Kemptonpark aanhangig gemaak, het Nt’sekhe gesê.

“Philander se Facebook-plasing is blatant verkeerd en lasterlik en hy versprei fopnuus deur dit op ’n openbare platform te plaas. Dit is ʼn skande dat hierdie soort verkeerde inligting in hierdie tyd versprei word wanneer goeie mense hul bes doen om diegene in nood te help en ons land ’n dreigende hongerkrisis ervaar,” het Nt’sekhe gesê.

Luidens die verklaring werk die party tans saam met nie-regeringsorganisasies, boere en sakeondernemings om kospakkies aan behoeftige Suid-Afrikaners te voorsien.

Die DA doen nou ’n beroep op landsburgers om inligting te verifieer voordat dit op sosiale media geplaas word. “Dit is ʼn kriminele oortreding om fopnuus oor kospakkies te versprei terwyl ons mense honger is,” het Nt’sekhe afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.