DA lê klagtes oor vals nuus in Covid-19-video

Suster Nomusa Mthethwa ondersoek inwoners vir Covid-19 in Umlazi, suid van Durban (4 April 2020) (Foto: Zanele Zulu/African News Agency/ANA) Zulu/African News Agency (ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Maandag strafregtelike aanklagte aanhangig gemaak teen ʼn man wat ʼn video versprei waarin hy aanvoer dat Suid-Afrikaners besmet kan word met Covid-19 wanneer gesondheidsorgbeamptes toetse uitvoer.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, het die aanklagte aanhangig gemaak kragtens die rampbestuurriglyne van die Covid-19-pandemie wat bepaal dat enige valse inligting wat versprei word, met die doel om mense te mislei, as ʼn strafregtelike oortreding beskou word.

“Hierdie strafregtelike aanklagte het ten doel om ʼn sterk boodskap aan Suid-Afrikaners te stuur dat die verspreiding van vals nuus nie geduld sal word nie,” het Gwarube gesê.

Die outeur van die video voer aan dat die toerusting, wat gesondheidsorgbeamptes gebruik tydens deur-tot-deur toetsing, moontlik besmet is met Covid-19 en hy maan Suid-Afrikaners om te weier om getoets te word. Die video is op Facebook gedeel.

Gwarube het gesê die video is Sondag wyd versprei en het tot paniek gelei op die vooraand van die regering se massa-gemeenskapstoetsingsprojek. “Dit is dus noodsaaklik om op te tree om te verhoed dat die video die regering se pogings ondermyn om die verspreiding van die virus te verhoed.

“Die departement van gesondheid moet mense bereik waar hulle is om te bepaal of hulle moontlik na die naaste gesondheidsorgfasiliteit verwys moet word vir toetsing. Dit is nie waar dat die gesondheidsorgwerkers bloed sal trek of deppers sal gebruik nie. Hulle werk is slegs om te bepaal watter Suid-Afrikaners moontlik simptome toon en om die dienste nader aan hulle te bring,” het sy verduidelik.

Die toetsingsprojek sal ook bepaal of mense se toestande hulle toelaat om te self-isoleer en of hulle in staatsfasiliteite geïsoleer moet word.

“Dit sal Suid-Afrikaners help wat in digbevolkte informele nedersettings woon en dus nie in staat is om te self-isoleer nie, en sodoende hul geliefdes beskerm teen besmetting.”

Volgens Gwarube wil dit voorkom of die video ten doel het om mense te mislei, en daarom kan dit kragtens die riglyne vervolg word. “Die SAPD moet die saak dringend ondersoek.”

Persone wat skuldig bevind word aan die verspreiding van vals nuus kan tot ses maande tronkstraf opgelê word.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Wel, ek gaan nie toelaat dat vreemdeling in my neus kom grou sonder rede nie. Hulle kan maar vêr weg bly. En die bewerings is nie onmoontlik nie. Nogal jammer hulle wil nie so proaktief optree met alles nie.

Petrus Johannes ·

Hul sal eers moet bewys dat die man verkeerd is Ek vertrou ook nie die mense oor hul toets goed nie

Michael 1 ·

Kom ek stel dit so wie het die DA die mandaat gegee om Bheki Cele se werk oor te vat pleks baklei hulle die diskriminasie teen die wit minderhede in die parlement of pas dit nie hulle agenda nie

marius ·

En is die man verkeerd ? Is daar geen risiko vir besmetting nie ? Gaan gwarube onder dieselfde omstandighede bereid wees om getoets te word ? NIE in ,’n privaat hospitaal nie maar deur gesondheidswerkers wat die hele dag besig was om honderde mense te toets .

Boertjie ·

Ai tog, ons mensdom. Die spanne doen “screening”. As jy simptome wys, soos koors, ensomeer, word jy gestuur vir verdere toetse. En dit mag jy nie weier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.