DA-leier ondersteun Afrikaanse Maties

John Steenhuisen by die Universiteit Stellenbosch (10 Maart 2021) (Foto verskaf deur die DA)

John Steenhuisen, federale leier van die Demokratiese Alliansie het Woensdag saam met die DA-skaduminister vir hoër onderwys Chantel King en die DA-kiesafdelingshoof vir Stellenbosch en US-alumnus dr. Leon Schreiber, ʼn besoek aan die Universiteit Stellenbosch (US) afgelê ná berigte dat studente verbied word om Afrikaans in hul koshuise te praat, in die publiek en selfs op parkbankies op kampus.

Maroela Media het vroeër berig Afrikaanssprekende inwoners van minstens twee dameskoshuise is tydens verwelkomingsweek aangesê om slegs Engels met mekaar en besoekende ouers te praat. Dit, selfs al is almal teenwoordig Afrikaans.

“Die DA is besorg oor kwessies wat aangeroer is tydens ons gesprekke met van die betrokke studente, studenteorganisasies en verteenwoordigers van die konvokasie,” het Steenhuisen gesê. “Dit is duidelik dat die praktyk van intimidasie nie beperk is tot ʼn enkele koshuis nie. Studente van verskillende koshuise het gesê hulle word selfs verbied om Afrikaans te praat wanneer hulle in die oggend tande borsel. Verskeie studente het onthul hoe hulle geïntimideer word wanneer hulle ʼn klagte indien en verskeie het verwys na die impak wat dit op hul studies het omdat hulle met Engels sukkel op akademiese vlak.”

Steenhuisen sê die probleem is klaarblyklik sistemies. “Die krisis is vererger deur mediaberigte vandag dat die universiteit nuwe kursusse slegs in Engels wil aanbied. Wat op die oomblik by die US plaasvind is ʼn skokkende skending van Afrikaanse studente se grondwetlike regte. Ondanks swak verskonings blyk dit dat die jongste oortredings heeltemal in lyn is met die gees van die 2016-taalbeleid waar Afrikaans afgeskaf is as ʼn gelyke taal van onderrig naas Engels.”

Die DA is verbind tot die taalregte van alle Suid-Afrikaners soos vervat in die Grondwet. “Ons sal dus alle bewyse, wat ons vandag versamel het, gebruik om ʼn formele klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in te dien asook die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe. Die DA sal die kwessie ook in die parlement aanroer,” het Steenhuisen bygevoeg. “Ons doen ʼn beroep op hierdie grondwetlike instansies om die saak dringend te ondersoek omdat die kwessie van groot belang is vir ons grondwetlike strewe om ʼn nasie te bou waar diversiteit en veeltaligheid as ʼn bate beskou word, nie ʼn las nie.”

Steenhuisen sê dit is belangrik om die konteks in gedagte te hou. “Tot 2016 was Stellenbosch die laaste universiteit in die suide van die land wat steeds Afrikaanse onderrig aangebied het. Ná die 2016-besluit om Afrikaans af te skaf as ʼn gelyke taal, het vier miljoen Afrikaanssprekendes in die Wes- en Noord-Kaap nie meer toegang gehad tot hoër onderrig in hul moedertaal nie. Dit, ondanks die feit dat Stellenbosch die vermoë het om in Afrikaans te kan onderrig – soos wat die universiteit al langer as ʼn eeu lank doen.

“Die universiteit sê graag die getal Afrikaanse studente neem af, en hulle gebruik dan dié argument om hul Afrikaanse aanbod af te skaal, maar die argument is verkeerd. Die getal Afrikaanse studente neem juis af omdat tersiêre onderrig in Afrikaans aangeval word – soos wat ons dié week gesien het. Hoe kan die universiteit van studente verwag om welkom te voel op ʼn kampus waar hulle geïntimideer en geviktimiseer word as hulle Afrikaans praat?”

Die DA sal sy veldtog verskerp om moedertaalonderrig in Stellenbosch te verdedig. “Namens die miljoene Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap en Noord-Kaap dring ons daarop aan dat Afrikaans gelyk gestel moet word aan Engels by die US en dat moedertaalonderrig uitgebrei moet word, nie aangeval moet word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
lodewyk

Dus hoekom ons heeltemal onhafhanklik moet raak van die gemors van n cANCer regering,klomp rasiste,hulle besef nie dat ons sterker raak as ons onderdruk word nie,wat my verstand te bowe gaan is dat dit in die Wes Kaap gebeur????

Althes

Baie goeie nuus

PdB

Mooi so John! Vir elkeen ñ tuiste en ñ plekkie in die SON!

Alet

Kan Solidariteit nie asb vir on ‘n universiteit bou nie? Ek is seker baie mense sal bydrae maak om die geld in te vorder vir so projek. En ja so word die taal van die kolonialiste bevorder ;-)

daniel

Jaloesie blote jaloesie. En dit die optredes van n universiteit wat tot stand gekom het met uitsluitlik Afrikaanse finansies.