DA-leier wen lastersaak van R300 000 teen ANC oor ras

Argieffoto.

Die leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, dr. Roy Jankielsohn, het ʼn lastereis van R300 000 teen die ANC-jeugliga gewen nadat die jeugliga hom ʼn rassis en ʼn ondersteuner van wit meerderwaardigheid genoem het.

Dit is die jongste voorval waarin Suid-Afrikaners terugslaan teen ongegronde bewerings van rassistiese gedrag. Die Solidariteit-beweging het onder meer onlangs spesifieke stappe aangekondig om mense te beskerm wat verkeerdelik daarvan beskuldig word dat hulle rassistiese taal gebruik het. Die Springbokslot Eben Etzebeth voer ook aan die bewerings dat hy rassistiese taal tydens ʼn onlangse laatnag-skermutseling op Langebaan gebruik het, is kwaadwillig en ongegrond.

In Jankielsohn se geval het die kwessie wel lank geneem om in sy guns beslis te word. Jankielsohn, ʼn politieke wetenskaplike en voormalige dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het in 2017 sy bedenkinge uitgespreek oor ʼn eredoktorsgraad wat ʼn universiteit in Turkye aan die omstrede destydse Vrystaatse premier en huidige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, toegeken het.

Die ietwat onverwagse eerbewys het gevolg op die toekenning van beurse ten bedrae van R32,8 miljoen deur die UV onder Magashule se bewind aan studente om aan die Turkse universiteit te studeer.

Toe Jankielsohn die punt uitwys, het die ANC na hom verwys as ʼn agterlike rassis en verheerliker van wit meerderwaardigheid, ʼn nar en ʼn kefferbrakkie (chihuahua). Jankielsohn, wat ʼn lang en aantoonbare geskiedenis ter onderskraging van die nierassige liberale lewensuitkyk het, het die jeugliga vir laster gedagvaar.

Die uitspraak in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein lui dat beskuldigings van rassisme ʼn ernstige kwessie is wat nie in Suid-Afrika gemaak kan word sonder feitelike grondslag nie, want dit stel die een wat daarvan beskuldig word, asook sy/haar familie in gevaar en kan tot tronkstraf lei. Die bevinding is dat die jeugliga die stelling roekeloos gemaak het, sonder om in ag te neem of dit die waarheid is of nie.

Die DA-hoofsweep in die Vrystaatse wetgewer, David van Vuuren, het gesê dit is ʼn belangrike bevinding wat die Suid-Afrikaanse demokrasie en regspraak vorentoe neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LHS ·

Nee dit is nie goed genoeg nie. Ons voel baie erg gekrenk en verneder as daardie woord gebruik word, dit laat my dink aan die apartheidsjare en al die NP vernederings teenoor almal wat nie deel van hulle uitverkore groepie was nie. Tem minste tronkstraf van 2 jaar en R300 000 boete.

LHS ·

Nee dit is nie goed genoeg nie. Ons voel baie erg gekrenk en verneder as daardie woord gebruik word, dit laat my dink aan die apartheidsjare en al die NP vernederings teenoor almal wat nie deel van hulle uitverkore groepie was nie. Ten minste tronkstraf van 2 jaar en R300 000 boete.

wraggies ·

Goeie beslissing, maar is die ANC jeugliga nie bankrot nie? Hopelik sal die sheriff die nodige doen en van hulle besittings opveil.

Ellen Kotzé ·

Nee, dis is nie genoeg nie!!! Veral vir ons voel klink erg en erger as voor apartheidsjare is beter om maklik werk gee en aanvaar as wie jy is en oral soek verhuur so nou ons sukkel om te kry werk en asook verhuur. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.