DA-leiersverkiesing virtueel beslis

(Argieffoto: DA/Facebook

Die DA sal sy nuwe leierskap virtueel verkies op sy aanlyn kongres wat later vanjaar plaasvind.

Benoemings vir die leiersposisies sal op 1 September open en op 10 Oktober sluit, het die hoofkiesbeampte, Greg Kumbrock, by navraag aan Maroela Media bevestig.

Hoewel die amptelike benoemingsproses dus nog nie begin het nie en enigiemand dus genomineer kan word, het ʼn paar mense reeds aangedui dat hulle in die drie topposisies verkiesbaar is.

Die drie belangrikste posisies is die poste van partyleier, voorsitter van die federale dagbestuur en nasionale voorsitter. Daarbenewens word drie federale ondervoorsitters, ʼn tesourier en ʼn ondervoorsitter van die party se federale raad ook verkies.

Daar is tot dusver drie mense wat aangekondig het dat hulle gaan staan as partyleier. Hulle is John Moodey, Mbali Ntuli en John Steenhuisen.

John Steenhuisen (links) en Ivan Meyer (Foto: DA)

Moodey is die leier van die DA in Gauteng, onder wie die party in die provinsie oor die algemeen sterk gegroei het. Ntuli is ʼn lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer en ʼn voormalige landwye jeugleier van die party wat ʼn groot aandeel gehad het in die groei van die party in die noorde van KwaZulu-Natal, asook toe die DA onder jong kiesers gegroei het. Sy is ʼn voormalige stadsraadslid van die Ethekwini-metroraad in Durban.

Sedert die bedanking van Mmusi Maimane as DA-leier neem Steenhuisen in hierdie posisie waar. Hy is ʼn voormalige hoofsweep van die DA en tans die party se parlementêre leier. Hy is ʼn voormalige provinsiale leier van die DA in KwaZulu-Natal, ʼn voormalige lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer en ʼn voormalige stadsraadslid van die Ethekwini-metroraad.

Die huidige waarnemende federale voorsitter van die DA is dr. Ivan Meyer. Hy is tans die LUR vir landbou in die Wes-Kaap en ook ʼn voormalige provinsiale leier van die DA in die Wes-Kaap. Niemand het nog aangedui dat hulle hom wil uitdaag om die posisie van federale voorsitter nie.

Twee kandidate het reeds aangedui dat hulle beskikbaar sal wees vir die posisie van voorsitter van die DA se federale dagbestuur, naamlik Mike Moriarty en Helen Zille.

Helen Zille. (Foto: Twitter)

Moriarty is provinsiale voorsitter van die DA in Gauteng, lid van die Gautengse wetgewer en die DA se verteenwoordiger in die Onafhanklike Verkiesingskommissie se veelparty-skakelkomitee.

Zille is die huidige voorsitter van die DA se federale dagbestuur. Sy is ʼn voormalige burgemeester van Kaapstad, ʼn voormalige Wes-Kaapse LUR vir onderwys, voormalige Wes-Kaapse premier en voormalige partyleier van die DA.

Die huidige verwagting is dat Steenhuisen, Meyer en Zille die gunstelinge sal wees om verkies te word, maar ʼn lang veldtog lê voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.