DA-LP in waterbehandelingsaanleg toegesluit

Foto verskaf deur Retief Odendaal

Retief Odendaal, DA-LP in die Oos-Kaap, is glo deur ʼn senior beampte van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit in ʼn waterbehandelingsaanleg toegesluit in ʼn poging om hom te intimideer.

Odendaal was by die Cradock-waterbehandelingsaanleg om ondersoek in te stel oor rou riool wat glo in drinkwater inspoel. “ʼn Senior beampte van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit het my doelbewus, en met kwaadwilligheid, in die Cradock-waterbehandelingsaanleg toegesluit terwyl ek met ʼn amptelike ondersoek besig was. Dit is gedoen in die teenwoordigheid van polisiebeamptes en sekuriteit,” het Odendaal gesê.

“Die beampte, wie se naam bekend is aan my, het daarna die perseel verlaat en die sleutels saamgevat. Ek was byna ʼn uur lank teen my wil vasgekeer,” het hy bygevoeg. “Hierdie dade kan slegs beskou word as ʼn doelbewuste poging om my te intimideer en my te verhoed om my rol as ʼn lid van die provinsiale wetgewer te vervul en dié beamptes aanspreeklik te hou.”

Dit volg ná ʼn aanvanklike inspeksie verlede jaar onthul het dat die aanleg tot ʼn algehele stilstand gekom het en rou riool direk in die Groot-Visrivier invloei. Die invloei van rou riool in ʼn natuurlike waterhulpbron is onwettig kragtens die Grondwet, die Nasionale Omgewingsbestuurwet en die Nasionale Waterwet.

Foto verskaf deur Retief Odendaal

“Ondanks verskeie pogings deur myself om die munisipaliteit tot aksie oor te haal, is niks gedoen nie en ek is genoop om strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit en sy waarnemende munisipale bestuurder, dr. Bhekisisa Mthembu, aanhangig te maak. Die munisipaliteit se versuim om op te tree het ook daartoe gelei dat die Menseregtekommissie bevestig het hy sal ondersoek instel, aangesien rou riool drinkwater besoedel.

“[Vrydag] se inspeksie het ongelukkig bevestig die situasie bly dieselfde en die beloftes van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit beteken niks nie. Die aanleg is steeds nie operasioneel nie en rou riool vloei steeds in die rivier in.”

Odendaal het gesê hy is geskok dat die munisipaliteit hom probeer intimideer terwyl hy slegs die mense van Cradock probeer bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

johan ·

Dit is wat gebeur as jy verkeerd gestem het ,trek volgende keer jou kruis by die regte party vir mense wat soos jy dink en doen.

Daan Erasmus ·

Johan kan jy vir ons vertel waar die mense vir wie jy gestem het iets doen. Onthou praat tel nie as DOEN nie.

Cherokee ·

Laat ek jou vertel Daan Erasmus, hoeveel keer praat geld as doen. Toe dit onlangs in die parlement ter sprake was om gevangenes harde arbeid te laat doen, het die DA se skadu minister van korrektiewe dienste, Glynnis Breytenbach, daarteen kapsie gemaak aangesien dit, volgens die DA, gevangenes se ‘regte benadeel’. Dit was praat wat gegeld het as doen, want die DA het verhoed dat langtermyn gevangenes harde arbeid verrig.

Gaitsigubib ·

Daan mens moet seker ook lig loop vir die partye wat dinge beloof en dan die teenoorgestelde doen. Jou party het na 1994 (na baie leuns) sommer ‘n koalisie met die ANC gevorm. Hou maar jou leiers dop, hulle sal dit weer doen.

Chris ·

Die lot van munisipaliteite landwyd…stel onbevoegtes aan, terwyl kundiges nie gereken word nie. Alles gaan oor regstellende aksie en geen meriete aanstellings is betrokke nie. Blatante onprofessionele handeling aan die orde van die dag.

Penellope Jones ·

Dit lyk (amper) asof die ANC iets wil wegsteek en dan intimiderend maar kinderagtig optree……

Riaan ·

Pateties. Tyd dat ons as inwoners maar dienste oorneem en munisipale amptenare uit die dorp verban.

Verstom ·

Al die dorpe en stede wat water uit die Visrivier ontvang, aan die onderkant van Cradock, moet weet wat aangaan. Selfs besproeiingsboere se vrugte en groente word met hierdie gemors besproei en die beeste en skape drink ook die water. Hoe pateties het vooruitgang en al ons tegnologie ons nie in die steek gelaat, met mense wat geen idee het hoe om n munisipaliteit te bestuur nie!

JohanR ·

Dis ANC, en ALLES wat die ANC na kyk, en aanraak val immekaar. Waaneer skryf iemand die boek “Hoe om ‘n land in 40 jaar te vernietig”! Ek reken by 2034 is SA ‘n woestyn op alle vlakke!

Basson ·

Ek dink dis tyd dat privaat maatskappye die riool verwerking oorvat en iets daarmee doen. Dis ten minste iets werd en kan darem seker vir bemesting aangewend word. Dit kan ook paar man werk gee. Kan dalk goedkoper produk wees as om kunsmis te koop. Dalk is ek verkeerd. Enige voorstelle is welkom anders werwerk ek ma my eie riool en laat die vrugtebome blom.

Capie ·

Prifate maatskapy sal natuurlik BBBBBEEEEEEE moet wees en dit sal seker aan die burgemeester se vrou behoot en ‘n klomp geld betaal word en niks gedoen word nie.

Hans ·

Vertrou daar is n klagte is gelê by polisie,die Lur en die tersaaklike portefulje komitee en by Minister Sisulu.

PJC ·

Hans die polisie was teenwoordig toe die ou toegesluit is so ek weet nie of hy maklik sy klag aanvaar gaan kry. Nou verstaan ń mens ook hoekom daar helder oordag op polisielede op straat geskiet word deur misdadigers.

Jannie van Niekerk ·

Ramaphosa sal sorg dat die ANC nie teen daardie beamte optree nie

Julie Jansen van Rensburg ·

A-N-C- = AFRICAN NATIONAL CORRUPTION……

Kielie ·

Sies!! Daarom vertrou ek nie wat hul sê dat drinkwater veilig is – ek koop liewer Water.

FJB ·

Hoekom kan staatsamptenare nie self ooglopende foute of probleme identifiseer en soek na die oorsaak wat teen opgetree of herstel. Plaas die regte persoon in beheer om ‘n verskil te maak in elke funksie van ‘n departement. Ons kan nie ‘n “voertuig” ry tot die wiele seepglad is en dan onder ‘n boom los om te vergaan nie. Doen onderhoud betyds dan kan die “voertuig” steeds benut word….

Pampoen ·

Mense koop water. Nou waar kom daardie water vandaan anders as uit dieselfde pype as die kraan water. Dit word wel gesuiwer maar soveel liters deur dieselfde suiweraar dat ek wonder hoeveel kieme word wel uitgesuiwer. Kook liewers jou water en suiwer dit dan self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.