DA maak alternatiewe mediumtermyn-begrotingsraamwerk bekend

Dion George van die DA. (Foto: X)

Groot hervormings is nodig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie om te herstel.

Die DA het daarom Maandag in aanloop tot Enoch Godongwana, minister van finansies, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) ʼn alternatiewe begroting voorgelê.

Die opposisieparty se MTBR is geanker in vyf kernbeleidsprioriteite.

Dit sluit in die vestiging van die grondslag vir volhoubare ekonomiese groei (wat werk skep), die herlewing van die elektrisiteitsektor om voortdurende kragonderbrekings te pak, die bereiking van fiskale stabiliteit deur beheerde staatsuitgawes en skuldvermindering, die beskerming van kwesbare Suid-Afrikaners en die versterking van instellings getaak om korrupsie uit te roei.

Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die party stel innoverende oplossings voor om buitelandse kapitaal te lok, binnelandse besparing aan te moedig, staatsbeheerde entiteite te laat herleef, verbrokkelende infrastruktuur reg te stel, arbeidsmarkdeelname te verbeter en die uitbreiding van die klein en groot sakesektor te fasiliteer.

“Suid-Afrika het regdeur 2023 ongekende kragonderbrekings beleef. Die onstabiliteit van kragvoorsiening tesame met ʼn wisselvallige politieke klimaat het ʼn erg nadelige uitwerking op die vooruitgang van Suid-Afrika gehad. Die regering het deur middel van sy monopolie oor die energiesektor elke Suid-Afrikaner, met die uitsondering van kabinetslede, onderwerp aan ʼn uitbuitende energieregime wat beheerde stroomonderbrekings na goeddunke afdwing en ekonomiese groei onderdruk.”

George sê die lewering van volhoubare energievoorsiening sal versnel word indien die DA se energiesektorhervormings ingestel word.

Die opposisieparty herhaal daarom nou sy oproep vir die ontbondeling van Eskom en die oopstel van die energiesektor vir onafhanklike kragprodusente.

Die party stel ook voor dat Eskom die private sektor se hulp inroep.

Wat die bereiking van fiskale stabiliteit betref, stel die DA ʼn raamwerk van fiskale omsigtigheid voor wat die bereiking van die primêre begrotingsurplus, wat in Februarie aangekondig is, prioritiseer.

“Ons fokus lê terselfdertyd die grondslag vir ekonomiese uitbreiding en werkskepping,” sê George.

Volgens hom sal die DA se ekonomiese beleid, wanneer dit ingestel word, die stabilisering van nasionale skuld versnel en fiskale konsolidasie bewerkstellig. “Dit kan slegs bereik word deur robuuste ekonomiese groei te kataliseer en te kweek wat die verwagtinge onder die huidige administrasie oortref,” sê George.

Die opposisieparty se alternatiewe MTBR sit verskeie voorstelle vir belastingverligting uiteen. Luidens die raamwerk behoort brandstofbelasting en -heffings gegewe die huidige lewenskostekrisis geweier te word en moet meer goedere vrygestel word van belasting op toegevoegde waarde (BTW).

“Ons ekonomie is in ernstige moeilikheid, ʼn direkte gevolg van die regering se mislukte ekonomiese beleid,” sê George.

“Ekonomiese groei word gestrem deur ʼn lastige regulatoriese omgewing, ʼn gebrekkige vaardigheidsbasis en lae arbeidsmarkdeelnamekoerse, ʼn krimpende belastingbasis, oorbelaste openbare en private infrastruktuur, dalende vaste investering en kommerwekkend hoë vlakke van misdaad.

“Gegewe hierdie situasie is dit noodsaaklik dat onmiddellike en beslissende stappe gedoen word,” meen George.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Goldy ·

Watookal die DA doen dra geen meer water nie, julle het die weskaapse onafhanklikheidsreferendum van hand gewys uit magsbeheptheid.

Republikein in die Wes Kaap ·

Werk eerder vir Wes-Kaap onafhanklikheid dok. Jy en ander DA kaders sink saam met SAS Mzanizibabwe.

gpsa ·

Ek sal ANC stem voor ek weer vir DA in Gauteng stem. Nog nooit het ons in so ‘n rommelhoop gewoon en om slag gate gery soos onder die DA nie. Hulle is onder aan my lys. Dink vir eerste keer sal ek maar nie gaan stem nie, want wat maak dit verskil.

Heinrich ·

Kan nie met jou saamstem nie gpsa. Enige oposisieparty verdoen ‘n stem om meer gewig teen die ANC te gooi. Indien jy nie stem nie het jy geen reg om enigsins politieke kommentaar te lewer nie want dan is jy deel van die probleem.

gpsa ·

Heinrich ek redeneer nes jy al vir jare lank en het nog nooit ‘n verkiesing nie gestem nie. Op die stadium dink ek ons het die DA ‘n geleentheid gegee om situasie in Gauteng te verbeter, maar ons is 10 keer slegter af. Waar laat dit ‘n mens wat die stembus betref?

Republikein in die Wes Kaap ·

gpsa is geregtig om sy mening te lug, stem of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.