DA mag “gewysigde” advertensie indien

Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Die SAUK het die Demokratiese Alliansie Vrydag versoek om ʼn gewysigde weergawe van sy “Ahisafani”-verkiesingsadvertensie in te dien nadat die oorspronklike weergawe onttrek is.

“Ons het die DA in kennis gestel dat hulle ʼn gewysigde weergawe van die advertensie kan indien,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, aan Sapa gesê. Die openbare uitsaaier het die party vroeër in kennis gestel dat sy verkiesingsadvertensie nie meer uitgesaai gaan word nie.

Tian Olivier, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die SAUK, het aan die party gesê die advertensie kan nie meer oor die radio of televisie uitgesaai word nie, aangesien dit geweld aanhits. “Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) se regulasie oor politieke advertensie bepaal duidelik dat geweld nie aangehits mag word nie,” het Olivier in die brief gesê. “Na ons mening is die verwysing in die advertensie, dat die polisie ons mense vermoor, rede tot aanhitsing teen die polisiediens.”

Mmusi Maimane, woordvoerder en premierskandidaat van die DA in Gauteng, verwys in die advertensie na die huidige stand van die land. Klik hier om die advertensie te sien. Die advertensie is reeds meer as 60 000 keer op YouTube gekyk.

Olivier voeg by die gedragskode van die verkiesing sluit ʼn klousule in wat die uitsaai van valse inligting oor ander kandidate of partye verhoed. “Ons glo dit is ook van toepassing op inligting wat nog nie in die hof getoets en bevestig is nie, soos die aantygings in die advertensie oor die Nkandla-saak,” het Olivier gesê.

Volgens Olivier verbied die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde (GRS) ook dat ʼn ander produk aangeval mag word om jou eie produk te bevorder. Hy voeg by alhoewel die GRS nie beheer het oor politieke advertensies tydens ʼn verkiesingsperiode nie, glo hy dat Okosa wel regsbevoegdheid het en dieselfde beginsel van toepassing sal wees. “Die SAUK sal nie persoonlike aanvalle op enige partylid of leier deur enige ander party duld nie,” het hy gesê. “Ons is nie besorg oor generiese uitlatings wat verband hou met sake soos korrupsie of dienslewering nie, maar ons glo nie dit is reg om die skuldlas van dié kwessies op enige spesifieke persoon te plaas nie.”

Maimane het die SAUK van sensuur beskuldig en gesê die redes is skyn en onwettig. Hy het die SAUK daarvan beskuldig dat hy pres. Jacob Zuma van openbare aanspreeklikheid beskerm oor die Nkandla-skandaal. “Die SAUK het geswig onder druk van die ANC. Ons weet die ANC is bekommerd oor die positiewe reaksie wat die advertensie genereer het,” het Maimane gesê. Die DA sal glo die “sensuur” beveg en Okosa nader.

Kganyago het gesê die advertensie is aanvanklik nie bevraagteken nie, omdat hulle dit op sigwaarde aanvaar het. “Ons peuter nie aan advertensies wat inkom nie,” het hy gesê. “Ons het dit op sigwaarde aanvaar, maar tydens ons gereelde kontrole wanneer dit uitgesaai word, het ons die probleme besef.” Hy sê die advertensie was een van vier wat die party ingedien het. Die ander drie sal steeds uitgesaai word. -SAPA

Lees ook:
SAUK onttrek DA se TV-advertensie
DA kap ANC met nuwe advertensie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.