DA meen nuwe Prasa-hoof is onbevoeg

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag gesê Sibusiso Sithole is nie bevoeg om die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) reg te ruk nie.

Maroela Media het vroeër berig Prasa het aangekondig Sibusiso Sithole is die agentskap se nuwe uitvoerende hoof vir ʼn tydperk van 12 maande. Die 12 maande is geldig vanaf 1 Junie 2018. Sithole was voorheen die stadsbestuurder van die eThekwini-munisipaliteit (Durban) en neem die leisels oor by Cromet Molepo, wat sedert Desember 2017 in dié posisie waarneem.

Volgens Prasa is Sithole, ʼn ommeswaai-strateeg en beleidspesialis, aangestel om stabiliteit en sekerheid na Prasa te bring.

Manny de Freitas, woordvoerder van die DA, het egter gesê die minister van vervoer, Blade Nzimande, het, met Sithole se aanstelling, Prasa se herlewing en omkeerstrategie gekortwiek nog voor dit begin het, en verwys na Sithole se “twyfelagtige verlede en beperkte kennis van die vervoerbedryf”.

“Die DA het herhaaldelik versoek dat die aanstellingsproses vir hoofde van staatsinstansies hersien moet word, aangesien die huidige stelsel, waar die ministers hul eie diskresie gebruik, nie aanspreeklikheid inhou vir die aanstelling van ampsdraers nie,” het De Freitas gesê. “Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat die minister dit goeddink om ʼn individu, wat nie eens sy eie finansies kan bestuur nie, aan te stel by ʼn organisasie soos Prasa, wat gebuk gaan onder slegte skuld en wanbestuur.”

De Freitas het gesê Sithole het self ongeveer R2 miljoen in slegte skuld, het versuim om sy inkomstebelasting te betaal en was traag om op te tree teen maatskappye wat by tenderbedrog betrokke was toe hy die stadsbestuurder van eThekwini was.

“Mnr. Sithole se versuim om doeltreffend die sake van die stad van eThekwini te bedryf, laat die vraag ontstaan of hy bekwaam is om Prasa se probleme te hanteer.”

Prasa het Dinsdag weer versuim om hul jaarlikse verslag in die parlement in te dien, wat al sedert Augustus verlede jaar uitstaande is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ray ·

Ek betwyfel al op die stadium die bevoegdheid van die DA om hulle eie interne probleme op te los. Miskien moet hulle daarop fokus. Dan kan hulle weer professionele opinies gee

1+1 ·

Nog nerens in die wereld het kwantiteit ‘n sinvolle verandering gemaak nie. Dit was altyd kwaliteit wat die deurslag gegee het.

lewies ·

Die DA is moedeloos geveg teen die gewetenloses wat geen integriteit openbaar nie

Boerseun ·

Rede hoekom hulle moedeloos is hulle glo in multikultuur state, wat wereld wyd begin wys dit werk nie. wat is daai se ding van jou kop aanhoudend teen die muur stamp met die hoop op n ander uitkoms .

Louis le Royx ·

Hy en sy gabbas het die Ethikweni munisipaliteit in die grobd in bestuur, nou word daar vir hom dankie gesê.

Koos de Meyer. ·

Wie is regtig bevoeg. Geld wat stom is maak reguit wat kom is. Die geld val mos uit die lug. Ons kyk mos maar na mekaar. Bevoeg of onbevoeg, die belasting betaler sorg mos so wat gee hulle om. Onbevoeg, korub, en wat nie nog alles nie. Ons gaan net meer en meer in die afgrond in.

Theresa B ·

Sithole is nie al een wat onbevoeg is nie………………………………

Jurianes Prins ·

Sithole en sy hele span van PRASA vaar nog slegter as Metro Rail wie se performance ook swak faster by Transnet. Onbevoeg om probleme enigsins op te los en mors van geld van sy customers. Hoop daar word drasties iets gedoen voordat die hele trein stelsel in die stort, as dit nie already die geval is nie. Hulls kan vergelyk word met die Guptas, vol van fraud en corruption.

Colleen ·

En dit gaan seker ook ‘n paar miljoen pensioen kry wanneer die kontrak van 12 maande verstryk. Klink na nog ‘n Brian Molefe geval. Ruk kastig als reg, maar los alles in ‘n groter gemors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.