DA moet nog besluit oor De Lille-mosie

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Die toekoms van die DA se twee ystervroue, Helen Zille en Patricia de Lille, bly onseker ná gemengde seine oor die aard van hul rol in die party.

Wat vir baie buitestanders na ’n groeiende deurmekaarspul lyk, het hierdie week ’n kinkel bygekry met verdere optrede deur De Lille se teenstanders, en ’n nuwe magsposisie vir Zille.

Die een wie se posisie tans die meeste onseker lyk, is De Lille, burgemeester van Kaapstad, teen wie twee DA-raadslede, Marian Nieuwoudt en Brenda Hansen, ’n mosie van wantroue ingedien het.

Hiervoor is ’n taamlik ingewikkelde proses nodig kragtens DA-reëls (watter reëls ook al geld nadat die Kaapse hooggeregshof onlangs ’n klomp interne DA-beslissings ongedaan gemaak het), en dit is nie duidelik of die twee raadslede die korrekte reëls gevolg het nie.

Maar of hulle nou die reëls nagekom het of nie (en of dit nou die ou reëls of die nuwe reëls is wat geld), die instemming van die DA se federale dagbestuur is nodig voordat enige mosie van wantroue gestel kan word. En daar blyk taamlike meningsverskil (of dalk leuenagtigheid) te wees oor of so ’n besluit wel deur die federale dagbestuur geneem is.

Die Kaapse stadsraadslid JP Smith, De Lille se mees uitgesproke teenstander, het gister aan die Kaapse dagblad Die Burger gesê die mosie is ingedien en sal Donderdag tydens die stadsraadsvergadering voortgaan.

Maar sowel James Selfe, voorsitter van die DA se federale dagbestuur, as Solly Malatsi, die party se nasionale woordvoerder, het vanmiddag gesê die federale dagbestuur het nog nie besluit of die mosie toegelaat sal word kragtens DA-reëls nie.

Daar is redelike druk op die DA-leiers om tot ’n besluit te kom, siende dat die mosie reeds Donderdag dien.

Intussen het Zille, wat sedert haar twiets oor die relatiewe voordele van kolonialisme taamlik onder die radar verdwyn het, ’n terugkeer tot ’n magsposisie binne die DA gemaak toe sy aangestel is op ’n paneel wat voornemende DA-parlementslede moet keur.

Dit is ten spyte daarvan dat die DA-leier, Mmusi Maimane, slegs ’n maand gelede aan die Sunday Times gesê het dit sou beter gewees het as Zille reeds bedank het.

Selfe het aan Maroela Media gesê die mag van Zille se posisie moenie oorspeel word nie. “Sy is slegs een lid van die paneel. Paneellede bepunt voornemende kandidate en verduidelik dan hul bepunting, wat onderling bespreek word voor ’n finale bepunting bereik word.”

Malatsi het by navraag gesê die gebeure rondom De Lille en Zille is nie ’n aanduiding van chaos in die DA nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theo ·

DA DA DA here we go again DA DA DA n regte ou afgesaagde mosie van wantroue liedjie hoe pateties is die spul nou alweer.

Anoniem ·

Ek wens die DA wil nou hulle fete los omtrent die twee vrouens. Dit is deur hulle wat die DA bestaansreg gekry het maar nou wil julle dit afbreek. Gaan doen julle werk in die veld om kiesers te wen en nie soos die ANC om kiesers te verloor nie. Die grond aangeleentheid is meer werd, nie om te baklei wie moet gaan en wie moet bly nie. Julle is almal kinderagtig om in die publiek te baklei sodat ander partye kan sien daar is verdeeldheid in die DA kamp. Vusie Manimani hou op om alles te kritiseer as jy enige Christelike waardes het en bou die land op goeie waardes en nie op jou waardes nie. ASB.

karen ·

Die situasie rondom De Lille en Zille is nie aanduiding van chaos binne die DA nie – ja right!
Die situasie is die cherry op die koek

Inus Bester ·

Daar word klaarblyklik nie om dowe neute oor die DA gekorswel as die Deurmekaar Alliansie nie! Ek bly maar ver weg van die lotjie af!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.