DA monitor bystand aan gestrande SA’ners

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê hy sal die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se ondersteuning aan gestrande Suid-Afrikaners oorsee monitor.

Rory Jubber van die DA het gesê tussen 3 750 en 4 250 Suid-Afrikaners is reeds tydens die Covid-19-pandemie gerepatrieer, maar duisende is steeds gestrand en versoek hulp van Dirco.

“Sommige van die persone wat steeds gestrand bly het geen ander ondersteuning nie, nêrens om te bly nie en het ʼn tekort aan geld, kos en medikasie. Hulle is in lande waar hulle nie die taal ken nie, en nie ondersteuning of inligting kry nie,” het Jubber gesê.

Hy het bygevoeg hul repatriasie word bemoeilik deur lugvervoermaatreëls wat die departement van vervoer ingestel het en onsekerheid oor die beskikbaarheid van lugvervoer.

“Hulle kry baie min ondersteuning van talle Suid-Afrikaanse diplomatieke sendings wat deur Dirco bestuur word – sommige is absoluut onsimpatiek teenoor hul benarde situasie. Volgens ʼn koerantberig het ʼn diplomaat van Dirco glo aan ʼn Suid-Afrikaner gesê om ‘homself reg te ruk en nie so ʼn tjankbalie te wees nie’.”

Mergan Chetty, die DA se adjunk-skaduminister vir internasionale betrekkinge, het deur ʼn geskrewe parlementêre reaksie bepaal dat Dirco jaarliks gemiddeld R28 231 000 aan elke Suid-Afrikaanse buitelandse sending spandeer. Die top-10 sendings is tussen R65 337 000 aan die sending in Luanda, Angola, tot die duurste sending in Genève, Switserland teen R102 815 000.

“Dirco moet dié begroting gebruik in ʼn kritieke tyd wanneer gestrande Suid-Afrikaners die meeste hulp van buitelandse sendings benodig. Hierdie burgers het betaal vir dienslewering in hul tyd van nood en Dirco moet hulle help. Hulle moet nie sleggesê of tjankbalies genoem word nie,” het Jubber bygevoeg.

Die DA het reeds inligting versamel van persone wat reeds gerepatrieer is en die behandeling wat hulle van Suid-Afrikaanse sendings en individuele diplomate oorsee ontvang het, en van diegene wat steeds sukkel om terug te keer huis toe. “Dit sal binnekort openbaar gemaak word. Intussen monitor die DA die behandeling wat gestrande Suid-Afrikaners van Dirco ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

Ek wens die DA will hierdie tipe inisiatiewe neem as dit kom by die diskriminerende wetgewing en diskriminasie teen minderhede in SA.

Sarel ·

1. Waar was die DA met die stryd teen die vieslike en ongesonde toestande waarin mense onder Kwarantyn geplaas was.
2. Wasr staan die DA op die jongste BEE stryd, hullecondersteun dit mos.
3. Keur die DA die besluite goed Ja of Nee

Sarel ·

Hierdie Suid-Afrikaners wat so in hulle duisende in die Buiteland gered moet word ? Ek wil net graag weet
1. Was die mense vakansiegangers en indien wrl.hoekom.het hulle nie betyds terug gekeer nie.
2. Was dit mense wat in die Buiteland gewerk het…dan hoekom nou tetug keer na ‘n land wat Ekonomies in die as is.
Ek vra maar net want soos so baie dinge rondom die Korona Virus is my kop te plat om te verstaan

Maddi ·

My dogter is gestrand sonder werk in Cusco, Peru. Sy het gehoop om engelse onderrig aan te bied nadat sy haar TEFL kursus in Cusco voltooi het. Ek voel sy is daar omdat ons na 5 onderskeidings in matriek nie ‘n beurs kon kry vir haar om verder te studeer nie. Gesamentlik verdien ek en my man R300 te veel om aansoek te kan doen vir ‘n staatsbeurs waarvoor ons in elk geval aansoek gedoen het en geen kommunikasie ontvang het nie. Sy is blank en werk is beperk, ons het probeer. Haar toekoms hier lyk donker want ons het nie familie besigheid waarvan sy kan deel word nie. Ons kan nie emigreer nie ons is te oud en arm daarvoor. Ons wou net vir ons kind ‘n toekoms kry. Ek glo so is daar baie ander wat ook probeer, noodgedrewe. Ek stem saam met Sarel en Michael 1, waar is die DA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.