DA-mosie teen OB nou ‘meer gefokus’

busisiwe-mkhwebane

Busi Mkhwebane. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die DA het sy aanvanklike mosie om die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, teruggetrek en vervang met ʼn meer gefokusde mosie. Dit, glo die DA, versterk hul kanse vir die mosie om te slaag.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het ingestem dat die nuwe mosie wat die DA ingedien het kragtens die nuwe parlementêre reëls geldig is.

Dit beteken ʼn paneel kundiges moet opnuut deur die 14 politieke partye in die parlement saamgestel word om te kyk of daar op die oog af (prima facie) ʼn sterk saak uit te maak is dat Mkhwebane van haar amp onthef moet word.

DA-bronne het aan Maroela Media verduidelik dat die nuwe mosie veral gemotiveer is deur Mkhwebane se hofoptrede in die Wes-Kaapse hooggeregshof om die parlementêre proses teen haar te keer.

Eerder as om die mosie teen haar oor ʼn wye boeg te probeer gooi, is die nuwe mosie langer en terselfdertyd enger. Die mosie is nou 11 bladsye lank met 6 000 bladsye ondersteunende getuienis, maar dit fokus op reeds bestaande hofbevindings oor vier kwessies, met bykomende inligting oor een van daardie vier kwessies.

Die drie kwessies waaroor hofbevindings rakende Mkhwebane se ontoereikendheid vasstaan, is haar bevindings oor die mandaat van die Reserwebank, die Vrede-suiwelprojek en haar bevindings in die Absa/Bankorp-sage.

Omdat albei deur die Konstitusionele Hof beslis is, staan dit vas en kan dit nie geappelleer word nie. Mkhwebane sou dit ook nie in ʼn hofaansoek kon bestry nie.

Die vierde pilaar waarop die DA-mosie nou rus, is die skriftelike getuienis van ʼn rits werknemers van die Openbare Beskermer oor Mkhwebane se onbehoorlike inmenging in ondersoeke (waaronder na die Vrede-suiwelprojek) en ander wangedrag.

Die aanstel van die ondersoekpaneel behoort na verwagting binne die volgende twee weke voltooi te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Sy is ‘aparatchnik’ nommer een in die Stalingrad verset van die Staat’stropers’ teen hulle onafwendbare lot …. opname in die ‘oranje oorpak brigade’!

… van agter die ‘ystergordyn’ kom sy!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.