DA na IMF oor reddingsboei vir SAL

(Argieffoto: ANA)

Die DA het aan die uitvoerende hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Kristalina Georgieva, geskryf om die regering se voorneme om die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ʼn verdere reddingsboei van R10,5 miljard te gee, onder haar aandag te bring.

Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die besluit is teenstrydig met die onderneming wat die regering gegee het toe hy die IMF vir ʼn lening van $4,3 miljard gevra het.

Die DA vra die IMF nou om sy finansieringsvereiste vir “volle deursigtigheid en aanspreeklikheid” in werking te stel.

Hill-Lewis sê die DA het die minister van finansies, Tito Mboweni, se voorneme om die “immorele reddingsboei” aan die staatslugdiens te gee aan die IMF genoem en gevra dat die Suid-Afrikaanse regering inligting bekend maak oor hoe hy die noodfinansiering gaan bestee.

Die DA sê die minister het dit duidelik gestel dat die IMF se geld gebruik gaan word vir gesondheid- en ander belangrike dienste, die balans van betalingsprobleme wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, die beskerming van kwesbare burgers, ekonomiese hervorming, werkskepping en die stabilisering van staatskuld.

“Nou lyk dit waarskynlik dat die SAL-reddingsboei gefinansier gaan word deur Covid-19-stimulusbesteding wat bestem was vir openbare werkskeppingsprogramme en spoorinfrastruktuur,” sê Hill-Lewis.

Die DA voer aan dit is ʼn afwyking van die voorneme wat Mboweni gegee het en ondermyn die geloofwaardigheid van die regering se beloftes oor ekonomiese herstel.

SAL se sakereddingspraktisyns het einde verlede maand aangekondig dat hulle besluit het om alle bedrywighede van die redery dadelik te staak en dat hulle besig is met ʼn proses om die lugdiens onder bewaring en instandhouding te plaas tot besprekings oor finansiering voltooi is.

Die lugdiens is in Desember in sakeredding geplaas en benodig meer as R10 miljard om gered te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Dis reg . Laat hulle sien wat se spul verorberaars die land beheer .

Nico ·

Hoeveel keer moet die SAL nog gehelp word, kan die regering nie sien waarheen die geld gaan nie, stop die reddingsboeie, die gels kan beter gebruik word. Dit is net die swart elite wat voordeel trek.

Cornelius ·

Hoeveel keer nog moet die SAL onder ANC bestuur “gered” word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.