DA nader VN oor onteiening

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het die Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte (VNRMR) skriftelike versoek om te oorweeg om ’n resolusie aan te neem teen die onteiening van grond sonder vergoeding in Suid-Afrika. Die party versoek die Raad om ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering te doen om sy menseregteverpligtinge ingevolge die internasionale reg na te kom deur nie prosesse na te jaag wat sal inbreuk maak op Suid-Afrikaners se eiendomsreg nie.

“Ons voorleggings aan die Raad wys dat die Grondwet 18de Wysigingswetsontwerp wat artikel 25 van die Grondwet wil wysig om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak, die grondwetlike regte van burgers om eiendom te besit sal ondermyn en in stryd is met artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte (UVMR),” sê dr Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus.

Artikel 17 van die UVMR erken die reg op eiendom as ’n morele reg. Die artikel bepaal dat:

  1. Elkeen die reg het om eiendom alleen, sowel as in samewerking met ander, te besit; en
  2. Niemand na willekeur van sy eiendom ontneem mag word nie.

“Die VN se goedkeuring van die UVMR het verseker dat dit die basis word waarop gebruiklike internasionale wetgewing oor fundamentele vryhede en menseregte in die VN-handves geformuleer word. Suid-Afrika het die VN-handves onderteken en is dus gebonde aan die bepalings daarvan.”

Die DA se direkte beroep op die VN volg op die party se brief aan die nasionale kabinet verlede week waarin versoek is dat die tussentydse parlementêre proses om onteiening sonder vergoeding deur te druk, in die openbaar verwerp word.

“Ons het weer daarop gewys dat die wetsontwerp nadelig sal wees vir die oppergesag van die reg, die landbousektor, direkte buitelandse beleggings en die langtermyn-volhoubaarheid van die ekonomie. Ons het steeds geen antwoord gekry nie.”

Die DA-voorleggings aan die VNRMR maak dit duidelik dat Suid-Afrika ’n opregte en deursigtige program vir grondhervorming nodig het om die grondeienaarskappatrone in die land aan te spreek. “Die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet sal egter niks doen om geregtigheid te bied aan landlose Suid-Afrikaners nie.”

Wat Suid-Afrika benodig, is ’n pragmatiese en rasionele benadering wat binne die perke van die huidige grondwetlike bepalings oor grondhervorming sal werk, voeg Lotriet by. “Nasionalisering van grond en die uitsluiting van die howe van die uitspraak oor grondonteiening, soos voorgestel deur die ANC en die EFF, sal die oppergesag van die reg ondermyn en Suid-Afrika as ’n ekonomiese woestyn laat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Sterkte DA. Onteiening is deel van die VN se Agenda 2030 en Davos. Die ANC is die regte pionne om dit in Suid Afrika as proef te begin. Beste is SA keer terug na God om die onheil te stop. Deuteronium is vol daarvan.

Pieter ·

Wat moet die VN doen tyd dat ons standpunt in neem. Ander lande gaan ons nie help nie. Een kommunis staan nie teen n ander kommunis op nie.

Belinda ·

daarom mense. verkoop jou eiendom en huur net. Mense gaan so baie geld verloor. Gaan miskien nog n siviele oorlog veroorsaak. Ek huur eerder en ek weet die geld wat ek aan eiendom spandeer het is in MY sak en nie die ANC oftewel die regering sn… As hulle jou wil uitsit, dan is dit fine, want ek verloor miskien net n maand se rent in plaas van honderde duisende rande… dis my redinasie.

Dirk Mostert ·

Die ANC verwag seker buitelandse beleggings in ‘n land waar eiendomsregte vertrap word.

annie ·

Mens moet positief wees. Nou met BLM aan die kook, en die VO se menseregte ligaam volstoom besig om die wèreld vas te vat om Afrika se mense te vergoed vir die wandade teen hulle gepleeg, is dit net reg dat antie Zille (en haar mammie wat so hard meegehelp het met die plan) se party, die saak verder voer presies op die regte tyd vir aksie. Gaan smeek gerus by die vriende-van-Afrikaners. Waar kan ek geld inbetaal? Sè net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.